Suksesvolle veiligheidstoepassing word verder uitgerol
'n Stadsverbeteringsdistrik het 'n belangrike rol om te speel om gemeenskappe veral veiliger te maak, glo die bestuurshoof in Pretoria.
’n Proeflopie met ’n misdaadrapporterings-rekenaartoepassing in 2024 vir die beveiliging van veral studente en personeel van die Universiteit van Pretoria, was só suksesvol dat die toepassing nou na ’n groot groep uitgebrei gaan word.
Só sê Lucas Luckhoff, uitvoerende bestuurder van die Hatfield-stadsverbeteringsdistrik.
Die toepassing is geskep om misdaad in die Hatfield-stadverbeteringsdistrik te bekamp.
Luckhoff het die Pretoria Sakekamer toegespreek in Centurion op 19 Februarie oor die waarde wat stadsverbeteringsdistrikte as organisasies sonder winsbejag tot gemeenskappe kan toevoeg.

Die misdaadrapporterings-aanpassing is in 2024 aan 6 000 studente en personeel bekend gestel.
Die bewese sukses daarvan, veral ten opsigte van die paniekknoppie-gerief, dra nou by tot die uitrol van die projek in die distrik aan meer as 50 000 studente en 10 000 personeellede.
Luckhoff se droom en visie met die beveiliging op hierdie en ander maniere van die distrik is “om ’n wêreldklas veiligheidstelsel daar te stel omdat ’n wêreldklas universiteit soos die Universiteit van Pretoria dit verdien”.
Hy erken ruiterlik: “Ek eet, leef, drink en slaap Hatfield.”
Hy het die sukses wat reeds behaal is met die rekenaartoepassing ook toegeskryf aan die samewerking van die stadsverbeteringsdistrik se veiligheidspan met die spanne van verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye.

“Sedert ons stigting kort na die draai van die eeu, het ons besluit hoe sien ons die distrik wat ’n spesifieke afgebakende gebied van sowat twee by twee kilometer rondom die universiteit insluit. Ons het besluit om die distrik te sien as ’n studentedorp binne Pretoria en dit met hierdie ingesteldheid te bestuur,” verduidelik Luckhoff.
Wanneer ’n gebruiker in ’n noodsituasie die paniekknoppie van die toepassing gebruik, registreer die ligging van die veiligheidsvoorval onmiddellik met die distrik se veiligheidspan sowel as omliggende veiligheidspanne van privaat maatskappye. Só ’n aanmelding maak onmiddellike optrede moontlik.
Luckhoff erken bekamping van misdaad en handhawing van veiligheid in die stadsverbeteringsdistrik is nie aldag ’n maklike taak nie aangesien talle nagklubs in die distrik voorkom.

Hy is uitgesproke oor die omstrede nagklub Zanzou wat onlangs in die nuus beland het nadat die metro byna 45 videos ontvang het wat wys hoe klubgangers na bewering deur veiligheidswagte by die nagklub mishandel word.
“Die klub val buite ons gebied. Ek hoop dit word behoorlik ondersoek en die nodige optrede daarteen ingestel,” het Luckhoff aan Rekord gesê.
Hy het aan die gehoor van sakemanne en -vroue erken die taak om studente veilig te hou word bemoeilik omdat hulle “nog vis nog vlees is in ’n omgewing waar alkohol en dwelms geredelik beskikbaar is. Maar dis my en my span se werk om seker te maak hulle is veilig en dis hierdie taak wat ons ernstig opneem”.
Die misdade wat die meeste in die distrik aangemeld word is straatgevegte (meer as 240 in een jaar), ligte motorongelukke (meer as 200 per jaar) en die gryp van selfone.

Meer as 70% van die stadsverbeteringsdistrik se begroting word aan sekuriteitsmaatreëls bestee.
Luckhoff het die lof besing van die stadsverbeteringsdistrik se hoof van veiligheid, Deon van Rensburg.
“Hy is ’n voormalige soldaat wat 15 jaar op olieplatforms gewerk het en weet hoe om krisisse te hanteer. Hiervan kan vele studente reeds getuig. Dis die kwaliteit mens wat die sheriff van ons studentedorp is.”
Luckhoff wys daarop dat eiendomme in hierdie verbeteringsdistrik van die min eiendomme in Pretoria is waarvan die waarde toegeneem het.
Hy skryf dit aan verskeie verbeterings- en verfraaiingsfaktore toe.
Die metro bepaal die mandaat van waarvoor stadsverbeteringsdistrikte mag verantwoordelikheid neem en wat aan die metro oorgelaat moet word.
Sodanige mandaat vir ’n stadsverbeteringsdistrik laat onder meer toe dat in die afgebakende area kameras vir veiligheid geplaas kan word, slaggate en plaveisel herstel kan word, en stukkende beligting rapporteer kan word.
Die distrik het 38 kameras wat ook op nommerplaatherkenning werk. Die stadsverbeteringsdistrik help hierdeur ook die polisie om veral motordiewe vas te keer.
Die finansiering van die stadsverbeteringsdistrik word deur ’n heffing op eiendomswaardes gedoen, verduidelik Luckhoff.
Hiervoor word herwaardasies van eiendomme sowel as ’n regverdigheidstoets gedoen om betaling van ’n heffing op ’n glyskaal te bewerkstellig.
“Ons het 100% deelname deur die eiendoms- en sake-eienaars in ons distrik.”
Hy skryf die verdere suksevolle inkoop van eiendoms- en sake-eienaars toe aan ook onder andere die skoonmaakspan se toegewydheid om die area skoon te maak en skoon te hou. Spesifieke strate en areas word aan so ’n span of skoonmaker toegeken sodat persoonlike verantwoordelikheid daarvoor geneem kan word.
In 2024 het die spanne 78 000 vullissakke vol rommel uit die stadsverbeteringsdistrik verwyder waarvan als herwin is, meer as 300 slaggate is reggemaak en 500 bome is gesnoei om die area veiliger te maak en te verfraai.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
