Minister en president het tien dae om Bela-dispuut op te los
Regskennisgewings is op die minister van basiese onderwys en die staatspresident bedien as 'n eerste stap om die bekragtiging van die omstrede klousules van die Bela-wet ongeldig te laat verklaar.
Burgerregte organisasies het op 15 Januarie regskennisgewings oor die wettiging van klousules 4 en 5 van die Bela-wet op die Minister van Opvoeding, Siviwe Gwarube en Staatspresident Cyril Ramaphosa, laat bedien waarop hulle teen 25 Januarie moet reageer.
Ingevolge hierdie regsbriewe het die minister en president tien dae om die dispuut op te los.
Indien daar nie ’n oplossing is nie, glo die organisasies het hulle geen ander keuse as om hof toe te gaan nie.
Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum sê hulle nooi hiermee die minister en president ook uit om te herbesin oor die promulgering van die klousules op 26 Desember in die Staatskoerant.
Die Bela-wetgewing is volgens die organisasies tans in plek sonder die beloofde terme en voorwaardes in die omstrede klousules oor taalbevoorregting, toelating en die magte van beheerliggame.
Sou die minister en president nie reageer of instem tot onderhandelings nie, beoog die organisasies om die klousules in die hof ongeldig te laat verklaar.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het op 16 Januarie tydens ’n perskonferensie beklemtoon hulle wil die redes hoor hoekom Gwarube se aanbeveling om eers die klousules verder met normes en voorwaardes aan te vul voor wettiging, nie deur Ramaphosa aanvaar is nie.
Verder wil die organisasies weet hoekom die minister self binne drie weke na haar presidentsaanbeveling van plan verander het.
Hulle wil ook weet hoekom sy teenstrydig tot haar aanbeveling, die promulgeringskennisgewing onderteken het.
Die bediening van die regskennisgewing is die eerste in ’n sarsie van regstappe sou die president en minister nie binne tien dae reageer of hul uitnodiging om samesprekings aanvaar nie.
Die organisasies sal ook onder meer mettertyd die grondwetlikheid van hierdie klousules wil uitdaag.
Die regskennisgewing en moontlike regstappe se gronde is tydens die mediakonferensie verduidelik.
Met die Nedlac-ooreenkoms in November het Gwarube dokumente onderteken dat sy ’n mandaat het om aanbevelings te maak aan die president en die ooreenkoms te teken.
Daarvolgens het sy aanbevelings aan die president gemaak dat die klousules oor taalbevoorregting, toepassingbeleid en magte van beheerliggame eers wettig gemaak word nadat terme en voorwaardes vir die uitvoering daarvan in plek is.
Hierdie proses kan sowat 18 maande neem.
Hierdie aanbeveling is na die taakspan van die Regering van Nasionale Eenheid vir hantering in hul konflikuitklaringsproses verwys.
Die partye kon volgens die organisasies nie tot ’n vergelyk kom nie.
Hulle meen die president het voor politieke druk geswig en voortgegaan met die bekragtiging.
Die regsgronde waarop die drie organisasies dus wil staan is dat Gwarube “irrasioneel” opgetree het om in drie weke sonder redes van mening en aanbeveling te verander.
LEES: Graadeentjie: “Ek hoop Oupa gaan oukei wees”
Die organisasies glo dieselfde regsgronde is ook geldig ten opsigte van die president.
Hulle glo hy het “irrasioneel” opgetree om die klousules te wettig sonder om redes te verskaf hoekom hy nie gehoor gegee het aan die minister se aanbeveling nie.
Volgens Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, het Ramaphosa tot dusver geen redes aangevoer waarom hy Gwarube se aanbevelings en ooreenkomste bloot geïgnoreer het nie.
“Die irrasionaliteit rondom hoekom die twee klousules gewettig is in die staatskoerant, kan die wettiging daarvan ongeldig maak en hersiening noodsaak. Die vraag wat gevra moet word is: Is dit billik en rasioneel om nou die klousules te wettig of eerder wanneer die norme en voorwaardes in die wet ingeskryf is?”
Volgens Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Skoolondersteuningsentrum, bestaan die gevaar dat sonder norme en voorwaardes toegevoeg tot die klousules, ’n vakuum ontstaan waarin boeliegedrag en intimidasie kan seëvier.
“Hier is groot verwarring en ’n vakuum het ontstaan waarin amptenare met intimidasie van skoolhoofde en beheerliggame kan begin om die klousules waarvoor daar nie uitvoeringsnorme is nie, toe te pas. Ons wil net duidelik wees dat geen staatsamptenaar kan tans by ’n skool opdaag en die taal en toelatingsbeleid eiehandig verander nie. ’n Proses moet gevolg word. Dit is juis hierdie proses wat nog vasgestel en in die wet ingeskryf moet word,” aldus Fourie.
Kommentaar oor die regskennisgewings is van die ministerskantoor en Presidensie aangevra maar nog nie teen publikasie ontvang nie.
– Kliek hier om meer van die regstappe en regskennisgewings te hoor:
LEES: Geliefde Pretoria man en pa sterf na kankerstryd
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.




