News

Sterilisasiedag: Talle inisiatiewe help diere en mense

'n Gebrek aan geld en vervoer staan dikwels in die pad om diere te steriliseer, glo ’n dierewelsynswerker. Sy het 'n plan gemaak om dit makliker vir diere-eienaars te maak om hul diere te steriliseer.

Jaarliks word daar wêreldwyd een dag afgestaan om almal meer bewus te maak van die voordele van sterilisasie van honde en katte.

Vanjaar val die dag op 25 Februarie.

Op so ’n Wêreld Sterilisasiedag beklemtoon dierewelsynsorganisasies die kritieke belangrikheid daarvan om troeteldiere te steriliseer om dierewelsyn te verbeter.

Dorette Smit, ’n dierewelsynwerker van Pretoria-Noord by ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag, Pawesome Wacky Whiskers: Rescue and Rehoming, glo sterilisasie is van kardinale belang.

Die organisasie doen diere-uitreike wat sterilisasie, inentings en veeartsbehandelings vir minderbevoorregte gesinne insluit en werk saam met Kruin-veeartskliniek.

Smit en haar span het ’n unieke betalingsmodel ontwerp om sulke gesinne te help.

“Ek glo 90% van minderbevoorregte mense wil graag hulle diere steriliseer. Hulle het net nie altyd die fondse of vervoer nie. Ons help Sassa-geregistreerde persone, asook huishoudings wat onder R15 000 per maand (tesame as huishouding) verdien met spesiale tariewe om hulle diere gesteriliseer te kry,” sê sy.

“Ons bied dan ook vir hulle afbetaal oftewel lay-by opsies om die fondse terug te betaal soos hulle kan op ’n maandelikse basis. Ons is nooit onredelik nie. Ons het hierdie opsie ingebring omrede ons sterk voel dat jy steeds verantwoordelik moet voel vir jou troeteldier se welstand. Daar is wel gevalle waar die gesin geen broodwinner het nie en nie Sassa ontvang nie. Hierdie gesinne help ons gratis,” verduidelik Smit.

Gedurende die winter van 2024, het Smit se organisasie saam met twee andere, ’n winterkatsterilisasie-projek aangepak wat oop was vir die publiek. Die koste was R200 per katsterilisasie en vir die eienaar se onkoste.

“Meer as ’n duisend katte is gedurende hierdie tydperk gesteriliseer. Met die projek het ons probeer kyk of daar minder ongewenste babakatjies gebore kan word. Dit het wel ’n effek gehad met minder navrae wat ons ontvang het om klein katjies in te neem na die piek katjie-geboortetyd. Tans het ons ’n Sassa en lae inkomste-sterilisasieprojek tesame met twee ander organisasies. Ons is reeds vol bespreek,” vertel sy.

Normaalweg kos ’n sterilisasie gemiddeld vir ’n mannetjieskat min of meer R1 200 en min of meer R1 750 vir wyfiekatte. Vir honde kos dit gemiddeld vir ’n reun R1 800 tot R2 250 om te steriliseer en vir ’n teef R2 360 tot R 3 450.

Faktore wat die koste beïnvloed is die troeteldier se ouderdom en grootte, die prosedure wat uitgevoer word en die gewig van die teef.

Sy glo regulering kan ’n groot rol speel om die geboorte van werpsels honde of katte van ongesteriliseerde diere te verhoed.

“Daar is geen wetgewing tans in Tshwane wat dit verpligtend maak dat ongeregistreerde diere gesteriliseer moet word nie. Dit is ’n probleem.”

Smit is dankbaar vir die hulp van Werna Venter en haar organisasie sonder winsbejag wat hondsdolheid bestry, Carlie Rooivlag Hondsdolheidbewusmaking. Danksy hierdie hulp kon Smit alle diere wat ingekom het vir sterilisasie van Zambilife-wildekatkolonies ook teen hondsdolheid inent.

Venter glo die bestryding van rondloopdiere en bekamping van hondsdolheid gaan hand aan hand.

“Met duisende verdwaalde en verlate diere wat elke jaar skuilings regoor Suid-Afrika binnegaan, is sterilisering en inenting teen hondsdolheid noodsaaklike stappe om dierebevolkings te beheer en onnodige lyding te voorkom,” sê Venter.

Antoinette van der Merwe van Sterrewag Ferals in Waterkloof, glo vas sterilisasie is noodsaaklik vir wilde en mak katte.

“Ons primêre doelwit by ons wildekatkolonies is om die diere te vang, te steriliseer en terug na die kolonies te neem om sodoende die aanteelsiklus te breek, en dus die bevolking te beheer. So kan ons die aantal wilde katte verminder,” glo Van der Merwe.

Sy verduidelik dat wilde katte wat gesteriliseer word, agterna ’n klein snit in hul oor kry.

Met so snytjie word ’n klein gedeelte van die oorpunt chirurgies verwyder. Dit is ’n visuele merker wat aandui dat die kat gesteriliseer is, gewoonlik as deel van ’n versorgingsprogram vir gemeenskapskat- of wildekatkolonies en ’n universeel-erkende teken dat die kat nie weer geneem moet word vir sterilisasie nie.

Vir haar is daar baie gesondheidsvoordele om wilde katte te steriliseer.

“Dit stabiliseer die kolonie en verminder die grootte van kolonies. Vir hierdie katte verminder dit ook genadedoodrisiko’s. Wilde katte kan nie by eienaars hervestig word nie. Wanneer hulle by skuilings beland, word hulle dikwels uitgesit. Ongeneuterde mannetjies baklei gereeld en dit lei tot ernstige beserings wat moeilik is om in die kolonie te behandel en die gebytery en gekrappery versprei verder ook siektes. Gesteriliseerde kolonies is ook stiller as gevolg van geen paarseisoene nie. Sterilisasie verlaag ook die risiko’s van sekere kankers by katte soos testikulêre kanker,” verduidelik sy.

– Kliek hier vir Pawsome Whacky Whispers Rescue and Rehoming: https://bit.ly/3EsJl52

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button