TV-reeks bring herinneringe aan liplekker lamstjoppies
Skaap- of lamstjoppie? Tjoppie of kotelet? Almal het 'n voorkeur!
Elke sappige lamtjop het ’n storie. Dit is ’n storie van gesinne wat voor sonsopkoms begin werk, van generasies se sorg en toewyding, van trots op ’n produk wat met eerlikheid en harde werk grootgemaak is.
Dit is die storie van familieboere – en dit is hoekom ’n organisasie vir familieboere, Southern African Agri Initiative (Saai), hul projek Lamb Champs begin het.
Met hierdie projek word verskeie veldtogte geloods soos jaarlikse kompetisies rondom die beste skaapvleis, beste braaiers, beste skaapkop-eters en nou ook ’n TV-reeks wat ses skaapboere se stories oor hul boerdery van regoor Suid-Afrika vertel.
Minki van der Westhuizen is die aanbieder van die reeks wat op 16 Maart begin en het onlangs die reeks se bekendstelling in Pretoria behartig.
“Hierdie is nie net ’n landboureeks nie – dit is ’n storie van familie, tradisie en erfenis. Dit is ’n uitnodiging aan verbruikers om te sien waar hul vleis regtig vandaan kom,” sê Theo de Jager, uitvoerende direkteur van Saai.
Rekord het met ’n paar fynproewers van skaap- en lamsvleis gesels om te hoor wat hul verwagting van ’n lekker stukkie skaapvleis soos ’n skaap- of lamstjoppie is.
Magda Moelich is die vrou van Joos Moelich, ’n skaapboer van die plaas De Ganna naby Williston in die Noord-Kaap. Moelich vertel sy verkies skaaptjoppies met ’n effense vetrandjie om die tjoppie.
“Dit maak die vleis sappig, terwyl die vleis dan ’n sterk Karoo-geur het. Die smaak en tekstuur van die skaaptjoppies word beslis beïnvloed deur die dieet van die skaap. Die geheim is om net suiwer sout oor die vleis te strooi sodra dit op die rooster gepak is. Sout weer aan die ander kant na die eerste draai. Mense is geneig om speserye oor skaaptjops te strooi en dan proe jy meer speserye as vleis,” vertel sy.

Sy maak ’n belangrike punt: “Daar is ’n verskil tussen skaap- en lamstjops. Skape het al tande gewissel en lammers nog nie.”
Vir wrakspeurder, vlieënier en skrywer, Wouter Botes van Pretoria-oos, is als rondom vleis ’n baie persoonlike keuse.
“Indien jy kindertyd op ’n plaas grootgeword het, waar vleis daagliks deel is van die etes, bly die liefde daarvoor jou deur jou jare by. Jy raak ook baie puntenerig oor snitte, vetinhoud, speserye en veral hoe vleis voorberei word. Braai bly ook ’n kunsvorm en jy ontwikkel later jou eie vingerafdrukmanier van vleis gaarmaak op kole, gas of hout,” verduidelik hy.
“Skaap en lam bly egter die kroon van vleise. Van die Sondag-skaapboud, tot die gerookte rib, tjoppie en ook skenkels. My vriend Gordon Rudolph by Willoway Super SPAR weet presies hoe om elke snit te sny en te verpak. Dit bly my gunstelingplek waar ek skaap en lam kry,” vertel Botes.
Lizzy Jacobs van Pretoria-Noord wonder of die woord lamskotelette nog gebruik word.
“As jy vir my sê lamstjop, dan maak ek my oë toe en sien ’n gaar lamstjoppie, nie ’n skaaptjop nie! Ek sien ’n lamstjop! Een wat niks minder as 3cm dik gesny is nie en met só ’n mooi blink goudbruin gebraaide vetjie en dan ook daardie unieke reuk van ’n lamstjop,” sê Jacobs.
“’n Skaaptjop moet jy liefs maar vroegdag begin marineer voor jy hom aan die vuur bekendstel. Moenie ’n fout maak nie – dié is net so lekker en hy is ’n raps groter as ’n lamstjop maar taaier.”
Sy vertel skaapvleis laat haar terugdink aan haar kinderjare op die plaas.
“My pa het self op die plaas geslag. Daardie jare was daar nog nie ’n Meat Master vleissaag nie. Die karkas is met ’n ystersagie bewerk, dus is die karkas nie in die middel van die rugstring gesaag nie maar weerskante. Daardie tjoppies word Butterfly chops genoem, oftewel twee tjops in een. Hierdie snit raak nou weer mode maar dit is nie by al die slaghuise beskikbaar nie. Ek kry deesdae gereeld by Meatworld Wonderboom, hulle sny dit spesiaal vir jou en doen regtig moeite met die verpakking,” vertel sy.
Colbyn-inwoner Francois Rossouw van Saai glo wel aan die woord lamskotelette.
“Die ryk, unieke geur is net ongelooflik, veral as jy dit met ’n bietjie roosmaryn en knoffel opdis. Die tekstuur is ook ’n wenner – lekker bros aan die buitekant en sappig aan die binnekant.
“En weet jy wat? Ek geniet regtig die Lamb Champs-reeks lamsvleis by Pick n Pay in Woodlands. Dit is altyd van topgehalte en perfek vir enige geleentheid. Lamskotelette is vir my nie net lekker nie, maar hulle bring ook goeie herinneringe van gesinsbyeenkomste en spesiale geleenthede.”

Carien Jacobs, voedingskundige van Pretoria-oos, vertel haar gedagtes dwaal terug na haar kinderjare op ’n Vrystaatse plaas as jy van skaapvleis praat.
“Vandag, na baie jare besef ek die lekkerte van ’n tjoppie begin al by die opsny daarvan. Skaapvleis en veral ’n tjoppie het ’n luukse geword in die stad omdat skaapvleis duur geword het. ’n Skaaptjoppie is op sy lekkerste wanneer dit net van die vuur af kom en dadelik voorgesit word,” glo Jacobs.
Sy berei ’n skaaptjoppie voor deur dit met ’n goeie sout te besprinkel en ’n paar druppels vars suurlemoensap bo-op te drup om vleis se bindweefsel te versag.
“Ek hou daarvan om die tjoppie vir 20 minute te laat rus voor ek dit op ’n vlekvrye staalrooster op ’n warm vuur braai. Seël eenkant goed op die warm kole, voordat jy dit met ’n voedseltang omdraai om ook aan die anderkant te braai. Mens moet altyd die braaityd aanpas by die dikte van die tjoppie sowel as die hitte van die kole.”
Hier volg wenke van lede vir die gaarmaak van tjoppies van die grootste Afrikaanse tuiskokgroep op Facebook, Hutspot Resepte:
Pieter Opperman sê braai tjoppies op die kole, met net die oranje bottel se braaisout en bietjie swartpeper, tot daardie vetjies krakerig is. “Selfs in die lugbraaier werk dit vir my. Dan gooi bietjie Worcestersous, ’n paar druppels suurlemoensap oor en ’n takkie roosmaryn bo-op.”
“Vet Karoo-tjoppies rock!” glo Oppermann.
Sandra O’Connel marineer nie oor die algemeen lamsvleis nie, maar sou sy die dag so wil maak, laat sy dit net oornag lê in ’n bottel gekoopte Griekse slaaisous. Dié slaaisous het die perfekte balans van olie, asyn, knoffel en Mediterreense kruie.
“Stadige gaarmaakproses oor kole of in oond is die geheim vir ’n sappige vleisie vol geur,” glo sy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
