News

Berader skep veilige omgewing vir gebrokenes

As berader glo Heté Jordaan dat trauma met berading aangespreek kan word en lei sy gebrokenes om elkeen sy eie pad na genesing te vind.

“Jy kan nie ‘n verhoudingsmaat regpraat nie. Jý moet verander om die situasie te verander.”

Só sê 68-jarige traumaberader Heté Jordaan wat unieke berading met drie verskillende bedieninge vanuit die 100-jarige Volle Evangelie Kerk in Gezina in die Moot bedryf naamlik The Band Aid Strip Healing Ministry, 4 Christ Outreach-bediening en Pretoria Moot Straatbediening.

“Ek het ‘n hart vir diegene wat seerkry of reeds seergekry het,” sê die 68-jarige pensioenaris.

Jordaan, ‘n gekwalifiseerde kliniese sielkundige, het die drie arms van haar beradingsdiens saamgevoeg in een entiteit, Die Hulpsentrum, en maak gebruik van die kerk se perseel en geriewe om diegene wat hulp nodig het na traumatiese ervarings, met traumaberading te help asook om opheffingswerk te doen.

“Die afgelope drie jaar in die Moot, deur wonderlike genade van Bo, het talle mense my pad gekruis wat my in staat stel om sonder enige onnodige uitgawes in baie mense se nood te kan voorsien, hetsy dit haweloses, arm oues van dae of verarmde gesinne sowel as skole in informele nedersettings is.”

Jordaan weet waarvan sy praat as dit by trauma kom. Sy het in 2021 ‘n diagnose van Kanker Fase 4 gekry, maar is vandag dankbaar dat sy nie meer tekens daarvan toon na ‘n operasie nie. Haar eggenoot en twee kleinseuns is ook aan kanker oorlede.

“Mens gaan deur terugslae, maar met geloof, mediese behandeling en ondersteuning is oorwinning moontlik as dit by trauma kom. Mens moet jouself omring met diegene wat jou opbou en moenie aanvaar indien jy wag, sal alles vanself regkom nie.”

Haar definisie van trauma is ‘n voorval of ervaring wat jou hart uit jou ruk soos liefdesverraad of doodsverlies. Di tkan ook iets wees wat jou menswees van jou stroop soos ontrou, egskeiding, en verkragting. Trauma vind ook plaas wanneer die lewe jou oor ‘n afgrond slinger soos met werkloosheid, verlies aan inkomste en ‘n gevreesde siekte. Mens kan ook trauma beleef wanneer iets jou selfidentiteit beskadig soos met verwerping en mishandeling.

Sy gebore op Vereeniging en het in hierdie stad in die Vaaldriehoek ook haar skooljare deurgebring. Sy en haar man het saam ‘n groothandelkwekery in dié stad bedryf sowel as in latere jare ‘n melkery op Lydenburg. Sy het vantevore in Equestria gewoon en daarna na Hermanus verhuis om ‘n gastehuis te bedryf.

Heté Jordaan by die yskas waar sy bevrore maaltye uit haar eie tuin bewaar vir haar opheffingswerk. Foto: Elize Parker

Jordaan het met Covid-19 op die drumpel van die dood omgekeer en het besluit om terug na Pretoria te keer om by haar geliefdes te wees.

“Ek het nie gedink ek gaan oorleef nie,” vertel sy.

“Ek is self deur elke groot lewenstrauma op die een of ander manier en soms meer as een keer. Ek glo God het my prakties opgelei en toegerus deur die jare om mense met trauma te verstaan en te help.”

Sy was lank ‘n vrywilliger by ‘n organisasie wat maaltye vir bejaardes tuis aflewer en het ook as vrywilliger met die stigting van toevlugsoorde vir mense in nood gehelp.

“Ek glo mens kan ‘n resep vir oorlewing verpak in ‘n boek en lewensvaardighede vir ander aanleer om op hul eie voete te staan, mits iemand natuurlik wil saamwerk.”

Sy span ook die internet in vir berading en het ‘n aantal e-boeke gekoppel aan kursusse geskryf wat landwyd vir traumaberading gebruik word. E-pos berading is ook beskikbaar vir diegene wat uit die kuberruim by haar aanklop.

Sy gee graag erkenning aan die Volle Evangelie Kerk in Gezina vir die belangrike rol wat gemeentelede en die kerkbestuur speel in die uitlewing van haar missie vir die Moot se gebrokenes.

“Hulle het hul deure en harte oopgemaak vir my visie,” vertel Jordaan dankbaar. “Niks is moontlik sonder hulle hulp en ondersteuning nie.”

Jordaan se beradings- en bedieningswerk het geen borge nie en sy ontvang ook nie kontantdonasies nie. Sy bedryf ‘n klerewinkel by die kerk waar gratis beddegoed en klere sowel as skoene netjies en georganiseerd in ‘n vertrek gegroepeer is. Sy aanvaar skenkings hiervoor.

“So vinnig as wat die klere inkom, so vinnig gaan dit uit. Dis veral nuttig om gordyne en beddegoed te ontvang vir diegene soos bejaardes wat hulself in ouetehuise moet hervestig. Soms as hul kinders weg uit die land is, is bejaardes aangewese op diegene wat hul met liefde en genade wil bedien.”

Om die bedieningswerk by Die Hulpsentrum te bedryf, maak sy onder meer staat op die verkoop van voedingsryke kitspap met ‘n lang raklewe.

Deel van Jordaan se beradingwerk is om mense te leer om hulle as entrepreneurs te bekwaam.

Sy het ‘n tuin in Pretoria-Noord met groente aangeplant ten einde te sorg dat daar bestanddele vir bredies en sop is vir diegene in nood.

Met haar beradingsessies het Jordaan bevind dat daar dikwels nog geheimhouding in gesinne is wanneer dit by vorme van mishandeling soos molestasie kom en dat afhanklikheid van drank en dwelms ook toenemend tot trauma in die samelewing en gesinne lei.

“By van ons gesamentelike beradingsessies hoef jy niks te praat nie. Jy kan ook anoniem bly. Ek verstaan die skade in iemand se siel en gemoed het bygedra tot hul eerste bywoning van so ‘n sessie en dan werk ek biddend met wat ek het. Emosionele genesing begin dikwels met die aanvaarding jy is nie lewenslank beskadigde goedere nie.”

-Meer inligting by 082 392 1663 of: thebandaidstrip@gmail.com

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button