Local newsNews

Beeldgroep geskend oor metro se gebrek aan veiligheid – FAK

Kultuurbewaarders is woedend oor moontlike pligversaking deur die metro wat dalk kon lei tot die vandalisering van die beeldegroep aan die voete van die Paul Krugerstandbeeld op Kerkplein.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) wil die vier beelde aan die voet van die Paul Kruger-standbeeld, die Boerewagte, van die beeldegroep verwyder en vervang met replikabeelde van hars.

Die federasie het ’n brief aan die stadsbestuurder van die metro gerig om toestemming te verkry.

Hierdie versoek is gerig nadat die beelde gevandaliseer is ten spyte van die feit dat die beeldegroep en beeld van Kruger agter ’n stewige sekuriteitsheining met ’n hek toegesluit is en ’n veiligheidswag van die metro glo die beeldegroep bewaak.

Twee geweerkolwe, twee geweerlope en een geweerband is van dié burgerbeelde afgesaag.

Kerkplein opsigself behoort aan die metro en is ook verantwoordelik vir die veiligheid van die beeldegroep.

Die kolwe van die gewere van die beeldegroep aan die voet van die beeld van Paul Kruger op Kerkplein is gevandaliseer en afgesaag.

Gerhard Pretorius, FAK-woordvoerder, sê dat ’n klagte van saakbeskadiging is reeds deur die organisasie aanhangig gemaak by die polisie.

Indien toestemming vir die verwydering en vervanging verkry word, beoog die organisasie om die oorspronklike en herstelde beelde by die Kruger-gallery by die Voortrekkermonument te vestig. Die replikabeelde sal gemaak word deur 3D-skanderings.

“Dis goedkoper om beelde te vervang as om dit keer op keer reg te maak as gevolg van vandalisme,” sê Pretorius.

Vir die FAK is dit ’n uitdaging om nie self iets aan die voorkoming van vandalisme of veiligheid van die beelde te kan doen nie.

“Ons hande is gebind oor die sekuriteit rondom die erfenisskatte want die beeldegroep behoort aan die metro,” verduidelik Pretorius.

“Dit is egter ’n werklikheid dat iets inderhaas aan die veiligheid daarvan gedoen moet word. Ons verwag ’n deeglike ondersoek na hoe hierdie sekuriteitsbreuk in ’n ruimte van historiese betekenis kon plaasvind.”

Leonie Marais, erfenishulpbronspesialis van die federasie, meen die skade moes onlangs aan die beelde aangerig geword het.

Sy is diep teleurgesteld oor hierdie vandalisme.

“Ek beskou dit as growwe nalatigheid van die Tshwane-metroraad dat hulle nie die stad se kultuurhulpbronne kan beskerm nie,” sê Marais.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die federasie, meen dat hierdie voorval neerkom op kriminele vernietiging van erfenisskatte.

“Hierdie vier beelde is so deel van Pretoria se geskiedenis en landskap. Die skade wat aan hierdie beelde gerig is, is vanuit ’n kunsoogpunt onberekenbaar. As mens gaan kyk na die kriminele vernietiging van kuns en geskiedenis vandag, is hierdie net nog ’n voorbeeld,” sê Langner.

“Ons is van mening dat die Tshwane-metroraad hulle beskermingsplig versaak het. Ons is egter bereid om saam met die metro te besin oor watter wyse dit moontlik is om hierdie beelde regtig veilig te kan bewaar. Dit gebeur steeds ondanks die hekke en die sekuriteitswag. Die federasie sal graag in gesprek wil tree met die munisipaliteit oor die versorging en bewaring van hierdie beeldegroep,” sê hy.

Die metro is genader om kommentaar maar ter perse, is geen ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button