News

Rou rioolramp in noorde is ekologiese noodtoestand

Die Boepensspruit, wat oorspronklik ’n afloop van 'n natuurlike fontein op die Witfonteinplaas in Pretoria Noord was, is nou ’n besoedelde stroom rou riool. Vir inwoners is die ironie dat dit eens 'n bron van vars water was, en nou die area op 'n ekologiese ramp laat afstuur wat ver kan uitkring.

In die noordelike voorstede van Pretoria is ’n ekologiese krisis aan die ontwikkel wat verder as Pretoria kan uitkring.

Die aanhoudende storting van rou riool in die Boepensspruit, ’n klein stroompie met ’n groot impak, is besig om riviere in die oos-rivierstelsel tot sover as die Pienaarsrivier te beïnvloed.

Hierdie spruit, met sy oorsprong op die historiese Witfonteinplaas, waar die huidige Wonderpark-winkelsentrum nou staan, kronkel deur Heatherdale, verby Hoërskool Akasia en die gholfbaan.

Die spruit eindig uiteindelik in die Bon Accord-dam waarvandaan die water in die Apiesrivier verby die Rooiwal-rioolsuiweringswerke vloei en dan in die Pienaarsrivier.

In noorde is daar talle lekker van rioolafvoerpype wat rou riool lek in strate wat strome vorm en via stormwaterkanale in die Boeppensspruit beland. Foto: Verskaf

Rina Marx, stadsraadslid van die Vryheidsfront Plus, het onlangs weer alarm gemaak oor waterbesoedeling in haar wyk en in Pretoria-Noord.

“Ek het ’n oproep ontvang van ’n inwoner wat my gaan wys het hoe rou riool uit verskeie groot rioolpype direk in die Boepensspruit inloop,” sê Marx. “Hierdie spruit vorm deel van ’n groter waterstelsel wat eindig in die Bon Accord-dam. Dit het my bekommer want die dam is ’n plek waar mense gereeld visvang en ontspanning soek.”

Volgens Marx is die besoedeling al telkens aangemeld by die metro, maar geen aksie word geneem nie.

“Met die toenemende ontwikkeling van woonkomplekse in die area, kan die verouderde en ondoeltreffene stormwater- en rioolafvoerstelsel net nie meer die afvoer hanteer nie. Niks gaan beter raak indien die stelsel nie vernuwe nie,” sê Marx.

“Dis nie net ’n estetiese of reukprobleem nie. Dit is ’n gesondheidsrisiko van nasionale belang. Die besoedeling infiltreer die watertafel en boorgate, waarvan die water gebruik word vir besproeiing van groente en vrugte, en vir diere om te drink. Dit is ’n grondwetlike reg vir inwoners van Suid-Afrika en metro’s om skoon water en ’n veilige omgewing te hê, maar hierdie reg word hier blatant geskend,” waarsku sy.

Vryheidsfront-Plus raadslid Rina Marx veg om nuwe riool- en waterafvoerstelsels in plek te kry om die rou riool wat in die Boepensspruit gestort word en afgevoer word na die Bon Accord-dam, te beveg. Foto: Verskaf

Marx en ander rolspelers het al verskeie kere die rampspoedige toestand van sake aan die metro rapporteer, maar sonder enige sukses.

“Daar is net geen plan van aksie by die metro nie,” sê Marx.

Francois Janse van Vuuren, ’n inwoner van die noorde van Pretoria, woon al meer as 20 jaar op ’n kleinhoewe langs die spruit. Hy is ’n byeboer en intens omgewingsbewus.

“Ons het grootgeword met hierdie stroompie wat meestal droog was,” sê hy. “Nou is dit ’n konstante stroom van vuil water en riool.”

Hy glo die krisis het begin toe die stormwater- en rioolafvoerstelsel omstreeks die vroeë 2000s vernuwe is deur die konstruksie van ’n nuwe stelsel.

“Iets het verkeerd gegaan met die installering, glo ek, of dalk het die infrastruktuur bloot nie tred gehou met die groei van die bevolking in die area nie. Groot woonkomplekse is sedertdien gebou en gebruik steeds dieselfde stelsel, wat nou nie meer die groter wordende volume kan hanteer nie.”

Elke twee weke is daar, volgens Van Vuuren, ’n ernstige uitvloei van riool uit die stroom in die dam sowel as uit rioolpype uit die area in die Boepenssspruit. Riool het al ook in van die buurte selfs uit mangate in die strate geborrel.

“Ons boorgat is 20 meter van ons huis af. Ek kan dit nie meer gebruik nie,” sê hy. “Die ondergrondse water is ook besmet.”

Jaco Mulder, Vryheidsfront Plus-lid van die Gautengse Provinsiale Wetgewer en voorsitter van die Landbou- en Omgewingsakekomitee, sê die Heatherdale-rioolkwessie is nou op die agenda van die provinsiale portefeuljekomitee.

“Ons doen onaangekondigde besoeke aan sulke brandpunte en plaas dit amptelik op die provinsiale agenda,” verduidelik Mulder.

Hy wys daarop dat die Tshwane metro worstel met wanadministrasie rondom rioolsuiweringswerke, onderbefondsing en ’n gebrek aan politieke wil om die krisis te hanteer.

“Rooiwal- en Baviaanspoort-aanlegte stort reeds onverwerkte riool in die Apiesrivier. Die Heatherdale-saak is ’n verdere simptoom van dieselfde probleem.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button