Tuks Landbou vier 45 jaar se leierskap
Tuks Landbou se inisiatiewe word aangevuur deur die lojale ondersteuning van sy borge. Hoofborg Boran SA speel ’n sentrale rol vanjaar, met praktiese aktiwiteite soos kursusse, veilings en kennisdelingsessies wat saam aangebied word.
Tuks Landbou het op 3 April ’n belangrike mylpaal gevier.
Lede, vennote en ondersteuners het die organisasie se 45ste bestaansjaar aan die Universiteit van Pretoria by ’n restaurant in Waterkloof in Pretoria herdenk.
Die aand was ’n lewendige viering van jong leierskap in landbou, samewerking tussen universiteite, en die toekoms van Suid-Afrika se nuwe boere.
Die byeenkoms het nie net lig gewerp op die geskiedenis en prestasies van Tuks Landbou nie, maar ook op die pad vorentoe.
Nuwe studentelede het hul 2025-hemde in ontvangs geneem en is amptelik verwelkom as deel van die groter jongboerestruktuur van die landbouboere-organisasie, Saai.
Saai is ’n dinamiese landbounetwerk wat ook jongboere van Stellenbosch en die Universiteit van die Vrystaat insluit.
Een van die aand se groot hoogtepunte was die teenwoordigheid van Dricus du Plessis, huidige UFC-middelgewigwêreldkampioen en oud-Tukkie.
Du Plessis het die gehoor toegespreek oor deursettingsvermoë, identiteit en trots – temas wat diep aanklank gevind het by die jong boere.

Sy storie van volharding en geloof in ’n groter doel het die gehoor geïnspireer en motivering vir die jaar vorentoe gebied.
Francois Rossouw, hoof uitvoerende beampte van Saai, het tydens die geleentheid die belang van hierdie jongboerenetwerk beklemtoon.
“Hierdie netwerk is nie net ’n studentebeweging nie. Dis ’n belegging in die toekoms van landbou,” sê Rossouw.
“Ons sien in 2025 meer projekte, gedeelde geleenthede en sterker bande tussen jongboere van verskillende universiteite.”
Rossouw voel veral positief oor die gees wat hy by landboustudente bemerk.
“Hulle wil nie meer net braai en Nampo toe gaan nie, maar stel werklik belang om hulself te organiseer. Vakansies gaan werk hulle en na hul gegradueer het, help hulle mekaar om werk te kry. Dit is sulke goeie nuus vir landbou om so ’n groep gedissiplineerde en ambisieuse jong opgeleide mense in die veld te kan stoot,” glo Rossouw.
Andrea Schutte, voorsitter van Tuks Landbou, het ’n blik op die jaar gebied.
“Wat ons doen, is van studente vir studente. Ons wil nie net feesvier nie – ons wil ’n verskil maak,” verduidelik sy. “Dis ’n eer om saam met vennote soos Saai en ons borge aan ’n sterker, meer volhoubare landbousektor te bou.”
Tuks Landbou se inisiatiewe word aangevuur deur die lojale ondersteuning van sy borge. Hoofborg Boran SA speel ’n sentrale rol vanjaar, met praktiese aktiwiteite soos kursusse, veilings en kennisdelingsessies wat saam aangebied word.
Tuks Landbou beoog om vanaar ’n rekordgetal studente na NAMPO te neem, met ondersteuning vir kaartjies en vervoer, die gewilde Draaibraai aan te bied wat ’n kampusfees vir lede en die publiek is. Hulle beoog ook om lede by te staan met internskappe, werksgeleenthede en praktiese ervaring.
Die jaar sal afgesluit word met die amptelike jaarafsluitingsdinee, maar vir nou bly die fokus op groei, deelname en impak.
“Ons studente is ywerig, prakties en passievol. Hulle is die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou en ons is hier om hulle pad te ondersteun,” sluit Schutte af.
LEES OOK: Lede van 107 wykkomitees gaan jaarliks vier keer vergader om Tshwane te versterk
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
