News

Inwoners neem drastiese aksie teen slaggate deur daarin te plant

’n Groep inwoners wat moet sit en wag vir die metro om slaggate te kom herstel, plant solank plante daarin sodat dit snags meer sigbaar is.

Die DA-stadsraadslid vir Wyk 2, Quentin Meyer, het ’n dringende appèl gerig aan die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, om aksie te neem oor die meer as 150 slaggate wat in Montana, Sinoville, Doornpoort en Wonderboom gerapporteer is.

In ’n brief aan Moya, noem Meyer dat die inwoners van hierdie gebiede “drastiese aksie” geneem het om hul frustrasie uit te druk.

In verskeie slaggate het inwoners plante geplant om ’n “sterk stelling” te maak, aangesien hulle sê daar is geen aandag geskenk aan hul herhaalde versoeke nie.

“Ons het ons aansoeke geëskaleer, gerapporteer, e-posse gestuur en elke kanaal tot ons beskikking gevolg, maar niks het verander nie. Geen sigbare aksie nie. Geen langtermyn-oplossing nie. Geen afdwinging van aanspreeklikheid nie,” sê Meyer in sy brief aan die burgemeester.

Meyer het self die voorbeeld gestel deur ’n aalwyn in ’n slaggat op die hoek van Jan van Riebeeck- en Generaal de Wetstrate in Pretoria-Noord te plant.

Hy beklemtoon dat die situasie uiters dringend is en dat inwoners sat is van die gebrek aan aksie.

Volgens Meyer het die onlangse reën die slaggate nóg gevaarliker gemaak, veral in die nag wanneer dit moeilik is om hulle te sien.

“Só ’n gat met ’n plant in staan dan net dalk meer uit en kan mens dit vermy,” voeg hy by.

Hy erken dat van die plante reeds doodgery is en ander verlep het, maar dit is nie die punt nie.

“Dis die idee wat tel. Ons wil bewusmaking skep en ’n stelling maak,” sê Meyer.

Hy sê verder dat die inwoners, deur hierdie aksie, die metro se aandag wil vestig op hul moedeloosheid rakende die toestand van die paaie.

“Ons leef in onaanvaarbare omstandighede. Die paaie verkrummel onder ons. Ons frustrasie het sy limiet bereik. Elke dag bars iemand se band. Elke dag breek veerstelsels. Ons betaal elke dag vir die metro se gebrek aan optrede uit ons eie sakke,” sê hy.

Meyer het die burgemeester herinner aan die voorgestelde begroting vir 2025/26, waarin daar wel geld begroot is vir die herstel van slaggate.

“Kom ons hoop dat dit ook in Pretoria-Noord aangewend sal word.”

– Kliek hier om die plant van die aalwyn in die slaggat dop te hou:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button