Metro: Geen dierevrektes oor blougroen-alge
Besoekers en skoonwater aktiviste is bekommerd dat diere in die Rietvlei-reservaat aan bloualg-vergiftiging kan lei.
Besoekers aan die Rietvlei-reservaat is bekommerd dat blougroen-alge in reservaatstrome en -spruite en die Rietvleidam se water die gesondheid van die diere, voëls en visse kan beïnvloed.
Dis veral by die bekende Coots Corner by die voëlskuiling waaroor besoekers kommer uitspreek aangesien dooie visse daar opgemerk is en die vlei daarrondom vol “groen stink slyk is”, volgens ’n besoeker.
Sulke blougroen gekleurde water is ’n teken van alge en gifstowwe sowel as chemiese besoedeling, volgens skoonwater-aktivis, Willem Snyman.
Hy het aan Rekord gesê dat talle tekens in die damwater van die reservaat wys op ’n waterstelsel waarvan die toksiteit hoog is as gevolg van fosfate en nitrate.
“Die suur en slegte reuke by sommige punte in die reservaat se damwater dui op hoë vlakke van gifstowwe. Besoedeling moet stroom-op verhoed word om toe te sien dat die reservaat en die gesondheid van diere wat van die water in die reservaat gebruik maak, nie daardeur geraak word nie,” glo Snyman.
Hy wys daarop dat water met blougroen-algvergiftiging, ook genoem sianobakterieë-vergiftiging, nadelig is vir mense en diere veral wanneer daar ’n opwelling in die groei daarvan in standhoudende water is.
Wanneer die alg vrek en verrot, word dit blou en stel ’n toksien vry terwyl die plant doodgaan wat tot lae suurstofvlakke in die water lei.
Indien mense velkontak het met water besmet met blougroen-alge, kan dit lei tot ’n veluitslag, ’n gejeuk, blase, oogirritasies, ’n gebraak sowel as pyn in spiere en gewrigte.
Indien diere sulke water drink, kan hulle braak, skuim om die mond toon, sukkel om te stap en moeilik asemhaal, asook moontlik vrek.
“Daar is ’n groot hoeveelheid gifstowwe wat vanaf bronne buite die reservaat in die reservaat se waterbronne en die Rietvleidam gestort word. Hierdie besoedelde water word deur diere, voëls en visse ingeneem. Dis een groot gemors,” sê Snyman.
Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê geen dierevrektes is aangeteken in November en Desember toe daar ’n waarneembare verswakking in watergehalte as gevolg van blougroen-alge was nie.
Volgens die dam se rouwatergehalteverslag van November en Desember, is sommige aanduiders van swak watergehalte wel bo die aanvaarbare perke.
“Tot dusver is dit onduidelik of die blougroen-alge enige uitwerking op die diere het. Verdere ondersoeke sal gedoen moet word,” bevestig Mashigo.
Hy benadruk diere in die reservaat verbruik water vanaf verskeie waterpunte en bronne, en suip en drink nie uitsluitlik uit die Rietvleidam nie.
Sommige van die waterbronne kom voor in vleilande. Hierdie vleilande help om onsuiwerhede tot ’n mate te filtreer. Ander bronne sluit fonteine en strome in.
“Die diere wys geen tekens dat hulle deur die water van die Rietvleidam besmet is nie,” sê Mashigo.

Volgens hom word die gesondheid van die diere in die reservaat op ’n deurlopende basis gemonitor en die voorkoms van sterftes word ondersoek.
Mashigo verduidelik waterbesoedelingsbronne stroomop van die reservaat is buite die metro se grense en jurisdiksie.
“Besoedeling moet by die bron behandel word. Hiervoor maak ons staat op verhoudinge en samewerking met belanghebbendes en owerhede. Die vernaamste skuldiges van besoedeling is gemeenskappe stroomop van die Rietvleidam,” sê Mashigo.
Sowat 15% van die metro se drinkwater kom van die Rietvleidam.
Mashigo sê hierdie water hou nie ’n gevaar vir inwoners in nie aangesien dit nie soos in die geval van die diere, “rou” onbehandelde water is nie.
Die finale waterkwaliteit aan inwoners word konsekwent gemonitor en voldoen aan die SANS 241 drinkwaterstandaard.
“Die kwaliteit van die rou water is ons grootste kommer,” wys Mashigo uit.
Die Nasionale Departement van Water en Sanitasie raai aan dat die voorkoms van blougroen-alge as moontlik toksies beskou moet word.
Die department beveel aan dat owerhede by damme met bloualg-vergiftiging kennisgewings moet plaas om die publiek teen kontak daarmee, te waarsku.
– Kliek hier om na die Rietvleidam te kyk.
LEES: Metro: Geen dierevrektes oor blougroen-alge
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


