News

Moot-tuiniers het die groenste vingers

Drie aftreeoorde in die Moot het met die eerste, tweede en derde prys in 'n tuinboukompetisie weggeloop.

Die Ons Tuis: Woeker en Werk-Tuinekompetisie is deur die Emily Hobhouse-span in Capital Park gewen met die Seniorstuis Sentrum in Soutpansbergweg tweede en Seniordal in Rietfontein in die derde plek.

Die Woeker en Werk-Tuinekompetisie van die groep vir bejaardes, Ons Tuis, het op 1 September 2024 amptelik afgeskop vir die tweede agtereenvolgende jaar.

Gedurende dié kompetisie ding Ons Tuis-groep se agt aftreefasiliteite in drie provinsies mee om die titel van die mooiste tuin.

Alle tuine moes teen 15 November 2024 voltooi gewees het. Die tuine is daarna deur onafhanklike tuinkundiges geëvalueer.

Die beoordelaars het gefokus op aspekte soos ontwerp, verskeidenheid van plante, kleurskemas, watergebruik, ruimtebenutting, en die algehele visuele impak van die tuine.

Die kompetisie vorm ’n integrale deel van die aktiewe verouderingsprogram by die onderskeie fasiliteite.

Daleen Gouws, woordvoerder van die Ons Tuis-groep, sê die tuinekompetisie verleen ’n geleentheid aan die plaaslike gemeenskap en verwante organisasies om by te dra tot hierdie spesiale projek.

“Daar was ’n positiewe mededingingsgees tussen die inwoners. Hierdie kompetisie is ’n geleentheid om die tuine te laat blom en die inwoners nader aan mekaar te bring,” wys Gouws uit.

Marnix van Straten van Plantcare Services in Pretoria het die taak van beoordelaar by vanjaar se kompetisie gehad en het veral opgelet na kleur, vorm, tekstuur en digtheid.

“Dit was ook vir ons belangrik om te kyk na hoe inwoners met mekaar en die gemeenskap rondom hulle kommunikeer,” sê Van Straten.

Hy het ook opgelet na die keuse van plante om harmonie in die tuin te bevorder sowel as doeltreffende watergebruik.

“’n Mooi tuin maak onmiddellik ’n goeie indruk. Só ’n tuin wys respek vir die skepping en word ’n wêreld wat inspireer,” glo hy.

Ds. Frikkie van Wyk, voorsitter van die Ons Tuis-groep, meen die kompetisie het die kreatiwiteit van die inwoners na vore gebring.

“Ek is trots op al ons Ons Tuis-sentrum se tuine. Ek sou almal laat wen het!”

Annelie Nel van die Ons Tuis: Seniortuis Sentrum in die Moot wat tweede geëindig het.

Ons Tuis Machteld Postmus in Brooklyn, wat die vorige Woeker en Werk-Tuinekompetisie gewen het, het ook vanjaar hul beste tuine ingeskryf.

Wenners het produkte ontvang van tuinmaatskappye om hul tuine te verfraai.

– Kliek hier om meer van die kompetisie te wete te kom.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button