Debuutvertoning bring vars energie na die verhoog
Die BitterLekker Musas se debuutvertoning was 'n aand van onvergeetlike musiek, opregte emosie en 'n viering van Afrikaanse talent.
Pretoria-oos het op 30 April die hartklop van Afrikaanse onafhanklike musiek gevoel toe die BitterLekker Musas hul debuutvertoning by die BLoved Klein Teater aangebied het.
Die aand was ’n viering van talent, passie en samehorigheid van kunstenaars wat nie aan plate-agentskappe verbonde is nie, maar deel is van die onafhanklike Rug-teen-Rug musiekfamilie.
Die aand het bewys dat die onafhanklike Afrikaanse musiektoneel bruis met nuwe energie.

Die voorprogram was reeds vol belofte.
AJ DeVos, met ’n donker en diep rasperstem, het ’n diep emosionele vertolking van “Brief van Wolmaransstad” van Theuns Jordaan gelewer.
Jay Morgan het die verhoog oorgeneem met sy nuutste treffer “Sonder Jou”, en sy danspassies het die energie in die teater laat styg. Skuif maar eenkant toe Brendan Peyper! Jay het die regte danspassies.

Thandi Stoltz het die gehoor bekoor met haar jazzy weergawe van verskeie liedjies, en haar stem het baie belofte.

Na die voorprogram het die hoofgroep, die BitterLekker Musas, die verhoog betree met Zander Kriegler op tromme, Lucia Poggenpoel op klawerbord, Estian de Lange op baskitaar en op die kitaar, Rudi Kleingeld.
Hierdie groep, bestaande uit Muller Brandt, Stefan Jansen, Renaldo Alberts, Wilmari Senekal en Elme Churr, het ’n dinamiese en uiteenlopende vertoning gelewer wat die gehoor op hul voete gehad het.

Muller Brandt het met selfvertroue en charisma opgetree, en sy vertolking van “Braaibroodjie” het die gehoor op hul voete gehad. Brandt het sedert hy verlede jaar by die program aangesluit het, aansienlik in selfvertroue in sy vertolkings gegroei en is ook nou mentor vir van die jongeres.
Sy liedjie oor die Suid-Afrikaanse instelling by ’n braai, is al meer as vyf miljoen keer gesamentelik op al die musiekplatforms gestroom.
Stefan Jansen was die ster van die aand met sy skreeusnaakse liedjie “Splinter en Bakkies”, waarvan die lirieke die gehoor telkens van die lag laat uitbars het.
Jansen is ’n liedjieskrywer wat bekendheid verwerf het vir sy opregte lirieke en die vermenging van Afrikaanse en Engelse musiekstyle. Sy werk weerspieël dikwels persoonlike ervarings en emosies. Sy musiek word gekenmerk deur ’n kombinasie van akoestiese klanke en introspektiewe lirieke. Hy gebruik gereeld ’n kitaar en mondfluitjie in sy optredes, wat ’n intieme atmosfeer skep. Sy liedjies soos “Reis van ’n Musikant” vertel stories van persoonlike groei en lewensreis.
Hy het ook internasionale aandag gekry deur sy optredes in Europa, waar hy sy Suid-Afrikaanse agtergrond en musiek deel met ’n wyer gehoor. Hy kombineer sy musiek met die vertel van stories, wat ’n unieke ervaring vir sy bewonderaars skep. Hy is eersdaags weer op pad om ’n uitgebreide toer van Nederland en België te doen.

Renaldo Alberts het ’n roerende huldeblyk aan sy pa gebring met ’n liedjie wat hy in 2016 geskryf het, en die emosie was tasbaar in die teater.
Wilmari Senekal het die gehoor bekoor met haar liedjie “Lei My Na Die Water”, en haar interaksie met die orkeslede het die musiek ’n paar vlakke gelig na ritmiese rock.

Elme Churr het ’n jazzy flair na die verhoog gebring met haar liedjie “Rooiwyn en Liefde”, en haar ervaring in musikale teater het duidelik deurgeskemer.
Haar stem het met ’n rykheid en warmte die kern van hierdie liefdeslied vasgevang, en haar vertolking het die gehoor op ’n reis geneem deur die emosies van liefde en verlange.
Die kombinasie van haar vokale vermoë en verhoogteenwoordigheid skep altyd ’n atmosfeer van vrolike glans. Die ma van drie kleingoed is, so kitaar in die hand, ’n veelsydige kunstenaar wat die Afrikaanse musiektoneel en haar mede-musikante se lewens net verryk.
Die BitterLekker Musas is meer as net ’n groep talentvolle musikante; hulle is ’n familie van kunstenaars wat mekaar ondersteun en saamgroei.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
