Rolballegende (99): “Gee my sjokoladekoek, rooi wyn en mooi meisies”
'n Rolballengende het onlangs sy 99ste verjaarsdag met 'n feeswedstryd gevier.
Toe oom Johan “Klasie” Havenga die geilgroen bane van die Lynnwood-rolbalklub op 6 November betree het, en die bal sorgsaam op sy regterhand geweeg het met ’n tegniek wat hy oor die jare verfyn het, was dit ’n groot oomblik vir dié sportlegende.
Die warm somerdag was sy 99ste verjaarsdag en hy was omring met rolbalvriende en geliefdes.
Presies soos wat hy dit wou gehad het.
Want op die rolbalbane was hy op sy gelukkigste as sportman, al het hy ook deur die jare sy hand gewaag aan ander sporte soos rugby, tennis, pluimbal en gholf.
Hy het sy 99-jarige ouderdom op die dag met ’n ryk, donker sjokoladekoek met geurige versiering in die klubhuis gevier tussen sy seuns, familie en rolbalvriende van die Lynnwood-klub.
Sjokoladekoek is immers een van die bestanddele wat hierdie boorling van De Aar, wat sy eerste vyf jaar in hierdie Noord-Kaap dorp deurgebring het, uitsonder as sy resep vir ’n gesonde, fikse en lang lewe.
“Gee my sjokoladekoek, rooi wyn en mooi meisies,” vertel die vrolike platjie vol staaltjies en stories met ’n ondeunde vonkel in sy oog.
Steeds met ’n sterk stem en spitsvondig, het hy en sy rolbalmaats vir die dag die strategie met die feeswedstryd bespreek en in ’n gees van vrolike sportmanskap die spel in die hitte voltooi.

Saam met hom op die baan was die president van die Lynnwood-rolbalklub, Christine Marais, adjunk-president André Weber, Andy Anderson, Pieter Morkel en Wicus Kemp.
Vir Marais was dit ’n groot eer om op Klasie se verjaarsdag saam te speel.
“Oom Johan het nog onlangs in ’n derde divisie klubwedstryd verskeie reguit lyne en 17 raakballe gespeel,” vertel Marais trots oor die skraal speler met die groen hemp.
Vir die dag het sy mede-spelers almal hul trotste hemde van verskeie rolbalprestasies ter ere van die okkasie gedra.
Want oom Johan is gesteld op tradisie en netjies op sy persoon.
Sy meld die sportorganisasie, Rolbal Suid-Afrika, het bevestig Havenga is een van die oudste aktiewe rolbalspelers ter wêreld.
Vir Havenga is dit ’n trotse prestasie om in sy rolbalklere van die Eden-distrik in die Suid-Kaap op die rolbalbaan op sy 99ste verjaarsdag te kon speel.
“Ek het vanaf 2001 by die George-rolbalklub aangesluit, en was van 2006 tot 2007 president van die klub. Dit was ook die wegspringblok vir talle van my ander prestasies op die baan,” vertel Havenga.
Hierdie prestasies sluit in die verkiesing tot die Sportraad se ontwikkelingsbeampte van die jaar (2009), afrigter van die jaar (2011) en presidentstoekenning (2016).
In 2016 is ’n oorkonde aan hom as sportlegende van die Wes-Kaap toegeken deur die minister van kultuur van die Wes-Kaap.
En alhoewel hy trots is op hierdie sportprestasie, sowel as die prestasies in sy loopbaan wat hy in 1987 as ’n hoofdirekteur van die Suid-Afrikaanse Lugdiens afgesluit het, is daar een ongewone prestasie wat hy behaal het waaroor hy nou van oor tot oor glimlag.
Havenga was die koning van snelskrif in die vyftigerjare op Kimberley waar hy gou besef het dié vaardigheid gaan hom ’n voordeel gee in sy werk op administratiewe gebied.
Snelskrif is die vermoë om gesprek en dialoog in spesiale tekens af te neem om later na woorde te kan transkribeer, ’n nuttige vaardigheid vir skryf van notules vir vergaderings en afneem van korrespondensie.
“Ek het so gevorder daarin, ek is gevra om klas te gee by ’n plaaslike tegniese kollege teen ’n welkome vergoeding. Ek kon van die werk af kom en dan die studente gaan help asook ’n ekstra geldjie verdien,” vertel hy van die jare in die Suid-Afrikaanse Spoorweë (nou Transnet) op Kimberley.
Hy het op verskeie plekke soos Klerksdorp, Johannesburg, Kaapstad en Pretoria in die administratiewe tuig by die Spoorweë gestaan en het ook soms vir die departement van vervoer parlementêre diens gedoen.
Een van die hoogtepunte van sy loopbaan was toe hy afgevaardig was om sekretariële diens te doen vir ’n afvaardiging na Japan om vervoeraangeleenthede te ondersoek. Toetse met hul sneltrein was toe aan die gang.
Na sy uittrede, het die bondel energie en die sportman met eindelose stamina nie stilgesit nie en eers as stadsraadslid in Boksburg in die laat tagtigerjare en toe as raadslid van George vanaf 1994 sy kant gebring en hom veral daarop toegespits om sport ook in te span om gemeenskappe te ontwikkel.
“Ek glo sport kan veral karakter ontwikkel,” glo Havenga.
Vandag is hy ere-lewenslid van die George-rolbalklub, Eden Distrik Rolbal en Eden Nomads.
Havenga het verlede jaar na Pretoria verhuis waar sy drie seuns en hul gesinne hom in hul innige gesinskringe verwelkom het.
Sy seuns, Johan, Gerhard, en Christiaan het die 99-jarige se geselligheid bygewoon. Hulle vertel laggend hoe hul pa graag streng dissipline wou toepas, maar hoe hul ma, Gertruida, menige maal met ’n glimlag moes toekyk wanneer die seuns hul pa gefnuik het deur op die dak te gaan wegkruip.
“My pa was op ’n goeie manier by talle areas van ons grootwordjare betrokke en het op beheerliggame ’n beduidende rol gespeel,” vertel Christiaan.
Havenga is ingestel op standvastigheid en volhoubare vriendskappe. By sy 99ste verjaarsdagpartytjie was ook sy jare lange vriend, Martin van Zyl.

Van Zyl het Havenga aangeprys vir sy ontwikkelingswerk onder die jeug by alle skole om sport te gebruik om mense moed te gee.
“Ek was altyd beïndruk oor hoe bereidwillig hy was om sy tyd en energie te spandeer om veel in rolbal op administratiewe sowel as speelgebied terug te sit en te help om die spel te laat groei. Hy is altyd ook op die jeug gerig om ’n toekoms vir die sport en die jong klomp te skep.”
Vir Havenga is dit ’n wonderwerk dat hy nog al spelende sy 99-jarige verjaarsdag tussen rolbalvriende en sy familie op ’n plek kon vier waar hy op sy gelukkigste is: die groen gras van ’n goed versorgde rolbalbaan met sy swierige rolbalhoed op sy kop, besig om ’n bal te mik om nog ’n goeie lyn te rol.
En natuurlik om na die tyd sy gunsteling “medisyne” te nuttig.
“Sjokoladekoek maak die lewe die moeite werd,” lag die 99-jarige guitig en knipoog vir sy rolbalmaats en geliefdes.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
