News

Tshwane het meeste haweloses in SA – verslag

Die metro beplan sy eie haweloosheidstellingprojek vanjaar sowel as om ten minste een haweloosheidskuiling per streek te vestig.

Volgens ’n verslag deur Statistiek Suid-Afrika (SSA), het die Tshwane-metro die grootste aantal haweloses in die land.

Die verslag, Profile of Homeless Persons in South Africa (2022), is in Februarie bekendgestel.

Burgemeester dr. Nasiphi Moya het belowe om haweloosheid die hoof te bied deur deurlopende pogings om die middestad te laat herleef, wat deel van ’n wyer plan is om die haweloosheid-krisis op te los.

Die grootste aandeel van haweloses is in Tshwane aangeteken (18.1%), gevolg deur Johannesburg (15.6%).

Die verslag wys dat in 1996, die amptelike getal haweloses dwarsoor die land 13 135 was. Tans het daardie getal na 55 719 gestyg.

Die demografiese profiel van haweloses wys dat hul hoofsaaklik mans (70.1%) is, terwyl die aandeel jongmense en volwassenes ongeveer 44% en 45% onderskeidelik is, terwyl kinders en ouer mense relatief kleiner proporsies uitmaak (5% and 7% onderskeidelik).

Die bevindinge wys verder daarop dat die oorsake van haweloosheid hoofsaaklik te wyte is aan ekonomiese redes (werkloosheid en gebrek aan inkomste), familie-probleme (geskille, sterftes en ontbinding van huishoudings) en dwelmmisbruik.

Dit behoort egter in aanmerking geneem te word dat die Statistikus-generaal in Oktober 2023 Parlementslede meegedeel het dat die 2022-sensus ’n 3% ondertelling gehad het.

“Al maak die hawelose bevolking minder as 1% van die algehele bevolking uit, toon die opwaartse haweloosheidsneiging ’n verskynsel wat ’n algemene, eerder as ’n uitsondering is vir vele Suid-Afrikaners oor die afgelope drie dekades,” sê SSA.

“Dit is dus van die uiterste belang dat aandag bestee word aan beleide en geteikende ingrypings in reaksie op die opwaartse haweloosheidsneiging om sodoende die impak daarvan te versag.”

Die metro het in sy kommentaar oor die haweloosheidsverslae in Pretoria gesê dat dit beoog om sy eie haweloosheidstellingprojek vanjaar te reël in samewerking met die Universiteit van Pretoria en die Tshwane Haweloosheidsforum.

Die projek is tans in die beplanningsfase maar is onderworpe aan die uitkoms van hulpbronmobiliseringspogings.

Stephan de Beer van die Geloof en Gemeenskapsentrum by die Universiteit van Pretoria (UP) het die eerste voltooide haweloosheidstelling aan Tinyiko Maluleke van die stad se Departement van Gemeenskap- en Maatskaplike Dienste by ’n geleentheid in Hatfield in Maart 2023 oorhandig.

Van die agt metro’s, het Tshwane die meeste haweloses in Suid-Afrika (18.1%).

Die algehele aantal haweloses wat getel is was 4 177, 3 408 waarvan ondervra is.

Die 2023-telling is uitgevoer deur die Eenheid vir Straathaweloosheid by UP in vennootskap met die Tshwane Haweloosheidsforum en die metro.

Moya het Rekord gesê dat sy haar steeds daartoe verbind om die haweloosheidskrisis op te los.

“Die stad se huidige pogings om die middestad te laat herleef deur om vervalle geboue aan te pak maak deel uit van breër pogings om die haweloosheidskrisis op te los,” sê Moya.

’n Onlangse voorbeeld van die multiparty-regering se pogings om die krisis op te los is die amptelike oorhandiging van die Schubart Park-kompleks vir hernuwing deur ontwikkelaars.

Wanneer die werk voltooi is, sal die kompleks maatskaplike behuising verskaf. Dit is ’n stap voorwaarts vir die multiparty-regering se prioriteitsarea vir infrastruktuurontwikkeling, sowel as ’n voorbeeld daarvan dat die stad vir sy inwoners omgee.

“Die uitvoering van aanbevelings wat in die vorige verslag aangegee is nog aan die gang. Verskeie beduidende prestasies is egter sover behaal,” sê burgemeesterswoordvoerder Samkelo Mgobozi.

Hy verwys na die metro se aanbieding van die Haweloosheids-indaba in Julie 2024, wat ’n deurslaggewende platform is wat beoog het om alle relevante belanghebbendes in Tshwane saam te bring. Een van die hoofdoele van die indaba was om die implementering van die aanbevelings en die straathaweloosheidsriglyne te bespoedig.

Volgens Statistiek SA se verslag gedateer 26 Februarie was daar 40 000 meer haweloses in 2022 as in 1996.

Die metro het die vestiging van meer as sewe haweloosheidsskuilings bevorder in samewerking met nie-regeringsorganisies en die Gauteng Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.

Met die 2022-sensus, is haweloses in twee groepe verdeel: diegene wat op straat of in tydelike skuilings (dakloos) is, en diegene wat by skuilings bly. Die resultate wys dat 7 uit 10 haweloses (70.8%) dakloos is, terwyl 29.2% by skuilings bly.

“In ooreemstemming met die Straathaweloosheidsbeleid, bly die metro verbonde daaraan om te verseker dat ten minste een hawelose skuiling per streek gevestig word. Hierdie doel sal deur strategiese venootskappe met organisasies sonder winsbejag en die Gauteng Departement van Maatskaplike Ontwikkeling nagestreef word.”

Om hierdie projek te bevorder sal die metro ongebruikte eiendomme beskikbaar maak om in skuilings omskep te word, wat aan organisasies sonder winsbejag ingevolge formele huurooreenkomste beskikbaar gemaak word.

“Eiendomme is oor verskeie streke van die metro geïdentifiseer wat in addisionele skuilings omskep kan word” sê Mgobozi.

Die metro het provinsiale owerhede om hulp gevra met die oprigting van addisionele skuilings.

“Die provinsiale departement van maatkskaplike ontwikkeling het met die vergroting van die haweloosheidsprogram afgeskop en ’n provinsiale werkstroom gevestig om haweloosheid te prioritiseer. Tshwane sal die metro se befondsingvereistes vir die haweloosheidsprogram voorlê.

“Terwyl die beleid se bedoeling is om ’n informasiesisteem te skep, het kritieke befondsingsbeperkinge beteken dat die implementering van die projek vertraag is,” sê Mgobozi.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button