Wees hierdie Paasfees op jou hoede
Misdaad neem toe in Pretoria se buurte – wees ekstra versigtig oor Paasfees, waarsku veiligheidsmaatskappye in die Moot.

Misdaad is aan die toeneem in al die buurte van Pretoria en veral rondom feestye. Daarom moet veral huisbewoners hierdie Paasfees ligloop.
So waarsku die operasionele bestuurder van die Brinant Groep, Nelus Goosen.
“Kriminele slaap nie. Ons het ook ’n toename in die intensiteit van misdade gesien, of dit nou die diefstal van hekmotors of moord is. In Pretoria het buurte dikwels ’n sekere soort misdaad en misdaadpatroon wat dalk meer as ander plaasvind en voorkom. Wat ons waarneem, is dat kriminele ook meer selfvertroue het en byvoorbeeld voor die voet sal skiet met ’n huisbraak sonder om instruksies te gee of vrae te vra,” verduidelik Goosen.
Hy raai diegene aan wat kan, om genoeg voorkomende voorsorg te tref deur aan te sluit by veiligheidsfirmas en kameras in te stel vir tye wat hulle weg is.
“Kriminele maak veral met hierdie stygende tendens mense vas en maak oumense en kinders seer,” vertel Goosen.
Sy groep is deel van ’n projek waar skole in die Moot vandeesmaand besoek sal word. Voorligting by wyse van rolspel en opvoerings met die tema van selfverdediging en met die oog op Kinderbeskermingsweek in Meimaand, sal gedurende hierdie besoeke aangepak word.
Ancelise van der Kooi, woordvoerder vir die groep, sê samewerking met die gemeenskap is van uiterste belang vir veiligheidsfirmas.
“Ons glo die gemeenskap bly die oë en die ore van die gemeenskap. Ons glo verder aan goeie samewerking met die polisie,” sê Van der Kooi.
Sy wys daarop dat diefstal van en uit voertuie steeds ’n ernstige probleem in die Moot is.
Sy doen aan die hand dat inwoners sonkrag gebruik om buiteligte snags aan te hou, ligte installeer wat aanflikker as daar beweging is asook om straatligte wat nie werk nie aan raadslede te rapporteer sodat dit herstel kan word.
Marinda Austin, woordvoerder van die Villieria-polisiestasie, glo dis belangrik dat Paasfeesgangers wat weggaan seker maak hulle ken die roete na hul bestemming, afleidings op die pad sal vermy en nie alkohol gebruik as hulle bestuur nie.
“Persoonlike veiligheid is belangrik tydens Paasfees. Hou jou besittings veilig, wees bewus van jou omgewing en vermy riskante situasies,” waarsku Austin.
Sy maan inwoners om te onthou om deure en vensters te sluit wanneer hul huise verlaat en nie reisplanne op sosiale media te plaas nie.
“Ons moedig die Moot-gemeenskap aan om die gees van vrede, deernis en samehorigheid hierdie Paasfees te omhels,” versoek Austin.
Vir DA-raadslid Adriana Randall is die nakoming van padveiligheidsreëls gedurende Paasfeesreise belangrik.
Sy waarsku ook dat inwoners vooraf moet oplet wat die weersomstandighede by hul bestemmings gaan wees sodat voorsorg getref kan word.
Sy glo ook dat spesiale aandag aan die veiligheid van troeteldiere gedurende die langnaweek gegee moet word.
Rondom Paasfees se tradisies soos die gee van Paaseiers is dit veral belangrik dat honde-eienaars onthou lekkergoed soos Paaseiers bevat sjokolade of xylitol (’n algemene suikervervanger wat in suikervrye lekkergoed en gom voorkom). Dit kan uiterste spysverteringsprobleme by honde veroorsaak.
Saskia Meijer, skoolhoof van die Gereformeerde Skool Dirk Postma, wys daarop dat nie alle padgebruikers ewe verantwoordelik is nie.
“Ook hier in die Moot sien ons mense wat onverantwoordelik op die pad is. Daarom is dit nodig dat kinders basiese padveiligheidvoorsorgreëls moet ken rondom die veilige oorsteek van paaie en die dra van veiligheidsgordels. Ongelukkig speel drankmisbruik ’n groot rol tydens Paasnaweek. Dit het altyd iewers slegte gevolge. Wees dus uiters versigtig op die paaie, meld geweld by die polisie aan en bly weg van moontlike plofbare situasies,” waarsku sy.
Sy wys ook daarop dat tydens Paasnaweek word veral winkelsentrums in die Moot drukker besoek.
“Ouers moet toesien dat kinders juis in hierdie tyd altyd onder volwasse toesig is. Maak seker dat hulle belangrike selfoonnommers en adresse ken. Ouer kinders moet verkieslik nie alleen in die strate dwaal nie, veral nie met ’n selfoon in die hand nie. Daar is altyd ’n opportunistiese krimineel wat op soek is na ’n maklike teiken. Wees dus paraat en bewus van jou omgewing.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
