Afrikaans 100: Veelsydige kultuurmens publiseer weer op 91
'n Boek stemmingsvol vertaal uit Italiaans oor 'n kind se waarnemings tydens 'n oorlog en sy verhouding met sy pa is die derde gepubliseerde werk van 'n Pretoria-digter en musikant duskant negentigjarige ouderdom.

’n 91-jarige geliefde digter van die Moot, Rina Cascione, het haar derde boek in drie jaar gepubliseer. Die boek, Pater Meus, is boonop direk uit Italiaans in Afrikaans deur haar vertaal.
Cascione se derde taal is Italiaans en saam met haar oorlede man, Paolo, het sy lang tye in Italië deurgebring. Daar het sy met die Italiaanse digkuns vertroud geraak.

“Vertaling uit Italiaans reguit na Afrikaans is nie maklik nie. Dit is veral die sinsbou wat verskil omdat ’n byvoeglike naamwoord nie op dieselfde plek as in Afrikaans staan nie. Maar wat ’n heerlike uitdaging om te kan dink hoe sal iemand ’n Italiaanse frase sinvol in Afrikaans sê.”

Sy het die Italiaanse weergawe van Pater Meus by ’n familielid raakgeloop en was na die lees daarvan “lus om die mooi verhaal met lesers te deel”.
Met die verskyning van haar eerste vertaalde werk uit Italiaans in 2022, die digbundel Kliniek van Verlatenheid (Naledi), vertaal uit die digter Alda Merini se laaste digbundel Clinica dell’abbondo, was letterkundiges reeds opgewonde oor die deur wat na Italiaanse werke vir Afrikaans met haar knap vertaalwerk oopgaan.
Cascione, ’n boorling van Middelpos in die Calvinia-distrik van die Karoo en ’n nooi Van der Merwe, het met ywer die tweede vertaling aangepak na die opgewondenheid oor die eerste vertaling.
Sy het op 8 Februarie die boek in Pretoria-oos by die Tina Skukangalery aan geesdrigtige lesers voorgehou en verduidelik hoekom Pater Meus se inhoud haar so aangespreek het.
“Pater Meus is die regte boek vir ons tyd. Dit gaan oor ’n joernalis wat, dikwels ten koste van sy familie, ’n standpunt teen fascisme inneem. Dit is ’n universele verhaal, baie kort maar kragtig. Ons kan soveel daaruit leer.”

Pater Meus het die Internasionale Letterkundeprys in 2014 verwerf en is ’n roerende en aandoenlike verhaal oor die Tweede Wêreldoorlog uit die oë van ’n kind. Die oorspronklike verhaal is deur ’n joernalis, Mario Relandini, geskryf.
Cascione het die skrywer se weduwee ontmoet en vertel dit is ’n ware verhaal oor sy ervarings tydens die oorlog, alhoewel dit fiktief aangebied word.
“Ek hou self van sulke waarheidsvertellings oor hoe mense se lewens verloop,” vertel die oud-Matie wat musiek op Stellenbosch studeer het, met ’n verdere drie jaar oorsee, in Strasbourg en Genève.
“Musiek het my lewe geword nadat ek ’n lang nag op universiteit moes worstel met die keuse tussen óf ek studeer musiek óf ek studeer glad nie. Ek kon net daarvoor toelating kry na skool en nie vir ’n graad in tale nie,” vertel sy.
Sy het mettertyd ’n BA-graad met onder andere Kunsgeskiedenis, Frans en Duits by Unisa behaal.
Cascione het klavier en Musiekgeskiedenis aan die musiekdepartement van die destydse Technikon Pretoria doseer en landswyd as musiekeksaminator vir Unisa opgetree. Sy het ook op die keuringspaneel van Unisa se Internasionale Musiekkompetisies gedien.

Sy het Paolo Cascione ontmoet na haar terugkeer uit Europa toe hulle beide in die Maxims-verblyfhotel in Pretoriusstraat gewoon het. Die gemoedelike Italianer was in Suid-Afrika vanaf Italië vir werksdoeleindes en het by vriende aangedring om hom aan haar voor te stel.
“My Italiaanse liefling. Hy het vir ons eerste afspraak spesiaal ’n pak klere aangetrek.”
Ná ’n lang loopbaan in musiek, is haar debuutbundel in 2021, Meer as Woorde (Naledi), uitgegee in die jaar wat sy 88 geword het. Hierdie bundel bevat ook vertalings van gedigte uit Italiaans, Engels en Spaans en toon Cascione se fyn waarnemings van die lewe en mense.

Meer as woorde was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys in 2023.
Sy het na haar man se dood by ’n digkunsgroep in Pretoria aangesluit en het hier veral onder Ian Raper se leiding, uitdrukking aan haar gevoelens en idees in haar gedigte kon gee.
“Hy het mens toegelaat om jou eie stem as digter te vind. Ek het dit so van hom waardeer,” vertel Cascione.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.