News

Pretoria-klinieke begin ly onder NGV

Die Gautengse Departement van Gesondheid het dokters se kontrakte in Tshwane op 31 Maart beëindig, wat duisende pasiënte raak. VF Plus en Solidariteit het beswaar gemaak, en die dokters moes as onafhanklike kontrakteurs registreer, wat 'n negatiewe impak op dienslewering het.

Dit is onregverdig en kortsigtig van die Gautengse Departement van Gesondheid om alle dokters verbonde aan klinieke van die Tshwane-metro se departement van gesondheid se kontrakte op 31 Maart te beëindig.

So sê raadslid Rina Marx van die Vryheidsfront Plus.

Die dokters was deel van die nasionale gesondheidsversekering-loodsprogram.

Hul beëindigde kontrakte kom net een maand nadat die eerste stel konsepregulasies vir die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) deur Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, gepubliseer is.

Die wet, wat streef na universele gesondheidsdekking, is in Mei 2024 deur President Cyril Ramaphosa onderteken en word in fases in werking gestel.

Volgens Marx raak die verandering duisende pasiënte wat deur 24 klinieke in Tshwane, soos die Visagiestraat-, Pretoriuspark- en Silvertonkliniek, bedien word.

Die dokters is glo per WhatsApp in kennis gestel dat hul dienskontrakte verstryk het, en nuwe kontrakte sal slegs hernu word indien dokters as onafhanklike kontrakteurs registreer.

Die nuwe reëling vereis dat dokters hul eie maatskappye registreer en ’n swart ekonomiese bemagtigingsertifikaat bekom, voordat hulle op ’n sentrale databasis vir diensverskaffers van die owerhede kan registreer.

Verder sal hulle slegs 20 uur per week in ’n spesifieke distrik mag werk.

Marx waarsku dat hierdie veranderinge kan lei tot ’n tekort aan dokters in klinieke, omdat baie van hulle nie bereid sal wees om onder sulke streng voorwaardes en verminderde werksure te werk nie.

Sy het reeds met die provinsiale owerhede hieroor geskakel en het ’n onderneming van die provinsiale departement van gesondheid ontvang dat ’n gebeurlikheidsplan tans dringend bespreek word om die Tshwane-klinieke te help.

’n Vryheidsfront Plus lid van die wetgewende raad van die Gauteng-regering, advokaat Anton Alberts, is ook besig om met die provinsiale departement oor die aangeleentheid te vergader.
Alberts het voorgestel dat die hernuwingsproses hersien moet word om rompslomp te vermy.

Hy gaan ook in die tweede week van April tien vrae in die wetgewer hieroor stel wat volgens regulasie binne tien dae beantwoord moet word.

“Ons soek antwoorde vir die dokters en die publiek en om seker te maak dit is bruikbare antwoorde wat dalk in ’n hof gebruik kan word, moet ons die regte prosesse volg. Mense se toekoms en ook lewens kan hier op die spel geplaas word,” glo Alberts.

Die departement is ook versoek om duidelikheid te gee oor die toekoms van permanente poste en of daar vasgestelde kontrakte vir dokters sal wees.

“Hierdie gebeurtenis wys op hoe ondeurdag die prosesse rondom die Nasionale Gesondheidsversekering moontlik sal kan wees. Die regering kan nie eers die oorhoofse prosesse van die aanstelling van dokters bestuur nie. Hoe gaan hulle so reuse nuwe stelsel baasraak?” vra Alberts.

Solidariteit het ook klagtes ontvang van dokters wat lede is van hul doktersnetwerk en hierdeur geraak word.

Peirru Marx, koördineerder van die netwerk, het aan Rekord bevestig dat meer as 60 lede in die Pretoria-omgewing deur die beëindiging van kontrakte geraak word.

Hy sê dat die netwerk reeds navrae hieroor en die pad vorentoe vir hierdie dokters sowel as die klinieke by die owerhede gedoen het, maar nog nie terugvoer ontvang het nie.

“Die situasie veroorsaak ’n ernstige ingryping in pasiënte se lewens. Ek voorsien dat baie van die dokters wat uit diens gestel is, oorsee na beter geleenthede gaan soek,” sê Peirru.

Navrae is aan die metro en die provinsiale Departement van Gesondheid gestuur oor die impak van die NGV op metro-klinieke, maar geen antwoorde is teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button