Local newsNews

Ware tweede kanse-verhaal inspireer van oos tot wes

Skrywer Carla van der Spuy bied 'n eerlike blik op Dina Tseng se tweede kanse, kulturele verskille wat sy moes oorkom in haar huwelik en haar lewe ná trauma.

Wat ’n viering van lewe, liefde en tweede kanse was die boekbekendstelling van Waar oos & wes ontmoet op 16 April by The Bookkeeper Shop in Pretoria-oos.

Skrywer Carla van der Spuy het saam met Dina Tseng en haar vriende en ondersteuners hierdie spesiale geleentheid gevier met ’n onderhoud vol trane, lag en baie inspirasie.

“Wat ’n wonderlike bekendstelling vol verrassings. Hier het soveel bekendes opgedaag,” sê Van der Spuy. “Mag Dina se sonderlinge verhaal hulle almal inspireer.”

Elmari Mulder Craig, bekende seksuoloog en verhoudingsterapeut, het die verrigtinge geopen en haar oud-onderwyseres op hartroerende wyse verwelkom.

Volgens Craig het die droom van die boek begin toe haar ma, Ina du Plessis, en ’n paar vriendinne van Tseng, geraak is deur haar eerlike Facebook-inskrywings tydens haar kankerstryd.

Hulle het aanhou sê: “Dina, jy móét ’n boek skryf.”

En toe, met die toetrede van Carla van der Spuy, word hierdie droom ’n werklikheid.

Van der Spuy is bekend vir haar werk aan ware lewensverhale, biografieë en ’n blik op die Suid-Afrikaanse samelewing soos in Mens of Monster en Bloed op haar hande.

Carla van der Spuy.

Haar ongekompliseerde, eerlike styl bring dikwels diep emosionele temas na vore op ’n toeganklike manier.

Oor Waar oos & wes ontmoet sê sy: “Dis ’n boek vir vroue, vir romantici, en vir enigiemand wat self ’n stryd teen kanker stry of reeds gewen het. Dis ook ’n verhaal van twee mense wat teleurstelling geken het, maar saam ryper en sterker geword het deur uitdagings soos kulturele verskille te oorwin.”

Sy beskryf hoe Dina ná haar liefdesteleurstelling selfs skokterapie probeer het om daarvan te vergeet.

“Die lewe was nie altyd maanlig en rose vir haar nie,” sê sy. “Maar sy druk altyd deur.”

Dina Tseng, voormalige onderwyseres, is ’n dinamiese sakevrou wat ’n groot winkelsentrum met 25 winkels bestuur.

Dina en Tommy Tseng.

Sy beskryf haarself as positief, vol lewenslus en iemand wat ’n tweede kans op die lewe en die liefde gekry het.

“Jy kan nie altyd ’n kankerpasiënt van buite uitken nie, maar binne-in verander die siekte jou. Skielik is die bome groener en die wolke blouer. Onbenullighede maak nie meer saak nie. Dit is net jammer ’n mens moet soms eers siek word om só wakker te skrik.”

Sy het ook openlik gepraat oor verlore, maar ook, tweede kans-liefde. Ná ’n hartseer universiteitsverhouding, was sy 14 jaar lank hartseer totdat Tommy Tseng haar pad gekruis het.

“Soms moet jy deur slegte dinge gaan om uiteindelik by beter dinge uit te kom,” sê sy.

Tseng, ’n Taiwanese burger wat in die 1980’s met byna geen besittings in Suid-Afrika aangekom het nie, en hom hier wou vestig, het Dina in 1988 in Newcastle ontmoet toe hy sy kinders skool toe gebring het om Engels te leer.

“Jy is ’n wilde perd, maar ek gaan met jou trou,” het Tseng op ’n volgende geleentheid volgens Dina vir haar gesê.

Die egpaar het nie net hul liefde met mekaar gedeel nie, maar ook hul lewens met vyf kinders, insluitend Tommy se drie seuns uit ’n vorige huwelik.

Dina en Tommy Tseng.

Dina se siening van stiefma-wees vir hierdie drie, is treffend: “Stiefkinders is kinders wat jy kies om lief te kry en lief voor te bly.”

– Waar oos en wes ontmoet word deur Naledi uitgegee.

OOK GELEES: Swaar polisieteenwoordigheid vir EFF-optog na Kleinfontein

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Trott Chaane

Trott Chaane is a journalist at Pretoria Rekord, focusing on local news. With experience in audio editing and online news, Trott delivers well-researched and accurate articles. Dedicated to impactful journalism, he is passionate about growing in the field and making a difference.
Back to top button