Local newsNews

Nog vernuwing kom na Boeremark-rekordgetal besoekers

“Ons doelwit is om vanjaar die besoekersgetalle per oggendmark bo 6 000 te bring en daarop uit te bou met elke markdag.” – Michael Bresler, Pretoria Boeremark-woordvoerder

Die Pretoria Boeremark het in sy 32ste bestaansjaar rekordgetalle by sy aandmark in Desember behaal.

Meer as 13 000 inkopiegangers het die aandmark op 18 Desember bygewoon en drie dae later was daar meer as 6 500 besoekers by ’n oggendmark.

Michael Bresler, ’n lid van die bestuurspan, skryf dit toe aan die voortdurende fokus op verbeterings en vernuwings op vele vlakke sedert die mark in 2017 na die nuwe perseel in Moreletastraat – eens ’n lusernland – geskuif het.

Die mark het vanjaar by die eerste oggendmark op 4 Januarie by ingange vir die eerste keer verwelkomingspersoneel geplaas om navrae te beantwoord.

Dit het ook vir die tweede keer die markdag op sy sosiale media tydens ’n lewende stroom vanaf die terrein uitgesaai.

Bresler wys daarop dat veranderings soos twee nuwe uitstallane ook vanjaar toegevoeg sal word om nog uitstalruimte te bied.

Tans is daar reeds meer as 300 uitstallers.

Die mark het op 10 Oktober 1992 op die Persequorperseel van die Wetenskaplike Nywerheids- en Navorsingsraad begin met 60 uitstallers en is mettertyd verskuif.

Dit is in 2017 van die Pioniersmuseum geskuif toe die tender om die terrein te benut nie weer aan TLU-SA toegeken is nie.

“Ons doelwit is om vanjaar die besoekersgetalle per oggendmark bo 6 000 te bring en daarop uit te bou met elke markdag,” sê Bresler.

De Wet Vermeulen
De Wet Vermeulen

Nog ’n aanwins is die akkertjie mielies wat geplant is om besoekers en veral kinders ook te leer waar produkte vandaan kom. Die dierekampe is reeds gewild by veral die kleingoed.

“Ons het ook die verhoog vir optredes verbeter en gaan vanjaar aan die optredes deur verskeie kunstenaars uitbou,” vertel Bresler.

Hiermee help Skaap Jacobs van die organisasie sonder winsbejag, die Afrikaanse Toekomstrust.

“Ons het tans meer as 3 000 projekte dwarsoor die land. Om kunstenaars by die Boeremark te help optree, is een van ons projekte. Ons het 47 kunstenaars wat ons vanjaar wil help om hul voete te vind,” verduidelik Jacobs.

Bresler noem dat die uitstallers, personeel en besoekers “een groot Boeremark-familie is wat vir mekaar omgee en ’n ondersteuningsnetwerk vorm.”

’n Bewys hiervan is die aksie wat vandeesmaand deur ’n gevestigde uitstaller, De Wet Vermeulen van Calabash, van stapel gestuur gaan word om ’n stalletjie waar koffie ten bate van gehoorgestremdes se weldoenerorganisasies verkoop word, ’n hupstootjie te gee.

“Omdat my ouers as koshuisouers in East Lynne aan die Nuwehoop-skool verbonde was, asook vroeër aan die De la Bat-skool vir Gesiggestremdes in Worcester, het ek baie empatie met mense met gestremdhede,” vertel Vermeulen.

Sy dankbaarheid kom ook as gevolg van ’n onlangse wonderwerk wat hy ervaar het toe hy tydens ’n fratsongeluk deur ’n dak geval het en meer as 30 dae in ’n koma was.

Tydens ’n breinoperasie het die chirurg ’n angioma in sy brein ontdek.

Met dié aandoening pak bloedaartjies bymekaar en kan daar mettertyd breinbloeding ontstaan.

“As die chirurg dit nie raakgesien het nie, kon ek mettertyd een oggend later in my lewe dalk net nie wakker geword het nie. Die val het inderwaarheid my lewe gered en daarom wil ek nou ook teruggee aan ons gemeenskap hier,” vertel die produsent van leerhandsakke, gordels en veral skooltasse.

Die omgee vir produsente en hul behulpsaamheid is ook die rede hoekom kaasmaker, Leandri Dercksen, na ’n jaar se afwesigheid teruggekeer het om weer die Dercksen Boerdery se produkte uit te stal.

Sy was in ’n ernstige motorongeluk betrokke en kon nie meer aan die mark deelneem nie. Dercksen en haar eggenoot is egter besig om nou weer danksy ondersteuning en leiding van veral ook die Boeremark weer op hul voete te kom.

“Covid-19 het ons ’n ernstige knou toegedien. Voor die pandemie het ons ’n kudde van meer as 70 koeie gehad maar die grendeltyd het sy tol geëis. Ons kon dit onlangs weer uitbou tot 20. Ons kaasmakery is nou weer goed aan die gang. Ek is so bly ons was weer welkom by die mark,” sê Dercksen.

Mandla Mdluli
Mandla Mdluli

 

Dan is daar ook helpers wat instaan vir produsente en handjie bysit. Danie Oosthuyzen van Pretoria Noord en sy seun, Marko, staan in vir skaapboere van Douglas wat lamsvleis verkoop.

Vir Ronald Mthite, ’n eierprodusent, is dit ’n geleentheid om saam met sy gesin in hul boerdery kennis in te ploeg deur sy kontak met ander produsente en ook sy lesse te deel.

Ook vir die afgetrede boere, soos Adriaan Swart van Delmas, het die mark onverwags ’n jaar gelede ’n afsetplek geword vir sy produkte van salignahout.

Hy het weggespring deur van palette se hout meubels te maak en het nou ’n hele reeks produkte.

“Ons bring ook eersdaags ’n nuwe produk, ’n ronde kaarttafel, na die mark. Ons kan nou uitbrei omdat ons ’n groter afsetgebied hier het,” vertel Swart.

’n Reeds bekende en gewilde toevoeging tot die vermaak op die mark is die veelsydige en gewilde nar op stelte van Soshanguve, Mandla Mdluhi, wat diere uit opgeblaasde ballonne maak en deur die terrein rondloop tot veral die kinders se vermaak.

Danie Oosthuyzen en sy seun, Marko
Danie Oosthuyzen en sy seun, Marko

“Ek wens ek kan borge kry dat ek die ballonne verniet kan uitdeel en ook aan kinders met gestremdhede kan gee,” vertel hy. Sy inkomste uit optredes by die mark gebruik hy om ’n huis klaar te bou.

“Ek wil só graag vir my twee kinders ’n goeie lewe gee,” vertel hy.

Nuwe produkte het ook ’n ereplek by die mark met een van die mees onlangse toevoegings ’n ovaal vruggie, muismeloene (cucamelons), van Elandsboerdery naby Pretoria.

Wihan Meijer van Elandsboerdery verduidelik dié vruggie, wat so groot soos ’n olyf is, lyk soos ’n mini-waatlemoen en al is die lekkerny klein, is dit vol smaak.

“Dis vol vars smake en heerlik in slaaie en kan ingemaak word. Dis ’n soort mini-komkommer met ’n gladde skil en proe effens bitter,” verduidelik Muller.

Vir die bestuurshoof van TLU-SA, Bennie van Zyl, is die rekordgetalle goeie nuus. Die organisasie het 30 jaar gelede die Pretoria Boeremark begin om ’n brug tussen produsent en verbruiker te skep.

“Hierdie mark het ontwikkel as ’n unieke stukkie Pretoria-skat. Die karakter en aard daarvan laat markgangers soontoe stroom, nie net vir produkte nie maar ook vir die ervaring. Dit word nou selfs aangegee as een van vyf besienswaardighede in Pretoria wat toeriste moet ervaar.”

Die organisasie sal die bestuur se planne steun om die mark nog verder vorentoe te vat, volgens Van Zyl.

“Dis ’n wenresep en ’n belewenis. Ons is dankbaar vir die uitstallers, besoekers en personeel se bydraes om die mark suksesvol te maak.”

LEES OOK: https://Departement bevestig ondersoek oor Waterkloof-skoolhoof afgehandel

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Pamela Vuba

Pamela is a junior journalist at Rekord who focuses on community news in Pretoria, particularly in the eastern parts of the capital city. Pamela writes for the Pretoria East Rekord as well as Rekord’s online platforms.
Back to top button