Local newsNews

Centurion-leerder wys sy sal kan doen met ‘n miljoen

Meer as ’n honderd leerders het vanjaar aan 'n entrepreneurskompetisie deelgeneem wat deur 'n selfgemaakte miljoenêr van die Moot aangebied is.

’n Centurion-leerder van ’n aanlyn tuisskool het die derde plek in die TV-program Maak My ’n Miljoenêr gewen.

Mincke Krige, ’n leerling van MOS-Wêreldwyd is die eienaar van die Vleishuis, ’n besigheid wat hormoonvrye beesvleis lewer met produkte soos maalvleis, wors en biltong. Sy koop die vleis aan en herverpak dit in spesiale aanbiedinge soos ’n maandpak.

Die wenner was Jason Coulson van die Hoërskool Die Anker in Boksburg wat onder meer 30 grypkloumasjiene met sagte diertjies by winkelsentrums geplaas gekry het.

Diederick Lötter van Hoërskool President Steyn in Bloemfontein het tweede gekom met sy afleweringsdiens van groente en vrugte.

Albert van Wyk en Mincke Krige

Krige het leiding van Fergus Ferguson van die Afrikaanse Sakekamer ontvang om in die kompetisie te presteer.

“Hy het my gewys hoe belangrik dit is dat ek moet besef waar my krag vandaan kom en erkenning aan die Here moet gee,” getuig die hardwerkende entrepreneur.

Sy het mettertyd haar vleisreekse uitgebrei nadat sy in 2022 met drie produkte begin het.

Sy skryf haar sukses ook daaraan toe dat sy spesialiseer in produkte “soos oepsies en ogies wat spek op stokkies met kersies is,” vertel sy.

Leerders wat reeds ’n eie saak bedryf, skryf met ’n inskrywingsvideo in wat deur die span van die TV-program gekeur word.

Meer as ’n honderd kandidate word dan deur ’n paneel beoordeel na gelang van kriteria soos hoeveel wins gemaak is.

Van die entrepreneurs kon ’n wins van tot R27 000 per maand rapporteer.

Albert van Wyk, aanbieder van die TV-program, skrywer en selfgemaakte miljoenêr van die Moot, meen Krige het “’n ongelooflike vertoning van ondernemingsvaardighede en deursettingsvermoë tydens die program gewys”.

Matthew Blaauw van die Moot en Mincke Krige van Centurion

Christelle Doman van Hoërskool Montana en Leonette van Dyk van Hoërskool Waterkloof was onder die Top 20 hoërskool entrepreneurs.

Een van die aanbieders van die aand was 2022 se wenner, Matthew Blauw, wat vanjaar in Hoërskool Oos-Moot in matriek was.

Van Wyk het ook sy eie pad om geld te maak met die leerders en die gehoor gedeel tydens die gala-aand wat die wenners aangewys is.

Dié oudleerling van Hoër Tegnologiese Skool John Vorster in die Moot se bankbalans het op 22-jarige ouderdom op ’n miljoen gestaan. Dit nadat hy reeds van tienjarige ouderdom die kuns leer ken het om verskeie inkomstestrome te genereer soos om speelgoed te verkoop, gras te sny en karre te was.

“Ek het arm grootgeword, maar wou uitstyg,” vertel Van Wyk wat sy oupa se spoggerige vuurwa as matriekafskeidskar uitverhuur het.

Sy motivering en inspirasie tot vandag bly steeds die lees van sakeboeke, ’n aanbeveling van sy pa.

Juis daarom wil hy ook die kuns van entrepreneurskap aan leerders oordra.

Die kompetisie het met 60 skoolbesoeke regoor Suid-Afrika afgeskop waartydens meer as 65 000 hoërskoolleerders bereik is.

Die Top 20 het die Brandbank se uitvalronde en verdere uitdagings tydens die kompetisie oorleef om by die gala-aand op die verhoog te kon staan.

Die Top 20 se totale omset van hul besighede was R2 933 367 en hulle het saam ’n totale wins gemaak van R1 170 438 oor die agt maande se mentorskapprogram saam met Van Wyk en sy span.

Krige gaan nou onder Van Wyk se mentorskap vir ’n jaar leiding ontvang om haar besigheid verder te groei.

Vir verdere inligting oor die kompetisie, besoek www.maakmynmiljoener.co.za.

– Kliek hier om Krige meer van haar besigheid te hoor vertel: https://web.facebook.com/reel/1227243674924094

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button