Paasfeesresepte om aan te smul uit Willie Strauss se kookboek
Willie Strauss se nostalgie oor Paasfees in Kenhardt se kontrei, lei tot 'n Paasfeesspyskaart met heerlike disse vir Rekord se lesers en natuurlik is daar 'n soetigheidjie want hy glo jy moet bak dat die bakpoeier spat.
Die bekende en geliefde vrugtekoekkoning van Suid-Afrika Willie Strauss se kookboek, Sinkhuisresepte, verkoop soos soetkoek.
Die skrywer en liedjiemaker se kookboek was die beste kookboek-verkoper in Suid-Afrika vir die eerste week in April volgens die gesaghebbende boekverkope-indeks, Nielsen Book.
Strauss is ’n bekende stem op radio en bedryf ook ’n gewilde restaurant, Die Sinkstoor, vanuit sy sinkhuis, een van die oorspronklike huise in Cullinan.
Die unieke samestelling van spyskaarte vir sy aanbiedings van tyd tot tyd in die restaurant is iets waarna Strauss se vele aanhangers uitsien want die etes is ook ’n visuele fees, en dikwels is daar ook ’n opvoering.

Strauss het vir Rekord se lesers ’n Paasfeesmaal-spyskaart uit sy boek voorgestel wat bestaan uit romerige aartappelsop, gestopte springbokboud, ’n kool-en-spekgereg as bykos en ’n lemoenkoek met sous.
Paasfees is vir Strauss ’n spesiale en kosbare tyd omdat hy aangename herinneringe daaraan van sy kleintyd op die plaas koester. Hy het op die gesin se skaapplaas Vyfbeker in die Kenhardt-distrik grootgeword.
“Vir ons as gesin was Paasfees altyd ’n tyd van rus en stilte op die plaas, ’n saamwees-familietyd. Daar was altyd kos en ’n familietafel wat gedek word, maar nou nie met hasies en paaseiers nie. My ma was nie iemand wat sulke tafels gedek het of sulke geregte voorgesit het nie,” verduidelik Strauss.
Hy dink met nostalgie terug aan hoe die gesin en familielede wat kom kuier het kerkdienste gedurende die Paasnaweek op die plaas geluister het.
“Paasfees was ’n tyd van stil word en introspeksie. Die ware gees van Paasfees was vir ons om na die dieper betekenis van die tyd te kyk,” dink Strauss na.
Hy lag heerlik as hy vertel: “Ek het eers later leer Paasbolletjies maak!”

Vir hom is dankbaarheid ’n belangrike waarde rondom Paasfees, maar ook deurlopend deur die jaar. Hy is bekend vir sy sosiale media statusse waar hy saans vertel waarvoor hy dankbaar vir die besondere dag was. Dit sluit ’n wye verskeidenheid in soos ’n dankboodskap oor “’n lekker naweek, om te kon rus en om te kon lag”.
“Paasfees beteken steeds vir my om nie verlore te raak in die soek van paaseiers nie, maar om ’n oomblik stil te raak en aan die diepere dinge van die lewe te dink.”
ROMERIGE AARTAPPELSOP – (Genoeg vir 6)
As ’n lekker variasie kan jy 250ml gekookte spinasie en soveel fetakaas as wat jy wil by die sop inroer.
Gooi nog water by die sopmengsel as dit te dik is na jou smaak.
Bestanddele:
Olie vir braai
2 uie, fyngesny
10 aartappels
Botter vir braai
1 beesaftrekselblokkie
1 hoenderaftrekselblokkie
1 liter warm water
5ml gemengde speserye
50ml vars room
So maak mens:
1. Verhit ’n bietjie olie in ’n kastrol en braai die uie tot sag. Haal uit en hou eenkant.
2. Skil die aartappels en sny in skywe. Braai stadig in ’n bietjie botter vir vyf minute.
3. Voeg die uie by die aartappels in die kastrol.
4. Meng die bees- en hoenderaftrekselblokkies met die warm water en gooi oor die aartappels. Strooi die gemengde speserye oor en kook saam tot die aartappels sag is.
5. Maak goed fyn tot dit ’n gladde puree vorm. Voeg die room by en roer goed deur.
6. Plaas die sop op die stoof terug om deurwarm te word.
GESTOPTE SPRINGBOKBOUD – (Genoeg vir 6 tot 8)
±8 repies lammerstertvet, of varkspek
5ml beesaftrekselpoeier
5ml droë pietersielie
2kg springbokboud
500ml rooiwyn
500ml karringmelk
Sout en peper na smaak
125ml soetwyn
60ml appelkooskonfyt
60ml blatjang
So maak mens:
1. Rol die repies lammerstertvet of varkspek in die beesaftrekselpoeier en pietersielie. Maak diep snye in die springbokboud en druk die stukkies vet of spek in die snye.
2. Meng die rooiwyn en karringmelk vir die marinade en maak seker dat die hele boud daarmee bedek is. Sit kleefplastiek of aluminiumfoelie oor die bak en marineer vir 24 uur. Draai die boud gereeld om.
3. Voorverhit die oond tot 150°C. Gooi ’n bietjie water onderin ’n oondbak met ’n deksel. Haal die boud uit die marinade en sit dit in die oondbak. Sprinkel sout en peper oor.
4. Sit die deksel op en bak vir 3 uur.
5. Haal die boud uit die oond. Voeg die soetwyn by die sous in die bak.
6. Roer die appelkooskonfyt en blatjang by. Skep van die sous oor die boud.
7. Stel die oond tot 180°C. Haal die deksel af en bak die boud vir 15 minute.
8. Draai die boud om en skep van die sous oor die ander kant. Bak weer vir 15 minute.
9. Sit die boud voor met tuisgebakte brood en vee die lang sous in jou bord daarmee op.
KOOL-EN-SPEKGEREG – (Genoeg vir 4)
200g spek, fyngesny
1 ui, gekap
4 knoffelhuisies, fyngesny
200g pak sampioene
¼ koolkop, gesnipper
3 eiers van ’n vryloophen
300ml room
5ml gerookte paprika
50g pakkie sampioensoppoeier
Sout en peper na smaak
250ml gerasperde cheddarkaas
So maak mens:
1. Braai die spek, ui, knoffel en sampioene tot sag. Hou eenkant.
2. Kook die kool in ’n kastrol met soutwater tot sag. Dreineer.
3. Roer die spek-en-uimengsel by die kool. Skep in ’n oondbak en hou eenkant.
4. Voorverhit die oond tot 180 °C.
5. Klits die eiers, room, paprika, soppoeier, sout en peper saam.
6. Skep die mengsel oor die koolmengsel in die bak.
7. Sprinkel die cheddarkaas bo-oor.
8. Bak vir 30-35 minute tot bruin.
LEMOENKOEK MET SOUS
250g botter
250ml suiker
2 eiers van ’n vryloophen
5ml lemoenskil
500ml koekmeel
1ml sout
5ml koeksoda
185ml ongegeurde jogurt
250ml gesnipperde dadels
65ml koekmeel (vir dadels)
125ml pekanneute
STROOP
Sap van 4 lemoene
500ml strooisuiker
10ml gerasperde lemoenskil
So maak mens:
1. Voorverhit die oond tot 150°C.
2. Klits die botter, suiker en eiers saam tot romerig.
3. Meng die lemoenskil by.
4. Sif die meel, sout en koeksoda by en voeg die jogurt by. Roer goed.
5. Rol die dadels in die 65ml meel. Voeg by die meelmengsel en roer goed.
6. Spuit ’n ringpan van ongeveer 26cm met kossproei. Skep die beslag in die pan.
7. Bak vir een uur.
8. Maak die stroop: Meng die lemoensap en die strooisuiker goed saam sodat die strooisuiker oplos. Bêre die mengsel in die yskas.
9. Gooi die koue mengsel oor die warm koek. Laat die koek in die pan afkoel voordat jy dit uithaal.
– Kliek hier om te luister hoe Willie Strauss se blydskap oor sy boek se sukses deel:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
