Local newsNews

Besigheidsinergie gaan vergroening in Tshwane lei

’n Glansryke gala-ete het rolspelers en besluitnemers bymekaar gebring om op die stad se vergroening te fokus.

Die Tshwane Green Foundation, met die ondersteuning van Old Mutual Green Foundation, is op 20 November by die Hoofstad Sakekamer se gala-aand bekendgestel.

Burgemeester dr. Nasiphi Moya sal as die beskermheilige vir die stigting optree.

Moya het gesê die besigheidsektor bly ’n steunpilaar van Tshwane deur werksgeleenthede en belegging te skep. Hul leierskap om Afrika se groenste stad te skep is merkwaardig, het sy bygevoeg.

“Die bekendstelling van die Tshwane Green Foundation kon nie op ’n beter tyd plaasvind nie. Ek het sopas vanaf ’n belangrike internationale vergadering van die C40 Cities teruggekeer. Tshwane is deel van hierdie globale netwerk van burgemeesters wat dringend onmiddellike stappe neem. Dit is ’n platform om wêreldwyd oor groen kwessies te praat soos befondsing. Burgemeesters moedig sterker veelvlakkige vennootskappe aan en direkte befondsing om stede te help om vinniger en regverdiger klimaat-aksie te lewer,” het Moya gesê.

Burgemeester dr. Nasiphi Moya knip die groen lint by die bekendstelling van die Tshwane Green Foundation. Op die foto is: Johan Blom, Nico Venter, Nathi Xaba, Karabo Ubane, Chrys Haitas, dr. Nasiphi Moya, Fanie du Plessis, Talent Ntiwane, Sannah Maluleke en Mpho Sedibe.

 

Sy sê die metro maak vordering met sy vergroening en sal in samewerking met Johannesburg gasheer speel vir die volgende beraad van die C40 Cities.

“Die metro se betrokkenheid in die Tshwane Green Foundation is krities om regte, mensgefokusde vordering te maak en inwoners en die besigheidsektor se menings te hoor oor lewensbelangrike klimaatkwessies. Ek voel geëerd om as beskermheilige op te tree. Julle kan op ons staatmaak,” het sy belowe.

Entrepreneur Mpho Sedibe het verduidelik dat die stigting beoog om ’n neutrale platform vir die samewerking en fasilitering van groener inisiatiewe binne Tshwane te bied.

“Ons sal ook die stad verander in ’n erkende groen stad deur inwoners betrokke te maak in verfraaiing- en vergroenings-inisiatiewe,” het Sedibe verduidelik.

Haar hoop vir die stigting is om ’n groen kennis “hub” te skep en belegging en potensiële werksgeleenthede te onsluit om die stad se oorgang na ’n volhoubare groen ekonomie te ondersteun.

“Die keuses wat ons vandag maak kan ons na ’n model van ’n volhoubare groen stad toe lei,” het Sedibe gesê.

Prof. Godwell Nhamo van Unisa, ’n klimaatsverandering-spesialis, het Tshwane se vordering tot ’n groen stad aldan nie bevraagteken.

Die Absa Bank-span

“Waar daar geen visie is nie, sal ’n stad vergaan,” het Nhamo gesê. “Ons is gelukkig reeds op ’n groen reis in Tshwane maar ons benodig ook ’n oogpunt op ander groen stede om te sien hoe ons vorentoe moet gaan in die groen ruimte wat die metro besig is om te skep.”

Nhamo het die metro gelukgewens vir die werk wat reeds gedoen is om ’n goeie visie te vestig om die stad te vergroen.

“Vergroening gaan ook oor befondsing en beleidvorming. Ek glo ons is gereed om as ’n stad meer verorderings te vergroen. Op die grondbasis, het die metro reeds ’n klimaat-aksieplan. Wat ons moet doen is om veerkragtigheid te bou in wat ons reeds het,” het Nhamo gesê.

Vyf Pretoria-maatskappye is gevra om wat hul reeds behaal het om die stad groen te maak, ten toon te stel: BMW, Coca-Cola, VDT Attorneys, Absa en Old Mutual. Elke maatskappy het hul eko-vriendelike prestasies aan meer as 500 gaste ten toon gestel.

Thilosh Moodally, woordvoerder vir BMW, het gesê die maatskappy het laasjaar ’n halfeeu van produksie in Suid-Afrika gevier. Vir haar, was een van hul trotste groen suksesse dat ’n omgewings-vriendelike elektriese voertuig eksklusief in Suid-Afrika vir wêreldwye uitvoer vervaardig sal word.

“Dit herbevestig ons verbintenis tot vergroening van Suid-Afrika en die vergroening van ons aanleg in Tshwane,” het Moodally gesê.

Reuben Olifant, voorsitter van die Sakekamer, het na onlangse suksesse wat dit gehad het verwys, soos met hul aankondiging van Rosslyn as ’n verbeteringsdistrik en die vergroening van die industriële area wat ook plaasgevind het.

Sakekamer-voorsitter Reuben Olifant en Chrys Haitas

“Om Rosslyn te verfraai deur grasperke te sny en om die dikwels-beskadigde substasie in ’n Fort Knox te verander, asook om proaktief te wees om kabeldiefstal te beperk en die verkopers ’n veiliger omgewing te gee asook om dit te wettig. Hierdie was ons maniere om met die metro hande te vat,” het Olifant gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button