Ondersoeker: Anika se pa is nie ‘n verdagte nie
Die vermoorde Anika Smit se pa se gesondheid ly onder die onsekerheid rondom haar dood en hy soek nou na 'n finale uitkoms daarrondom.
Anika Smit, ’n 17-jarige leerling van Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria, is op 10 Maart 2010 vermoor en die saak bly steeds onopgelos.
Nou 14 jaar later het haar pa, Johan Smit, die bekende ondersoeker Mike Bolhuis gevra om by die ondersoek betrokke te raak.
Die geregtelike ondersoek na Smit se moord het op 30 Oktober in die Pretoria Magistraathof afgeskop.
Bolhuis het aan Rekord gesê dat Smit na jare besluit het om hom te nader op 16 Oktober as ’n finale oplossing en moontlikheid om weer die saak en die omstandighede daarrondom te kyk en te herondersoek.
“Smit het ons ook gevra om hom te help om sy onskuld te bewys want hy word aanhoudend geïdentifiseer as die moontlike moordenaar en hy het basies nou eenvoudig genoeg gehad,” benadruk Bolhuis.

Hy bevestig dat hy en sy ondersoekspan wel destyds van die begin van die moordondersoek betrokke was en as ondersoekspan met ondersteuning gehelp het.
“Nou is ons egter in beheer gestel deur hom. Maar ons sal niemand wegwys wat wil saamwerk nie en ons wil niemand affronteer nie. Die idee is om almal te kry om saam te werk. Twee koppe is beter as een,” wys Bolhuis uit.
Hy verduidelik dat Smit ook aan hom uitgewys het dat sy gesondheid weens die spanning ly.
“Dis nou tyd vir hom dat ’n behoorlike ondersoek gedoen word. Na verskeie ondervragingsessies deur ons kundiges asook ’n poligrafiese toets op 25 Oktober, is dit wel my mening dat hy nie ’n verdagte is nie. Ons het hom uitgeskakel,” sê Bolhuis.
Hy benadruk dat hy en sy span saam met die owerhede werk.
“Veral in hierdie spesifieke saak, maak eendrag mag. Ek vra dat ons een gemeenskaplike doel voor die oog hou en dis om hierdie moord op te los. Ons verskille onder mekaar kan ons nie hiervan laat afwyk nie,” glo Bolhuis.
Hy wil so gou as moontlik sien wat is reg gedoen in vorige ondersoeke en wat is moontlik verkeerd gedoen.
“Ook wat glad nie gedoen is nie. Ons wil enige korrupsie en nalatigheid of iets wat skeefgeloop het, in ag neem en identifiseer,” sê Bolhuis. “Ek is onder die indruk daar is meer as een moordenaar.”
Hy het ’n beroep op die publiek gedoen om hom en die ondersoekspan met moontlike inligting te nader.
Hy het ook uitgewys dat ervaring hom geleer het dat nie almal gemaklik is om met ’n polisie-ondersoekbeampte of landdros te gesels jie en hy wil graag aan sulke mense die geleentheid bied om met sy ondersoekers te kom praat.
“Ons gee ons woord ons sal diegene wat na vore kom akkommodeer en die inligting verwerk en aan die owerhede deurgee,” verseker hy.
“Ons moet net almal deurlopend in ag neem hierdie saak is baie oud en baie dinge het verkeerd geloop. Daar is al mense geïntimideer en beïnvloed en mense verkeerdelik behandel. Ons wil dit omdraai,” bevestig hy.

Bolhuis skets die tydlyn van die moordsaak soos volg:
– Op 10 Maart 2010 het Anika vir die dag by die huis gebly aangesien sy siek gevoel het.
– Voor sy vertrek werk toe, het haar pa, Johan, met die plaaslike apteek gereël om medikasie vir Anika in die oggendure by die huis af te lewer.
– Op pad werk toe het Johan by Anika se skool gestop om ’n opdrag af te lewer wat op die dag moes ingedien word; daarna het hy werk toe gery, waar hy gebly het tot aan die einde van sy skof.
– By die huis later het die afleweringsassistent van die apteek nie ’n antwoord gekry terwyl hy probeer het om die medikasie by Anika af te lewer nie.
– Na verskeie pogings om haar aandag te trek, is die assistent weg met die medikasie wat nie
afgelewer is nie.
– Gedurende die oggendure het die buurman sy oprit verlaat op pad om sake in die dorp te doen; hy onthou hoe hy met die Smitte se honde, wat in die voortuin was, gespeel het toe hy sy hek toegemaak het.
– Hy het ook opgemerk dat die voorste veiligheidshek op daardie stadium gesluit was.
– Met sy terugkeer uit die dorp het die buurman opgemerk dat Smit se honde in die agterplaas toegesluit is en dat die voorste veiligheidshek oopgesluit is. Die gebeure het nie agterdog laat ontstaan nie aangesien daar aangeneem is dat ’n vriendin op daardie stadium by Anika gekuier het.
– Omstreeks 12:00 het ’n nabygeleë buurvrou iets wat soos ’n intense gil geklink het van ’n vrou in die nabyheid van haar eie huis gehoor. Sy kon nie op daardie oomblik vasstel presies wat gebeur het of wie skree nie, maar agterna het sy besef dat dit dalk Anika was wat op daardie stadium om hulp geroep het.
– Toe Johan laatmiddag van die werk af tuis aankom, het hy ontdek dat sy honde in die agterplaas toegesluit is en dat die voorste veiligheidshek oopgesluit is. Hy het dit vreemd gevind, aangesien die algemene reël in sy huishouding was dat die veiligheidshek altyd gesluit moet bly.
– Toe hy die huis binnestap, het hy tekens van ’n bakleiery in die leefarea opgemerk. Hy het sy dogter geroep, maar daar was geen reaksie nie.
– In daardie stadium het Anika se slaapkamer binnegegaan en is gekonfronteer met ’n aaklige toneel wat geen ouer ooit behoort te aanskou nie. Sy dogter se lyk is op die slaapkamervloer gevind, en sy is wreed vermoor, seksueel aangerand met ’n voorwerp, en haar liggaam is vermink – haar hande is verwyder.
– ’n Amptelike ondersoek is deur die polisie van stapel gestuur en binne ’n paar maande is ’n verdagte wat aan Anika bekend was, gearresteer. Daar is egter later bevind dat die verdagte ’n alibi vir die dag van die moord gehad het, en sy DNS stem nie ooreen met die DNS wat op die toneel van die misdaad gevind is nie.
– In 2016 het nog ’n manlike verdagte homself aan die polisie oorgegee. Hy het beken dat hy die moord op Anika gepleeg het. Daar is egter bevind dat sy DNS nie ooreenstem met die DNS wat op die misdaadtoneel gevind is nie. Daarna het hy sy bekentenis teruggetrek en verklaar dat hy gedwing is om te bieg deur ’n onbekende egpaar wat hom in ’n klub genader het en sy gesin se veiligheid gedreig het indien hy nie erken hy het Anika vermoor nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
