News

Swembad vir skole en nuwe park deel van Moot-inisiatiewe

Twee inisiatiewe, een om ’n nuwe park te vestig en die ander om as gemeenskap verantwoordelikheid te neem om ’n munsipale swembad vir skole oopgestel te kry en te bedryf, kry tans momentum in die Moot.

Twee projekte in die Moot kry tans momentum en sal inwoners, raadslede en gemeenskapsleiers aanmoedig om verantwoordelikheid vir hul omgewing te neem, veral waar verval ingetree het, die metro nie fondse het nie en opknapping nodig is.

Die eerste is ’n verfraaiingsprojek onder leiding van Johan Potgieter en Brink Oosthuizen van die Queenswood-arm van die Moot-projek.

Hulle beplan om ’n oorgroeide oop stuk grond op die hoek van Webbstraat en Dormerlaan in Queenswood in ’n park te omskep.

Die plan behels om 40 bome, wat deur die metro geskenk is, in die eerste fase te plant. Daarna sal fase twee die uitleg en aanleg van voetpaadjies insluit, gevolg deur fase drie, waarin ’n sitarea gevestig word. Deurlopende instandhouding soos grassny, skoonmaak en natlei, vorm ook deel van die plan.

’n Illustrasie van hoe die park in Webbstraat in die Moot sal lyk nadat die bome deur die Moot-projek geplant is.

Volgens Potgieter beskou die Verenigde Nasies bome as die goedkoopste en doeltreffendste manier om klimaatsverandering teen te werk en ekosisteme te beskerm.

“Die aanplant van bome is noodsaaklik om ’n leefbare omgewing vir ons kinders en hul nageslag te verseker. Drastiese optrede is nodig, en ons wil deur ons boomplant-aksies ’n daadwerklike bydrae lewer teen klimaatsverandering,” sê Potgieter.

Hy beklemtoon dat inwoners en die metro moet saamwerk om Pretoria se bydrae tot globale verwarming te verminder.

“Ons is die laaste generasie wat ’n verskil kan maak. Soos Barack Obama gesê het, is ons die eerste geslag wat die gevolge van klimaatsverandering ervaar, en die laaste wat iets daaraan kan doen.”

Die metro self het ook in 2023 ’n eie boomplantinisiatief aangekondig, naamlik die #Arejwaleng-koolstofkompensasieprogram, wat daarop gemik is om 300 000 bome oor drie jaar te plant.

Oosthuizen voeg by dat die tans oorgroeide terrein einde Maart skoongemaak en die gras gesny sal word om die projek van stapel te stuur.

“Ons is steeds op soek na borge om te help met ’n kruiptrekker om die 40 gate vir die bome te grawe en iemand om te help om die arbeid te borg,” verduidelik hy.

Alle bome wat geplant gaan word, is inheems, met die fokus op witstinkhoutbome.

“Hoewel daar nog nooit ’n park op hierdie stuk grond was nie, glo ons dit sal ’n waardevolle toevoeging wees, veral vir inwoners van Huis Herfsblaar. Dit sal die vierde park in Queenswood wees en sal inwoners die geleentheid gee om die natuur en buitelug te geniet,” sê Oosthuizen.

Die tweede inisiatief wys ook hoe die gemeenskap self verantwoordelikheid wil neem, dié keer vir die heropening van die Tjaart van Vuuren-swembad.

Raadslid Peter Meyer van die Vryheidsfront Plus het ’n proses begin om ’n Gemeenskapsopheffingsarea (CUP) te stig, sodat die swembad, wat sedert Desember 2024 gesluit is weens waterbeperkings, weer beskikbaar kan wees, veral vir skole en leerders.

Die Tjaart van Vuuren-swembad in Villieria sal volgens ’n besluit van die metro gesluit bly totdat waterbeperkings opgehef word. Die 50m-swembad met nege bane is ’n ideale swembad vir skole en swemonderrig.

Die Tjaart van Vuuren-swembad in die Moot voordat waterbeperkings die hekke in Desember 2024 gesluit het.

Meyer sê hy het reeds gesprekke met skoolhoofde in die Moot gevoer, en hulle is opgewonde oor die moontlikheid om weer ’n swembad beskikbaar te hê vir galas, swemlesse en sport.

“My volgende stap is om die beheerliggame te nader en hulle in te lig oor wat die stigting van ’n gemeenskapsopheffingsarea (CUP) by die metro behels,” sê Meyer.

Hy verduidelik dat die metro reeds strukture geskep het soos gemeenskapsopheffingsareas, stadsverbeteringsdistrikte en Adopt-A-Spot, om gemeenskappe by die bestuur van sekere projekte en geriewe te betrek. Inwoners kan help met die bewaking van buurte, verbetering van kapitaalstruktuur teen verval, straatligte, verfraaiing en slaggate.

“Gemeenskappe kan selfs fokus op spesifieke projekte soos hierdie swembad. Dit gaan al hoe meer nodig wees dat gemeenskappe self begin instaan vir dienste en geriewe wat die metro nie meer kan onderhou nie.”

Meyer hoop dat die goeie reënseisoen moontlik sal lei tot die opheffing van waterbeperkings en hoop dat die CUP-ooreenkoms met die metro teen daardie tyd in plek sal wees.

“Die werklikheid is dat, hoewel die metro 20% van erfbelasting aan dienste in ’n area behoort te bestee, dit dikwels nie gebeur nie. Gemeenskappe sal toenemend self die leiding moet neem vir hul omgewings.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button