News

Tannie Dolly groet na 55 jaar agter die orrel

Vir Dolly Pienaar het kerkmusiek altyd 'n belewenis gebly. Onderdeur "kwaai" ouderlinge en predikante, haar ses kinders se streke en gespanne bruide, het sy kop gehou.

Toe Dolly Pienaar op 23 Februarie 2025 agter die orrel op die balkon van die Voetspore-gemeenskapskerk inskuif op 88-jarige ouderdom, was dit vir die laaste keer na 55 jaar as orrelis en koorleier in dié Lyttelton-kerk.

Heel gepas vir die positiewe en opgeruimde ma van ses en ouma van vele, het sy musiek voor die 09:00 diens ingelui met die liedjie met die refrein: “Come what may, we believe in tomorrow”.

Die bekende gesig agter die orrel tydens talle oggenddienste, begrafnisse, huweliksplegtighede sowel as kooroptredes, het tydens die erediens liedere soos “O Heer my God”, “Prys Hom die Hemelvors” en “Aan Jesus, Koning al die eer” op haar toegewyde en sorgsame manier gespeel.

Dolly Pienaar speel vir oulaas orrel in Lyttelton-Oos se Voetspore-gemeenskapskerk.

Min weet die gemeente dat Tannie Dolly haar sjiek skoene uitskop om die pedale beter te kan bykom.

Die petite en elegante kaalvoet-orrelis van Lyttelton is immers so tuis agter die orrel dat sy bekend daarvoor is dat sy self so bo-oor die vals en gebreekte note speel, dat niemand dit eers sal agterkom nie.

Moenie sommerso glo dat Tannie Dolly, soos almal haar noem, altyd vriendelik was met ’n gemeente wat dalk te “trekkerig” sing nie.

Gemeentelid en vriend van die Pienaar-familie, Dries van der Merwe sê nie verniet nie: “Dolly sou maklik omdraai op die balkon waar die orrel staan en die gemeente taktvol vermaan om ‘nie so te trek nie’.”

Haar kinders, waaronder tweelingseuns, het haar menige diens ’n kopseer besorg tydens haar begeleiding.

Dolly Pienaar

Om kop te hou tydens hul kwajongstreke, was soms ’n saak van gebed agter die klawers.

“Daar was mos nou nog nie ’n moederskamer toe hulle klein was nie. En hulle was woelig. Die grotes het maar die kleineres grootgemaak so terwyl hulle wegkruipertjie in die kerk gespeel het en terwyl ek die gemeente moes begelei.”

Haar eggenoot, Darryll, was ’n vlieënier vir ’n lugredery, en sy moes dikwels eiehandig vir ’n week die sesstuks grootmaak.

Op ’n slag, terwyl sy besig was om tydens ’n huweliksbevestiging die troumars te speel, het sy uit die hoek van haar oog waargeneem hoe die tweeling die leer na die kloktoring bestyg.

“Mens kan baie liedjies in die middel stop, maar nie die troumars nie! Ek het maar net stilweg gebid dat hulle weer veilig sal afkom, niks sal breek nie, en dat die klok ook veilig sal wees.”

Sy het op 13-jarige ouderdom in die Vrystaatse dorpie Frankfort begin instaan as ’n aflos vir die gemeente se orrelis.

“Ek onthou nog hoe die dominee by die skoolhoof toestemming moes vra as ek by begrafnisse in die week moes gaan speel het!”

Sy vertel trots hoe sy uit ’n musikale familie kom met twee familielede wat aan konservatoriums as personeellede verbind was.

Dolly Pienaar vir oulaas agter die orrel.

Die eerste lied wat sy in ’n kerk moes speel, was Psalm 136.

“Die predikant was baie kwaai. Die orreliste het my darem so paar dinge vooraf gewys. Ek kon darem toe al klavier speel en het ’n paar jaar daarna al my klaviergrade gekry. Orrel was egter gou vir my lekkerder as klavier.”

Sy het in haar 55-jaar agter die orrel se klawers oraloor Pretoria se kerke weer ’n paar “kwaai” ouderlinge en predikante teëgekom en dink veral aan ouderlinge soos At Viljoen en Willem Landman.

Die een orrel wat sy graag uitsonder waar sy ’n diens kon lei, is die orrel van die NG Kerk Arcadia.

“Daar is drie klawerborde so bo mekaar en ek kon die gemeente tot ’n heerlike hoogtepunt in die lied lei met stemme wat lieflik styg. Dit was vir my al die jare die lekkerste: Om die gemeente na so ’n crescendo tydens ’n lied te kan begelei.”

Vra jy uit na hoe sy dit so lank agter die orrel uitgehou het, antwoord sy vinnig: “Oefening en hulp van bo. Met my katkisasiejare het ek ’n Woord by die Here gekry uit Jeremia 43 dat ek Syne is en dat Hy my op die naam genoem het. Ek hou nog altyd daaraan vas.”

– Kliek hier om na een van die liedere tydens Dolly Pienaar se laaste optrede as orrelis te luister:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button