Vrou van Pretoria-oos dig van liefde, verlies en nuwe begin
Jodi Cole, ’n digter en taalpraktisyn, het haar reis na selfontdekking ná haar egskeiding in twee digbundels vasgelê. Haar werk simboliseer liefde, verlies en herstel.
Jodi Cole is nie net ’n digter nie, maar ’n woordmens wat haar eie lewensreis met al sy kronkels en kosbaarhede in gedigte verewig het as deel van haar herstelproses na haar egskeiding.
“Die einde van my huwelik was vir my ’n hartseer saak, want ons het ’n mooi verhouding gehad. My identiteit was verweef met ma-wees en vrou-wees vir my man. En dan word ’n mens eendag wakker en jou kinders is groot en jou lewensmaat is nie meer daar nie,” verduidelik die geesdriftige taalpraktisyn.
Haar twee digbundels, Waves en Die letter in die woord, vertel die storie van liefde gevind, liefde verloor en uiteindelik, liefde vir jouself.
Sy het digkuns as genre gekies omdat sy voel die skryfvorm praat met mens se siel op ’n sagte wyse en kruip tot in die vergete hoeke van mens se hart in.
“My storie is nie uniek nie,” sê sy nederig. “Ek dink ons almal vind en verloor liefde op hierdie lewensreis. Ons kies ook nie altyd die pad waarop die liefde ons neem nie. Dis ’n hartsbesluit.”

Cole was vir 28 jaar getroud. Ná die einde van haar huwelik moes sy haarself weer vind: as vrou, as individu en as digter.
Hierdie herontdekking van haar identiteit het gelei tot die ontstaan van Waves, haar eerste bundel, wat in Engels verskyn het.
Tans is Cole besig met die skryf van akademiese handboeke vir skoolleerlinge. Sy onderrig Afrikaans Eerste Addisionele Taal vir studente en leerlinge.
Haar ma, Elizabeth Ackerman, woon naby Cole in Pretoria-oos en was haar grootste ondersteuner tydens haar jare na haar egskeiding wat sy weer haar voete moes vind. Die gedig “My hartseer kind” is aan haar ma opgedra.
“Sy het hoeveel keer na my hartseer stories geluister, sonder om te kla. Dis woorde wat sy aan my herhaal het. Sy is my pilaar.”
Die titel Waves is nie toevallig gekies nie.
Vir Cole, wat in KwaZulu-Natal grootgeword het, simboliseer die see die ritme van die lewe.
“Daar is ’n kalmte aan die ritme van die see,” sê sy. “Van my grootste besluite is by water geneem. Dit reinig alle gedagtes en bring helderheid.”
Vir haar is die see ook ’n plek van herbegin. Hierdie gevoel van herstel en vrede weerklink duidelik in haar beeldende poësie. Haar woorde is soos sagte sand tussen jou tone.
“Dit was interessant hoe God ’n pad na herstel bewerk het. Daar was eers die alleen-jare. Ek moes weer my identiteit as ’n mens vind. Daarna het kennismakings gevolg en lekker gesels-koffie-afsprake.”
Hoewel Waves in Engels geskryf is, het Cole besluit om haar lewensverhaal se opvolg in Afrikaans te vertel. Haar tweede bundel is dus nie ’n direkte vertaling nie, maar ’n herbesinning.
Die resultaat is Die letter in die woord, ’n bundel wat dieper delf in persoonlike pyn, groei en hoop.
“Ek wou graag albei my hartstale gebruik om ’n boodskap van hoop te bring,” sê sy.
Tans is haar huistaal Engels. Sy het in ’n Afrikaanse huis grootgeword.
Sy het twee kinders, Duran (31) en Kira (26), maar meld haar seun se vrou, Stacey, en dogter se verloofde, Avinash Summun, is “ook soos kinders vir my”.
Die tweede bundel word deur haar beskryf as ’n reis deur die woorde wat mense hoor, maar nie altyd verstaan of wil inneem nie.
“Dis juis hierdie woorde wat ons help om besluite te neem, sonder dat ons dit besef.”
Dié tweede bundel is deurdrenk met emosie, en mens kan gou aflei sy is ’n romantikus.
“Daar bestaan drie moontlike definisies van ’n romantikus. Die eerste is iemand wat romantiek verteenwoordig. Die tweede is iemand wat romanties van aard is. Die derde is ’n skrywer in wie se werk die verbeelding, gevoel en verlede ’n groot rol speel. Ek val in die derde katogorie. Skrywers en digters skryf uit passie, lewensondervindinge en verbeeldingsreise.”
Sy het verlede jaar vir die eerste keer gesond genoeg gevoel om weer in ’n liefdesverhouding te wees.
“Dit was ’n heerlike ondervinding, maar soms is twee siele net nie op pad na dieselfde bestemming nie. Ek dink ’n kern menslike behoefte is om aanvaar te word en liefde te vind. Sommige van ons se paadjie loop net eers ’n paar kronkeldraaie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
