Van silwerdoek tot op verhoog: Semi-Soet verower weer harte
Of jy nou ’n ou Semi-Soet -film aanhanger is, of nuuskierig is om dit vir die eerste keer te ervaar, hierdie musiekblyspel gaan beslis ’n treffer wees. Met nuwe liedjies, geliefde karakters en ’n vars verhoog-aanslag, gaan dit moeilik wees om nie ook ’n bietjie verlief op die liefde (en die blyspel) te raak nie.
Die geliefde Afrikaanse rolprent Semi-Soet maak binnekort ’n glansryke terugkeer, in ’n nuwe hoedanigheid.
Dié keer met musiek, verhoogvertolkings en ’n hele paar lekker verrassings in die rolverdeling.
Semi-Soet word nou ’n musiekblyspel en gaan vanaf Mei die verhoog van die AfriForum Teater in Pretoria-oos met ’n opwindende lys liedjies en choreografie vul.
Vir diegene wat dalk vergeet het: Die oorspronklike fliek het in 2012 filmteaters laat gons.
Dit vertel die storie van Jaci van Jaarsveld (Anel Alexander), ’n toegewyde werkslaaf wat probeer om haar advertensiemaatskappy te red van oorname deur die koue en knus “Jackal” (Nico Panagio). Om ’n groot kliënt te beïndruk, moet sy skielik voorgee sy is gelukkig verloof aan ’n vreemdeling wat dalk meer met haar werk te doen het as wat sy besef.

Op die verhoog neem Anel Alexander weer die leisels as Jaci en dié keer sing sy ook!
Bobby van Jaarsveld tree aan as die nuwe JP (oftewel die Jackal), en hy’s vuur en vlam oor die kans om in ’n splinternuwe musiekblyspel te speel.
“Dis lekker om deel te wees van iets nuuts, vars. Nie net nóg ’n herverwerking nie,” sê Bobby.
Hy loof die liedjieskrywers vir die verhoogproduksie, Johan Vorster en Jacomien de Wet, se talent en sê hy’s “bietjie jaloers op hul treffende liedjies”.
Vorster en De Wet is die breinkrag agter die nuwe musiek en die blyspel.
Volgens Vorster het hulle letterlik hul motor gepak, Bosveld toe gery, ’n vuurtjie gemaak, en vir drie dae lank aan die musiek gesit en skryf.
“Ons het geweet ons moet die oorspronklike tema en stemming eer,” sê hy. “Ons wou nie die film se aanhangers teleurstel nie.”


Vir Alexander was dit ’n lekker uitdaging om ná 20 jaar weer te sing.
“Ek moes behoorlik weer leer sing! Maar dis só lekker om weer op die verhoog te wees en dadelik reaksie van ’n gehoor te kry,” sê sy met ’n glimlag.
Sy het destyds saam met haar man, wyle James Alexander, aan die oorspronklike draaiboek gewerk. “Destyds was Afrikaanse films óf komedies óf wroegdramas. Semi-Soet was sexy, slim en snaaks en dis hoekom mense daarmee kon identifiseer.”
– Kliek hier om ‘n video van die bekendstelling te sien.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


