Local newsNews

Boeiende boek oor kerkgeskiedenis nou op die rakke

'n Opmerksame kerkgeskiedenisonderwyser kon 'n geleentheid ten bate neem om 'n unieke boek in Afrikaans op die rakke te laat verskyn.

’n Inskrywing vir ’n Ken jou storie-kompetisie vir kortverhale het ’n proefleser met ’n agtergrond in kerkgeskiedenis se oog gevang toe sy ’n treffende en beeldende verhaal oor die Franse Hugenote raakgelees het.

Die proefleser, Saskia Meijer, het besef hoeveel waarde ’n boek met illustrasies oor kerkgeskiedenis op ’n maklike manier vertel, maar steeds teologies verantwoordbaar, kan inhou.

Hierdie skoolhoof van die Gereformeerde Skool Dirk Postma het dadelik daarvan werk gemaak om haar idee gestalte te gee.

Sy het toe reeds vir jare vir leerders in kerkgeskiedenis onderrig en is ’n kurrikulum-samesteller.

“Ek het besef so ’n boek sal ’n gaping in baie leerders maar ook volwassenes se lewens vul en ’n kennisgaping vir baie mense en gelowiges aanvul.”

Die verhale in die kerkgeskiedenisboek is kleurvol deur Jenny Boon geïllustreer.

Meijer sê sy het die opwindende projek aangepak deur ds. Pieter en Jenny Boon van die Moot te kontak en die voorstel aan hulle te maak. Hulle was dadelik aan boord.

Jenny is ’n illustreerder en skilder van formaat en sou die kunswerke sowel as die stories kon behartig terwyl Pieter, ’n predikant en kundige in kerkgeskiedenis, die feitlike deel sou aanvul.

En so het die boek Kerkgeskiedenis: Vir jonk en oud (30-500 AD) uitgegee deur Fontein Uitgewers sy ontstaan gehad.

Die eerste deel van die boek is in Oktober geloods en is ideaal vir leerders van 9 tot 18, maar ook waardevol vir studente en volwassenes.

Drie dele sal die eerste gedeelte opvolg. Daar word reeds beplan dat Deel 2 in 2025 moet verskyn.

Dit is die eerste van vier volumes wat uiteindelik die wêreldwye geskiedenis van die kerk oor 2 000 jaar tot vandag dek.

“Die inhoud van al vier dele sal strek van die uitstorting van die Heilige Gees tot vandag,” vertel sy.

Sy lê klem daarop dat die verhale so geskryf is dat dit nie “stowwerige stories is nie en lesers sal boei”.

Die Boon-egpaar van die Moot het hande geneem om die boek oor die kerk deur die eeue se geskiedenis saam aan te pak met hom as skrywer en kundige, sy as illustreerder.

“Kinders en selfs volwassenes onthou baie beter as iets in storievorm oorgedra word. Hierdie kerkgeskiedenisverhale is ook geskik om voorgelees te word.”

Van ’n opvoeder se kant het Meijer en die span ook toegesien dat die verhale relevansie het deur die storie met huidige gebeure te verbind asook om toepaslike kunsvlytsprojekte by sommige verhale aan te bied.

“Dit was vir ons belangrik om die klem te plaas op hoe Christus sy kerk deur al die eeue teen die aanvalle van die vyand beskerm en bewaar het en veral ook hoe die kerk aanvalle daarop weerstaan het,” vertel sy.

Die boek is nie op enige spesifieke kerkdenominasie gerig nie, maar vertel die geskiedenis van die kerk wêreldwyd oor al die eeue in die algemeen en breedweg.

“Ons het die feite so verpak dat lesers die goue draad van seën en guns van die Here deur die eeue op sy kerk kan ervaar en kan raaksien,” verduidelik sy.

Die kleurvolle unieke illustrasies, glo Meijer, maak die boek ook ’n ideale koffietafelboek en een wat maklik ’n gesprek oor die kerk en sy rol in samelewings oor die eeue kan speel.

“Dis werklik ’n mooi boek waarvoor die Here wonderbaarlik oor die twee jaar van produksie voorsien het.”

Die boek kan teen R350 vir hardeband en R220 sagteband by Boekenhout boekenhout.aros.ac.za bestel word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button