Local newsNews

Garsies-hoof laat blywende onderwysnalatenskap landwyd agter

Die afsterwe van voormalige Hoërskool Garsfontein- en Hoërskool Lichtenburg-hoof Leon Bantjes op 8 Julie het skokgolwe deur die onderwysgemeenskap gestuur. Kollegas beskryf hom as 'n toegewyde mentor, strategiese denker en sportentoesias wat duisende leerders en onderwysers beïnvloed het en 'n nalatenskap van uitnemendheid agterlaat vir toekomstige geslagte.

Die onderwysgemeenskap treur oor die afsterwe van Leon Bantjes, voormalige skoolhoof van Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Lichtenburg, wat ná slegs enkele maande van aftrede op 8 Julie skielik aan ‘n hartaanval oorlede is.

Bantjes het aan die einde van 2025 as hoof van Hoërskool Garsfontein afgetree nadat hy oor dekades ‘n beduidende rol in die Suid-Afrikaanse onderwys gespeel het.

Voor sy termyn van 13 jaar by Garsfontein was hy van Januarie 2001 tot Junie 2013 skoolhoof van Hoërskool Lichtenburg, waar hy ‘n blywende nalatenskap nagelaat het.

Die voorsitter van die Hoërskool Garsfontein se beheerliggaam, Eben Venter, was geskok deur Bantjes se skielike heengaan. Hy het juis nog op 7 Julie saam met hom gekuier om te hoor hoe dit met hom na die aftrede gaan en is so bly dat hy wel die geleentheid gehad het om hom te sien.

“Hy was ook ‘n goeie vriend vir my en kon aandagtig na mens luister en sy omgee en aandag het gewys op die manier wat hy reageer. Hy was ook nooit te trots om raad van my te vra nie al is ek nie ‘n onderwyskundige nie. Hy was uitstekend met sy verhoudinge met mense en het ook gehelp met die aanstelling van die nuwe hoof,” vertel Venter.

Vir hom staan Bantjes se filosofie oor regverdige behandeling uit. Hy het per geleentheid vir hom gese om ‘n skoolhoof te wees is ‘n eensame werk want jy kan nooit kant kies nie.”

Hoërskool Lichtenburg het in ‘n huldeblyk gesê die Liggie-gemeenskap betuig sy innige meegevoel aan Hoërskool Garsfontein met die afsterwe van hul voormalige skoolhoof.

Ook die ProZA-uitruilprogram van Óscar Romerocollege in België het sy medelye uitgespreek en gesê Bantjes was as skoolhoof van Hoërskool Garsfontein baie positief oor die uitruilings tussen skole en om internasionale bande te bou en te versterk.

Gedurende sy loopbaan is Bantjes deur die Departement van Onderwys vereer nadat Hoërskool Garsfontein as Gauteng se voorste akademiese skool aangewys is.

Hy het ook bekendgestaan as ‘n voorloper op die gebied van onderwystegnologie en het tegnologiese stelsels en aanlynplatforms reeds lank voor die Covid-19-pandemie by die skool gevestig.

Hy was passievol oor skolesport, veral rugby, en was die dryfkrag agter verskeie innoverende sportinisiatiewe, waaronder die King Price-atletiekspele.

Bantjes se liefde vir rugby het reeds vroeg begin. Hy was self ‘n talentvolle rugbyspeler en het in 1977 vir Hoërskool Monument se eerste span uitgedraf.

Francois de Kock, huidige hoof van Hoërskool Garsfontein, sê Bantjes het hom reeds beïnvloed lank voordat hulle by dieselfde skool gewerk het.

De Kock onthou dat Bantjes hom met sy aanstelling as skoolhoof aangemoedig het om voortdurend aan te hou vorentoe beweeg. “Toe ek weggespring het, het hy my gewaarsku om nie stil te staan nie. Hy was self ‘n baie bedrywige mens.”

Volgens De Kock strek Bantjes se nalatenskap veel verder as net een skool.

“Hy los nie net ‘n leemte in die skoolgemeenskap van Pretoria nie, maar ook in die groter onderwysgemeenskap. Hy was ‘n onvergeetlike mens wat ‘n reuse rol by die ontwikkeling van onderwysers gespeel het.”

Hy sê Bantjes het homself altyd volledig vir die skool gegee. “Hy was altyd deel van die span en het 100 persent vir die skool geleef. Dit was veral toe die skool ‘n nuwe rigting ingeslaan het ten opsigte van bemarking dat hy ‘n reuse rol gespeel het.”

Retief Smith, huidige hoof van Hoërskool Eldoraigne en eertydse kollega van Bantjes, beskryf hom as “‘n absolute toegewyde onderwysman” wat vasberade was om uitnemendheid na te streef.

“Hy het ‘n liefde vir alle sport gehad, maar veral rugby, en hy het die Bere, die skool eerste rugbyspan, uitgebou tot wat hulle vandag is.”

Smith sê Bantjes was ook ‘n strategiese denker wat voortdurend oor leierskap gelees het. “Hy was ‘n sterk strategiese denker wat lief was om boeke oor strategiese denke te lees en het selfs raad gegee vir groot korporatiewe besighede, veral in terme van leierskap. Vir my was hy ‘n ongelooflike mentor.”

Benewens sy rol as skoolhoof het hy gereeld as motiveringspreker opgetree en webinare vir die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie oor bemarking aangebied.

Hy laat sy vrou, Elsabé en sy dogter Chantel en kleinkind William, agter.

Elsabe en Leon Bantjes op sy verjaarsdag toe die personeel, ouers en leerders vir hom en sy eggenote ‘n spoggerige geleentheid en ‘n rit in vintage-motor gereël het. Foto: Facebook/Hoërskool Garsfontein.

LEES OOK: School community in mourning after former principal dies

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button