News

Selfs inbraak kan nie Moot-sanger se drome kelder nie

‘n Countrymusieksanger en liedjieskrywer van die Moot word weer en weer deur Suid-Afrikaners geluister wat veral in die landbousektor in Amerika werk, maar hy raak nou ook danksy toere na die platteland wyd en syd in Suid-Afrika bekend.

Toe countrymusiek-sanger en liedjieskrywer Logan Pietersen se klanktoerusting van sowat R60 000 in November 2024 vanuit sy bakkie gesteel is, was dit ’n reuseterugslag vir die jong sanger se lewe en loopbaan.

“Desember is die besigste tyd vir ons as kunstenaars, en ek het ’n hele paar vertonings op die horison gehad. Die inbraak het onverwags gebeur, en versekering op sulke toerusting is baie duur. Maar ons het ’n plan gemaak en hier is ons nou, terug op die verhoog,” vertel die oud-inwoner van Mookghopong (Naboomspruit).

Die verhoog waarvan hy praat, was in Pretoria-oos, waar hy die eerste week van Maart sy nuwe enkelsnit “Whiskey en Water, Rooiwyn of Jy?” bekendgestel het.

Skuins voor die inbraak op 8 November het hy sy nuutste enkelsnit “Nie Nou Nie” bekendgestel – ’n liedjie oor onsekerheid en die stryd om reg te laat geskied in die lewe.

Die gewilde Pietersen kon betyds aan die gang kom vir Desember se vol program. Danksy ’n goedhartige lening van ’n musiekweldoener wat al langer as 30 jaar in die bedryf is, asook ’n kompetisie wat deur vriende en bewonderaars georganiseer is, en die herstel van sy eertydse toerusting wat gestoor was.

“Elke druppel in die emmer het gehelp!”

Mootsanger Logan Pietersen

Hierdie country-sanger en entrepreneur is nie iemand wat jy maklik onderkry nie. Hy kén swaarkry. Veral die verlies van sy ma en suster aan die dood die afgelope paar jaar het hom ’n klomp lesse op die harde manier geleer.

“Ek is ’n empaat, maar trek my nou meer as ooit ander mense se emosies aan,” vertel hy.

Pietersen is veral bekend vir ’n opdragliedjie wat hy sowat twee jaar gelede vir Suid-Afrikaanse boere wat in Amerika werk, geskryf het.

“Bring My Terug” het meer as 124 000 trefslae op Spotify behaal. Hy het die lied later opgevolg met “Afrikaner Boervrou”, wat die verhaal vertel van geliefdes wat agterbly.

“Ek is trots om te sê dat ek die gesig van die Country Musiek Playlist op Spotify is! Dit is ’n groot eer om my musiek op só ’n platform te kan deel, en ek is net daar danksy my bewonderaars se ondersteuning.”

Oor sy liedjie vir die boere wat in Amerika werk, sê hy: “Dit is ’n bitter pil vir baie mense, of jy nou vertrek of agterbly, om op ’n lughawe te staan en iemand te groet omdat jy geld in ’n ander land moet gaan verdien. Ek probeer om ondersteuning aan daardie mense te gee en het self baie seën daaruit gekry,” vertel hy. “Ek wens ek kon die wêreld in een oogwink vir almal ’n beter plek maak.”

Pietersen se musiek en vertonings is nie net in Amerika, op feeste soos Aardklop en Via TV bekend nie, maar ook van Kuruman tot Albertinia.

Tussen die twee dorpe het hy en sy lewensmaat, TV-persoonlikheid Tanya Michelle, onlangs 24 000 km vir ’n musiektoer afgelê om musiek na die platteland te bring.

“Elke bestemming was ’n nuwe avontuur,” vertel Pietersen.

Oor sy nuwe enkelsnit sê Pietersen dat alhoewel die titel “Whiskey en Water, Rooiwyn of Jy?” soos ’n kuierliedjie klink, het die liedjie se simboliek ’n dieper betekenis.

Die verskillende drankies in die titel is volgens hom metafories: whiskey en water simboliseer eensaamheid, terwyl rooiwyn geselligheid en warmte verteenwoordig.

“Die liedjie gaan oor dinge soos seerkry en teleurstelling in verhoudings. Die lewe is mos nie altyd maanskyn en rose nie,” glo die vriendelike en opregte sanger.

“Ek wil hê hierdie lied moet mense in die hart tref en as ’n soort medisyne vir die hart dien.”

Logan Pietersen tydens die maak van ‘n video-opname van sy nuwe enkelsnit in die vervalle Capitol-teater in die middestad van Pretoria.

Die musiekvideo van die liedjie is in die ou Capitol-teater in die middestad van Pretoria opgeneem.

Die teater is in September 1931 geopen en is in ’n Italiaanse Renaissance-styl ontwerp met dekoratiewe balkonne en ’n plafon geverf met sterre en bome. Met verloop van tyd is die teater in 1974 gesluit en is die reuse foyer-ruimte onder meer as parkeergarage en nagklub gebruik.

Tydens die skiet van die video het die vervalle outydse elegansie Pietersen nostalgies gestem.

Hy vertel hoe hy en Michelle met die deurstap van die Pretoria middestad saam gevoel het hulle sien ’n stad waarin vernuwing behoort te kom.

Pietersen sê om in die ou teater te kon staan “het my laat voel asof ek die herinneringe van die eertydse skoonheid daarvan kon beleef. Dit is die perfekte refleksie van my nuwe liedjie”.

Kliek hier om na Pietersen se nuwe enkelsnit te luister: https://www.vonk.co.za/logan-pietersen-stel-nuwe-enkelsnit-whiskey-water-rooiwyn-of-jy-vry/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button