Local newsNews

Kream skitter by SA Restaurant-toekennings

Kream Brooklyn is bekroon as Beste Restaurant in Pretoria tydens die 2025 South African Restaurant Awards-toekennings. Bekend vir sy stylvolle atmosfeer en uitsonderlike diens, bied die restaurant ’n besonderse eetervaring.

Die kulinêre sterre het helder geblink, die vonkelwyn het gevloei en Suid-Afrika se kos-elite het hul beste voetjie voorgesit vir die 2025 South Africa Restaurant Awards by die Hotel Sky Sandton op 7 April.

Tussen die kameras se flitsligte en feestelikhede het een Pretoria restaurant se naam uitgestaan: Kream in Brooklyn.

Kream Brooklyn is met die titel van Beste Restaurant in Pretoria bekroon. Die toekenning wat trots op hul ontvangstoonbank pryk by die restaurant-ingang in Deystraat, vertel ’n eie verhaal van styl, verbeeldingrykheid en smaak.

Kream Brooklyn het met ‘n gesogte toekenning by die 2025 South Africa Restaurant Awards weggestap.

Wat in 2008 as ’n enkele droom begin het met die visie van ’n jong en vasberade Tufan Yerebakan het nou ’n gevestigde kosinstelling geword met Kream-restaurante in Brooklyn, Midrand en Fourways.

“Dis oor meer as net kos. Dis om ’n goeie herinnering aan hul besoek en ervaring vir gaste te gee,” sê die restaurant se algemene bestuurder, Renier Hattingh.

Indien jy al by Kream gaan eet het, sal jy weet wat hy bedoel.

Die resep vir sukses? ’n Mengsel van ’n passie vir sonderlinge geregte, die kunstige bediening daarvan en hand-uitgesoekte kunswerke.

Sjef Derek Mutoti sorg dat als seepglad in die kombuis verloop.

Daarby bied die restaurant ’n gesofistikeerde spyskaart wat gespesialiseer is in seisoenale en plaaslike bestanddele. Elke gereg word met artistieke sorg voorgesit, wat dit nie net smaaklik, maar ook sag op die oog maak.

Met disse wat wissel van seekos tot perfek voorbereide biefstuk en kreatiewe vegetariese opsies, is daar te kies en te keur vir restaurantgaste.

Selfs die kuns aan die mure is sorgvuldig gekies; nie net om mooi te lyk nie, maar om gaste op ’n visuele reis te neem terwyl hulle eet.

Agter al die glans, is daar ook stories van harde werk soos dié van Hattingh.

In ’n onderhoud met Rekord het hy gesê dit was ’n groot eer om saam met lede van sy span die toekenning in ontvangs te neem.

Relicia Pieters is die Maitre D’ by Kream en sorg dat eet-afsprake gemaak word en gaste na tafels geneem word.

Hy is al 25 jaar in die gasvryheidsbedryf en het as potwasser by The Brass Bell in Kalkbaai sy loopbaan in die gasvryheidsbedryf begin. Tien jaar later het hy ’n graad in gasvryheidsbestuur aan Unisa aangepak en toe vyf jaar in Malta gaan werk.

“As jy in iets glo, moet jy dit toepas,” sê hy eenvoudig. “Ek glo daarin om gaste soos koninklikes te laat voel.”

So tussen die kospotte en kunswerke, het Hattingh sy filosofie as bestuurder ontwikkel en dit wys duidelik. Sy nederigheid wanneer hy met personeel werk is opvallend en met gaste bly hy deurlopend gas-georiënteerd.

Renier Hattingh, algemene bestuurder: Kream Brooklyn.

Hy glo in opleiding wat nie net vaardighede oordra nie, maar ook ’n positiewe en diensingesteldheid by restaurantpersoneel vorm.

“Ek glo in ’n span wat 110% gee, elke dag,” vertel Hattingh.

Kream se kombuis is in die bekwame hande van sjef Derek Mutoti, wat volgens Hattingh “baie ruimte kry om homself uit te leef”.

Hattingh maak self ’n draai in die kombuis en by die potte wanneer dit druk gaan.

Gedurende Covid-19 het die kosbedryf volgens hom baie geleer.

“Veral dat dit vir ’n gas oor die volle ervaring gaan: van hoe jy ontvang word en hoe die volle ervaring jou laat voel. Dis daardie bietjie ekstra wat onthou word,” benadruk hy.

Sy eie gunstelingdisse? ’n Kraaklekker varkpensgereg, met iets soets agterna soos sjokolade fondant of malvapoeding.

Piektyd in die restaurant is saans teen 19:00, en dit is dikwels die biefstuk wat bo-aan die lys van talle gaste is.

“Al hoe meer gaste kies egter ligter, gesonder opsies soos vis. En dames… hulle hou van ons lamstjoppies en dis te verstane. Daar’s altyd plek vir ’n lamstjoppie aan enige tafel,” sê hy met ’n glimlag.

– Kliek hier om te sien hoe Nefi Mpofu ’n biefstukgereg afrond.

LEES OOK: Nuwe skoolhoof wil tradisies voortsit

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Trott Chaane

Trott Chaane is a journalist at Pretoria Rekord, focusing on local news. With experience in audio editing and online news, Trott delivers well-researched and accurate articles. Dedicated to impactful journalism, he is passionate about growing in the field and making a difference.
Back to top button