Centurion-sangeres skryf treffers vol selfontdekking en hoop
In 'n wêreld wat dikwels oorweldig word deur geraas en chaos, is liedjieskrywer Babette Labuschagne se musiek 'n padwyser dat musiek nie net 'n vorm van vermaak is nie, maar 'n kragtige medium om dieper emosies en waarhede uit te druk.
’n Sanger en liedjieskrywer met ’n loopbaan wat oor 20 jaar strek, Babette Labuschagne, het vir haarself ’n unieke plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf oopgesing.
Die sprankelende brunet uit Centurion het ’n kenmerkende styl ontwikkel wat egtheid en emosie kombineer.
Haar enkelsnit wat aan die einde van April bekend gestel is, “Ons lewe net een keer”, het reeds 110 000 stromings op YouTube geniet.
“Die hoofboodskap wat ek met die liedjie wil oordra, is dat omdat jy net een keer lewe, moet jy jou vir jouself lewe en goed doen waarvan jy hou. Dit is nie die moeite werd om jou lewe vir iemand anders te lewe nie. Jy gaan jouself verloor. Dit beteken nie jy moet nie mense in jou lewe inlaat nie. Dit beteken net jy moet jou passies deel, maar steeds doen wat noodsaaklik vir jou siel is,” verduidelik Labuschagne.
Haar mees onlangse enkelsnit, “Haal asem”, wat teen die einde van Mei vanjaar verskyn het, is spesiaal geskryf in Geestesgesondheidsmaand, om die hierdie tema aan te spreek.
In Junie het sy haar gewilde internasionale liedjie, “Fake”, se eerste verjaarsdag op stromingsdienste gevier.
“Ek is bly hieroor en ook dat dit op verskeie internasionale radiostasies gespeel is. Dit spreek die oppervlakkigheid van sosiale media en die soeke na egtheid aan.”

Sy glo dat sosiale media vir ’n groot verandering gesorg het in hoe romantiese verhoudings benader word.
“Ek dink nie ek kan sê dis die grootste oorsaak van verhoudings wat tot ’n einde kom nie. Sosiale media gee mense net meer opsies om vinniger aan te beweeg. Daar is nie meer baie mense wat die verantwoordelikheid wil neem om ’n verhouding te probeer red nie. Lojaliteit gaan vinnig by die venster uit omdat mense maklik ’n verhoudingsmaat kan kry wat hulle voel nie werklik weet wie en wat hulle is nie,” verduidelik sy.
Labuschagne, wat in April vanjaar vyf jaar vry is van kanker nadat sy borskanker oorwin het, se liedjies spreek dikwels temas van selfliefde aan.
“Met my borskanker het ek besef jou tyd op aarde is kort. Jy weet nooit wanneer iets met jou kan gebeur of met iemand vir wie jy lief is nie. Jy moet voluit lewe.”
Sy is tans besig met die ontwikkeling van ’n nuwe album én ’n teaterproduksie, wat haar toewyding aan haar kuns en boodskappe van hoop weerspieël.
Haar musiek is ’n mengsel van pop, rock en alternatiewe klanke, maar wat dit werklik onderskei, is die deurleefdheid en gevoelens wat in haar lirieke uitgebeeld word.

Sy verduidelik elke liedjie is ’n weerspieëling van haar eie reis. Van hartseer na hoop, van selftwyfel na selfaanvaarding.
“Ek leer altyd iets uit al my liedjies wat ek skryf,” vertel sy. “Ek leer veral baie van myself en dat ek myself wel kan motiveer om ’n liedjie te skryf. Al kom die woorde en musiek dalk uit ’n hartseer plek, kan daar nog iets moois en betekenisvols daaruit kom.”
Na die beëindiging van ’n verhouding, het sy veral oor hoop en selfliefde begin skryf.
“Ek was in ’n verhouding wat ons naweke gewoonlik volbespreek was om sy passies uit te leef. Ek het nooit uitgekom by dinge en mense wat ek voor lief is nie. So het ek deur die verhouding stukkie vir stukkie van myself verloor. Ons het uitgemaak, maar hy wou weer probeer. Ek het besluit ek wil kies om myself te wees.”
Sy bewonder die musiek van Karen Zoid, maar is nie iemand wat ooit ander kunstenaars of die hoofstroomneigings in die bedryf slaafs sal navolg nie.
“Ek wil getrou bly aan wie ek as ’n kunstenaar is en sal nie die musiekmode van die tyd wil najaag nie.”
Sy is drie keer as semi-finalis in ’n internasionale liedjieskryfkompetisie gekies, en haar liedjies word op internasionale radiostasies gespeel.
“Om te dink internasionale beoordelaars het na my liedjies geluister, is so ondersteunend,” sê sy.
Haar toekomsplanne is opwindend. Sy is besig met die ontwikkeling van ’n nuwe album wat ’n mengsel van rock en country-rock sal wees. Daarby ontwikkel sy ’n teaterproduksie wat op 28 Augustus in Die Blou Hond gehou sal word.
“Ek is opgewonde oor albei projekte,” sê sy.
Sy neem haar voor om verder voort te gaan om die boodskap uit te dra dat musiek krag het om genesing te bring.
“Kies om jou eie storie te vertel en jou eie storie te leef. Kies om getrou aan jouself te wees.”
– Kliek hier om te luister na “Jy lewe net een keer” –
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
