News

Nuwe hoof wil leerders help om hul beste te gee

'n Nuwe skoolhoof in die Moot wil haar ervaring terugploeg in die gemeenskap waarin sy reeds langer as drie dekades woon.

Die nuwe skoolhoof van Hoërskool Oos-Moot is getrou aan die skool se leuse: “Werk en Oorwin”.

Susan Theron is die eerste vrouehoof in die skool se geskiedenis en glo sulke bestuursposte kom jaar na jaar met harde en toegewyde werk en met ’n fokus op wat saak maak vir ’n gemeenskap.

Sy is ook ’n trotse Moot-inwoner en ’n oud-Oos-Moot-ouer, en verstaan die gemeenskap wat hul leerders aan haar en haar span toevertrou.

“Ons woon al 33 jaar in die Moot. Dit is vir my ’n groot eer en voorreg, om juis hier my bes te doen en om die hoë standaarde van uitnemendheid te handhaaf,” sê Theron.

Voor haar aanstelling op 1 Maart vanjaar in aanvang geneem het, het sy reeds vir ’n aantal maande as toesighoudende hoof by die skool waargeneem. Sy was vantevore ook skoolhoof by Hoërskool C.R. Swart in die Moot.

Theron volg in die voetspore van skoolhoofde soos T.N. Kotze (2020-2024) en S. Hearne (2010-2019).

Die skool is in 1952 gestig as die Derdepoortse Hoërskool met 211 leerders. Die leerdertal beloop nou meer as 1 400.

Ten spyte van al haar jare in die stad, het sy ’n sagte plekkie vir die platteland. Sy het in die Carletonville-omgewing grootgeword waar haar pa geboer het. Hierby was sy boonop op ’n landbouskool, Hoërskool Bekker naby Magaliesburg.

Sy het daarna ’n graad op die Noordwes-Universiteit studeer met spesialisvakke soos toerisme, maar het ook onderwyskwalifikasies verwerf.

“Dit is vir my ’n groot eer en voorreg, om juis hier my bes te doen en om die hoë standaarde van uitnemendheid te handhaaf” – Susan Theron, skoolhoof

Pretoria het haar tuiste geword nadat sy met haar wederhelfte, Charles, getroud is. Sy was hierna meer as 18 jaar verbonde aan die Hoërskool Langenhoven.

“Dit was goeie jare vir my en die skool met die oud-Springbokhaker, Willie Kahts, aan die stuur van die skool. Ek het so baie by hom geleer – veral van skoolbestuur. Hy het diep spore in Pretoria getrap. Ek het respek vir sy bestuursvernuf.”

Vir Theron is daar talle pluspunte aan Hoërskool Oos-Moot en sy sien uit na ’n stewige skof by die skool voordat sy aftree.

“Die ouers gee om, is ondersteunend en die leerders gedissiplineerd. Op die sportveld gebruik ons leerders hul talente en akademies presteer ons. Die Moot se mense is spesiaal en sal ook saamstaan om besoekende skole byvoorbeeld met ’n braai te verras.”

Sy wys trots daarop dat die skool se 2024-matrieks kan spog met ’n100%-slaagsyfer vir die derde opeenvolgende jaar. Die skool is ook op sterkte van hierdie prestasie, sowel as die feit dat die matrieks van 2024 gesamentelik 224 Baccalaureusgraad-toelatings verwerf het, en is as die beste skool in die Tshwane-Noorddistrik aangewys.

Theron is lief vir sport en veral om skolesport by te woon.

“As ek atletiek kyk, word my stres minder,” lag sy.

Sy het goeie rede om langs die baan te ontspan want Oos-Moot het tweede in vanjaar se B-Bond Interhoër gekom.

Met die uitdagings in die onderwys vandag moes sy ook ander uitlaatkleppe vind. Sy woel graag in die tuin en gaan stap in die buurt met haar Bokserhond.

Vir die elegante en meelewende Theron moet klem ook gelê word op die ontwikkeling van leerders se omgeeharte om tydens hul skooljare asook vorentoe in hul lewens tot die gemeenskap se welsyn by te dra en goeie landsburgers te wees.

Sy spog graag met die Oosie Engele, die skool se welsynsarm wat besoeke aflê soos onlangs by die Eden-tehuis waar bejaardes bederf was met lekkernye en ’n sangvertoning. Daarby word daar elke maand ’n waarde vir die skool gekies waarvolgens leerders en personeel moet leef. In Februarie was die waarde stiptelikheid.

’n Paar opwindende ontwikkelingsprojekte is van stapel gestuur waaroor sy opgewonde is soos die opgradering van die pawiljoene, Hertzogstraat-heining en saalverhoog sowel as die hokkieklubhuis.

Haar wens vir die skool is dat “ons steeds sal groei, saamwerk en mekaar inspireer om die beste van onsself te gee”.

LEES: Dogter langs sterfbed van skrywer van 300 romans

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button