News

Lede van 107 wykkomitees gaan jaarliks vier keer vergader om Tshwane te versterk

Wykkomitees is ’n noodsaaklike skakel tussen die metro en gemeenskappe wat inwoners in staat stel om hul sê te sê.

Die Tshwane metro het ’n mylpaal bereik met die instelling van wykkomitees in al 107 wyke.

Hierdie komitees sal vier keer per jaar vergader en speel ’n belangrike rol in die bevordering van deelname aan demokrasie op plaaslike vlak.

Deur ’n formele platform vir gemeenskapsbetrokkenheid te bied, stel hulle inwoners in staat om aktief betrokke te wees in besluitnemingprosesse wat hul lewens direk raak.

Wykkomitees dien as ’n noodsaaklike skakel tussen die metro en sy gemeenskappe, en verseker dat inwoners ’n sê het in die bestuur van hul wyke.

Die Tshwane Speaker van die Raad, Mncedi Ndzwanana, sê die instelling van hierdie komitees is noodsaaklik om inklusiwiteit en deursigtigheid binne plaaslike regering te bevorder.

Hy sê deur by hierdie komitees betrokke te raak, word inwoners bemagtig om hul bekommernisse uit te spreek en insette te verskaf oor dienslewering, die ontwikkeling van infrastruktuur en die toekenning van hulpbronne.

Ndzwanana beklemtoon dat die komitees ’n gestruktureerde benadering tot gemeenskapsdeelname uitbeeld, wat inwoners in staat stel om saam met die plaaslike regering te werk en besluite te beïnvloed wat hul buurte raak.

“Deur Seksie 152(1) van die Grondwet van Suid-Afrika en die Wet op Munisipale Strukture, word munisipaliteite verplig om deelname van gemeenskappe in plaaslike regeringsake aan te moedig.

Die wykkomitees is ’n direkte reaksie op die mandaat, wat ’n raamwerk bied waardeur plaaslike kennis en kundigheid gebruik kan word om die unieke uitdagings wat elke wyk in die gesig staar, aan te spreek.”

Hy sê hierdie deelnemingsmodel maak voorsiening vir pasgemaakte oplossings wat aan die spesieke behoeftes van verskillende areas voldoen, wat tot die algehele ontwikkeling van die metro bydra.

Deur vier keer per jaar bymekaar te kom, verseker dit dat die plaaslike owerhede voortdurend bewus gemaak word van die gemeenskap se bekommernisse.

Op sy beurt, word verwag dat die metro op hierdie insette sal reageer deur projekte en dienste te prioritiseer wat ooreenstem met die behoeftes van sy inwoners.

Ndzwanana sê die meto is nie net besig om sy bestuursmodel te verbeter nie maar ook ’n kultuur van mede-skepping te bevorder waar plaaslike oplossings deur kollektiewe insette ontwikkel word.

“Hierdie benadering bevestig die beginsels van demokratiese bestuur waar besluite gemaak word met die aktiewe deelname van diegene wat die meeste daardeur geraak word.

Terwyl die komitees begin met hul werk, word Tshwane-inwoners aangemoedig om aktief met hul plaaslike verteenwoordigers in gesprek te tree en by te dra tot die ontwikkeling van hul gemeenskappe.”

Wykskomiteelid van Wyk 60, Bishop Ike Mabena, sê hy is bly om saam met die metro te werk om gemeenskappe te dien.

“Ons benodig nog opleiding want daar is geen voormalige wykkomiteelede van wie ons kan leer nie.

“Hierdie is ’n splinternuwe groep van individue en ons pleit met die kantoor van die Speaker om die nodige ondersteuning te gee sodat die volgende groepe lede van die distrikskomitee diegene kan hê van wie hulle kan leer,” sê Mabena.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button