News

Helpende Hand stel gesinswelstand in die kollig

Solidariteit Helpende Hand het tydens die vyfde Helpende Kerke Kongres op 27 Maart by Aros in Montanapark gesinswelstand en die kerk se rol bespreek.

Solidariteit Helpende Hand het gesinswelstand en die rol van kerke in gemeenskappe ondersoek tydens die vyfde Helpende Kerke Kongres, wat onlangs by Aros in Montanapark plaasgevind het.

Die kongres is deur Carl Vermaak geopen, waarna Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, ’n toespraak gelewer het oor identiteit en God se plan vir gesinne.

“Hierdie jaar is ons fokus op gesinsidentiteit. Ons het diep gedelf in vrae soos: Hoe lyk ’n gesonde gesin? Wat is die rolle van ’n man, vrou en kind binne die gesin en gemeente?” verduidelik Noëth.

Hy beklemtoon dat die kongres nie net ’n akademiese besinning is nie, maar ’n werklike kuieroggend waar deelnemers saam besin oor gesinsverantwoordelikhede.

“Ons gesels oor die gebrokenheid van gesinne, hoe om hierdie seer te hanteer en die kerk se rol in die proses van genesing.”

Verskeie sprekers, waaronder Martin Janse van Rensburg, Maartje van der Westhuizen van NG Kerk Elarduspark, Suzette Oosthuizen en Schalk Strauss, het waardevolle bydraes gelewer oor gesinswelstand en die bou van sterker gemeenskappe.

Noëth verduidelik dat die kongres oor die afgelope vyf jaar ontwikkel het tot ’n netwerk-inisiatief wat ’n brug bou tussen kerk- en maatskaplike strukture.

“Ons doel was om netwerke met kerke te vestig en relevante temas aan te spreek wat beide die kerk en die samelewing raak. Vanjaar se fokus op gesinsidentiteit word verder gevoer deur ’n reeks ontbyt-netwerke in verskeie streke.”

Hy benadruk dat Helpende Hand se visie is om deur kerke ’n verskil te maak.

“Ons help die kerke, hulle help ons en saam bou ons sterker gemeenskappe.”

Volgens Noëth, het gesinswelstand ’n diep geestelike betekenis. Vir hom is gesinne deel van ’n groter goddelike plan.

Hy doen ’n dringende beroep tot die kerk en gemeenskap om gesinswelstand ernstig op te neem.

“Ons sien ’n groei in maatskaplike probleme en gesinsgebrokenheid, terwyl geloof en waardes nie meer vanselfsprekend oorgedra word nie. Die kerk moet betrokke wees om gesinne te versterk en verbondswerk ernstig op te neem want gesonde gesinne lei tot sterker gemeenskappe,” sê hy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button