News

Moot-sakeman se nuwe model vir welvaart

Vir Marius Adams is die pad vorentoe nie net ’n reis na finansiële vryheid nie, maar na ’n lewe wat die wêreld rondom hom positief sal beïnvloed. Nie net vir homself en sy gesin nie, maar vir elke individu wat sy pad in die sakewêreld kruis.

Marius Adams van die Moot is ’n man wat besighede bou. Hy is ook ’n gemeenskapsleier met geesdrif om ander te lei na ’n lewe van vryheid en oorvloed.

Sy beroepsreis as entrepreneur het nie onmiddellik met ’n groot sake-idee begin nie, maar eerder met ’n ervaring wat hom van die begin af met ’n behoefte gelaat het om mense se lewens te verander.

Sy verbeeldingryke reis as sakeman het begin toe hy as brandweerman en forensiese ondersoeker na Lusaka gevlieg het om ’n brandondersoek te doen. ’n Verswelgende brand het groot skade aan ’n vierverdiepingwinkel aangebring waarin ’n Suid-Afrikaanse kettingwinkel geleë was.

Die kettingwinkel se bestuur het hom daarna gevra om al hulle winkels in Suid-Afrika na te gaan vir brandrisiko’s. Dit het hom die kans gegee om ’n nasionale kontrak te verkry, maar sy gedagtes het rondom geleenthede in hierdie bedryf begin draai.

“Ek het besef dat ek nie net lewens wil red uit vlamme nie. Ek wil mense help ontsnap uit ’n lewe sonder visie,” sê Adams.

Net hier het sy droom begin om mense nie net fisies nie, maar ook geestelik en finansieel te help.

Sy tweede besigheidsgeleentheid het ontstaan uit ’n welvaartkursus.

Die kursus het gefokus op kripto-beleggings. Kriptogeld of kriptovaluta is ’n digitale ruilmiddel. Bitcoin het die eerste kriptogeld in 2009 geword.

In eenvoudige terme, ’n kripto-welvaartstrategie is ’n digitale beleggingstrategie waardeur jy ’n kripto-geldeenheid koop wanneer die prys laag is en verkoop wanneer die prys tot die verlangde vlak gestyg het, en dus “wins neem”.

Hoewel sulke beleggings baie mense gehelp het, voel hy vir talle was die kriptobedryf nie altyd voordelig nie.

Marius vertel: “Baie mense is gehelp deur die kriptobedryf, maar baie foute is gemaak. Mense is geknou as gevolg van leiers se leë beloftes.”

Hy het waargeneem hoe mense goeie inkomste daaruit verdien het, maar uiteindelik hul vertroue in die stelsel verloor het.

Vir Adams was dit ’n keerpunt. Hy het besef talle mense leef in ’n “oorlewingsmodus”. Hulle het dalk geld, maar nie vrede of ’n lewensdoel nie.

Dit was die begin van sy nuutste onderneming. Hierdie besigheid het vir hom en sy gesin nie net finansiële vryheid gebied nie, maar ook geestelike vervulling.

“Ek het gesien dat ware rykdom in alle areas van die lewe moontlik is, as jy doelgerig en afhanklik is van God se leiding,” sê hy.

Sy visie het vinnig ’n nuwe gestalte aangeneem en ’n groter roeping op sy lewe geplaas.

“Ek het ’n roeping gevoel. Dit was ’n diepe innerlike wete dat ek mense moes lei na vryheid,” vertel Adams.

Sy boek, Freedom Through Wealth Creation, is die goeie gevolg van hierdie roeping.

“Ek wil mense help om doelgerig te leef. Nie net om geld te hê nie, maar vrede, krag, en betekenis in elke area van hul lewe,” sê Adams.

Die boek, Freedom Through Wealth Creation, is ‘n praktiese, geloofsgebaseerde gids wat mense help om hulle doelwitte in sewe sleutelareas van die lewe te stel en te bereik: Van geestelike gesondheid tot finansies en gesin.

Die boek is ’n praktiese, geloofsgebaseerde gids wat mense help om hulle doelwitte in sewe sleutelareas van die lewe te stel en te bereik.

Vir Adams was die pad na sukses nie sonder uitdagings nie.

Hy praat openlik oor die finansiële druk, vrees vir mislukking, sowel as die twyfel wat hy ervaar het, veral toe hy elke nuwe besigheid op die been probeer bring het.

Sy eie finansiële struwelinge oor die laaste paar jaar het hom egter nie ontmoedig nie, maar gevorm.

“Die laaste drie jaar was die uitdagendste tyd ooit,” sê hy.

Die besigheid waarop Adams deesdae fokus, is Diginu. Hierdie besigheid help verbruikers om gesonder koskeuses te maak. Dit is ’n Suid-Afrikaanse platform met ’n rekenaartoepassing vir vinnige en bekostigbare kosaflewering deur plaaslike verskaffers regoor Suid-Afrika.

Wat hom egter die meeste inspireer, is die feit dat hierdie besigheid hom meer tyd saam met sy gesin gee.

“Ek weet ons het nie net ’n meer bekostigbare kosafleweringsdiens nie, maar ook ’n sakemodel gebou wat mense help om finansiële vryheid te bereik,” sê Marius.

In die kern van alles wat Adams doen, is sy geloof. “Ek het elke besluit in gebed geneem. Ek toets alles aan God se Woord,” verduidelik hy.

Sy benadering tot rykdom is nie net met finansiële welvaart gemoeid nie.

“Geld is ’n hulpmiddel. Welvaart is ’n leefstyl van oorvloed in liefde, gesondheid, tyd, verhoudings en ja, ook finansies,” sê hy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button