News

Noodknoppie op erfenis-selfoontoep kan bakens red

Erfenisbewaring het 'n hupstoot gekry met die bekendstelling van 'n nuwe selfoontoepassing waarmee gebruikers kan saambou aan 'n databasis vir bewaring.

In die toekoms gaan dit veel makliker wees vir geskiedenisliefhebbers en erfenisbewaarders om geskiedkundige bakens wat bedreig word of verwaarloos is, aan te meld sodat aandag daaraan gegee kan word.

Vir diegene wat ’n toer van geskiedkundige bakens in ’n spesifieke omgewing wil beplan, is daar ook goeie nuus sowel as vir almal wat ’n aanmeldingsplek soek om skade aan bakens vinnig te rapporteer sodat daar onmiddellike stappe geneem kan word.

Hierdie aksies kan nou plaasvind danksy die nuwe Erfenistoepassing (app) wat op 7 Maart deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) in Pretoria geloods is.

Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, het tydens die bekendstelling in die Kruger-galery van die Voortrekkermonument gesê dat die toepassing ’n strategiese stuk gereedskap vir bewaarders van kultuur is.

“Dis veral die meewerk aan die opstel van ’n volledige databasis van kultuurskatte, wat ek dink die publiek sal geniet,” glo hy.

Met die toepassing op jou foon sal jy by ’n geskiedkundige baken ’n foto daarvan kan neem en die selfoonfoto na ’n databasis kan oplaai wat dan die foto aan alle gebruikers beskikbaar maak.

Omdat die toepassing skakel met Google-kaarte, sal die GPS-koördinate van jou foto registreer. So kan ander gebruikers dan ook die pad soontoe vind indien hulle ’n besoek daar sou wou aflê.

Soos wat jy foto’s oplaai, sal jou eie bladsy vol foto’s van reise en bakens afgeneem en opgelaai, ook beskikbaar word op die bladsy wat die toepassing vir jou geskep het.

Jy kan ook dan kommentaar lewer oor die toestand van die baken, jou waarnemings daaroor weergee, asook ’n noodknoppie kan gebruik om jou kommer te vermeld.

Jy sal ook nuwe bakens en geskiedkundige plekke kan aanmeld asook in jou omgewing ’n radius kan bepaal waarbinne jy kultuur-ervarings wil beleef en selfs aan kompetisies kan deelneem. Hierdie soekfunksie sal dan aan jou verskeie opsies naby aan jou uitwys.

Müller voel positief daaroor dat die toepassing tegnologiese deure na erfenisbewaring sal oopmaak vir ’n nuwe, jonger geslag nuuskierige Suid-Afrikaners wat meer van kultuurbates wil weet en nuuskierig is oor bakens en monumente.

“Met die toepassing hou jy geskiedenis en erfeniservarings in die palm van jou hand vas. Dis ’n manier om ons erfenis lewendig te hou,” sê hy.

Hy sien uit na hoe selfs huismuseums mettertyd ook op die aanpassing geplaas en beskikbaar gestel kan word.

Benewens die bekendstelling van die toepassing, het die FAK ook ’n nuwe afdeling op sy webtuiste bekendgestel.

Erfenisavonture bied insiggewende artikels en inligting oor ’n verskeidenheid toere regoor Suid-Afrika wat die FAK aanbied as reiskoördineerder.

Karen Stoffberg en Lucia van Wyk

Die toer stel reisigers in staat om geskiedenis op ’n tasbare manier te ervaar.

Daar is dagtoere asook geskiedkundige wegbreke wat reisigers na ikoniese bakens neem – van die Wes-Kaap en Noord-Kaap tot Gauteng en Limpopo.

Van die toere wat vanjaar aangebied word is die Wesfrontvasbyt. Dis ’n staptog saam met dr. Louis Bothma, historikus en skrywer, op die terrein van die Slag van Paardeberg en die Rebelspoorvasbyt, ’n staptog in die Kalahari waar deelnemers op die spore van die rebelle van 1914 stap.

Volgens Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, bied Erfenisavonture ’n uitnodiging aan almal om die verlede te belééf.

“Deur hierdie toere en spesiale inhoud word geskiedenis lewend en tasbaar.”

– Kliek hier om die skakel na die erfenistoepassing te vind en af te laai: www.fak.cloud4.co.za/android/

Om die toepassing te gebruik, meld aan met die identifisering: fak.
Hierdie weergawe is tans slegs beskikbaar vir Android-toestelle.

– Kliek hier om die skakel na die Erfenistoere te kry: https://fak.org.za/kultuur-en-geskiedenistoere

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button