News

Rou rioolramp in noorde is ekologiese noodtoestand

Francois Janse van Vuuren sê die Boepensspruit het van ’n stroompie in ’n oop rioolkanaal verander. Rou riool besmet boorgate en die Bon Accord-dam. Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê ondersoeke duur voort, maar gee geen tydlyn vir herstel. Raadslid Rina Marx waarsku: “Dis ’n grondwetlike krisis.”

“Ons het grootgeword met hierdie stroompie wat meestal droog was. Nou is dit ’n konstante stroom van vuil water en riool,” sê Francois Janse van Vuuren, ’n inwoner van die noorde van Pretoria, waar die Boepensspruit al hoe meer as ’n oop rioolkanaal begin funksioneer.

“Ons verdrink in ons eie nalatigheid,” sê Janse van Vuuren. “En teen die tyd dat ons regtig wakker skrik, mag dit te laat wees.”

Die Boepensspruit was eens ’n rustige waterstroom wat deur Heatherdale kronkel en in die Bon Accord-dam eindig.

Die waterbron en die omgewing daarrondom skep nou ’n ekologiese krisis deur die verskeie buurte waardeur dit kronkel en afloop as gevolg van riool- en afvalwater wat deur onvoldoende afvoerpype, uit mangate en strome uit stormwaterkanale daarin beland.

Volgens Janse van Vuuren, wat al meer as twee dekades op ’n kleinhoewe langs die spruit woon, het die besoedeling so erg geword dat hy nie meer sy boorgatwater kan gebruik nie.

“Die ondergrondse water is ook besmet. Dis nie meer net ’n spruit nie. Dis ’n drein,” sê hy moedeloos.

In noorde is daar talle lekke van rioolafvoerpype wat rou riool lek in strate wat strome vorm en via stormwaterkanale in die Boepensspruit beland. Foto: Verskaf

Vir inwoners soos Janse van Vuuren is dit nie net ’n ekologiese of politieke kwessie nie. Dis persoonlik.

“Ek’s ’n byeboer. Ek leef van en vir die natuur. Dis hartverskeurend om te sien hoe die spruit, wat deel was van ons kinderdae, nou stink en borrel van besoedeling.”

Hy sê die afgelope twee jaar het riool selfs in sekere strate uit mangate begin borrel.

“Dis nie meer ’n uitsondering nie. Dis die nuwe normaal,” sê hy. “Ek het geen hoop dat dit binnekort opgelos gaan word nie.”

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê die metro se tegniese span is tans besig met ondersoeke.

“Sodra die ontslagpunte of oorloopplekke van die riool opgespoor is, sal die span onmiddellik aandag daaraan gee. Dit moet egter genoem word dat sulke oorlope wat in beboste of minder sigbare gebiede voorkom, dikwels langer ongesiens voortduur omdat dit nie vinnig aangemeld word nie,” verduidelik hy.

Hoewel Mashigo bevestig dat die munisipaliteit bewus is van die impak van die besoedeling op die Boepensspruit en uiteindelik die Bon Accord-dam, kan hy geen vaste tydlyn gee vir herstelwerk nie.

“Ons kan eers kommentaar lewer sodra die omvang van die probleem bekend is,” sê hy.

Volgens Rina Marx, stadsraadslid vir die Vryheidsfront Plus, is die situasie veel meer as ’n plaaslike probleem.

“Ek het ’n oproep ontvang van ’n inwoner wat my geneem het om te wys hoe rou riool direk uit pype in die spruit instroom. Dit is nie net onaanvaarbaar nie. Dit is onwettig en gevaarlik,” sê sy.

Verskeie lekke in rioolpype en mangate wat oorloop in strate dra by tot die waterbesoedeling deur rou riool in die Boepensspruit in noorde. Foto: Verskaf

Marx meen die besoedeling het wye implikasies.

“Die dam is ’n ontspanningsoord. Mense vang vis daar. Kinders speel daar. Tog stort riool direk daarin via die spruit. Dit is ’n gesondheidsrisiko van nasionale belang. Die wet gee Suid-Afrikaners die reg op ’n veilige omgewing. Hierdie reg word hier blatant geskend.”

Jaco Mulder, lid van die Gautengse Provinsiale Wetgewer, sê dat Heatherdale se rioolprobleme slegs ’n simptoom is van groter wanadministrasie binne die metro.

“Ons sien dieselfde patrone by Rooiwal en Baviaanspoort, waar onverwerkte riool in die Apiesrivier beland,” sê hy.

Mulder meen daar is nie net sprake van ’n tegniese of infrastruktuurprobleem nie, maar van ’n gebrek aan politieke wil.

“Daar is geen behoorlike langtermynbeplanning of begrotingsallokasie vir die opgradering van rioolinfrastruktuur in vinniggroeiende gebiede soos Heatherdale nie.”

Vryheidsfront-Plus raadslid Rina Marx veg om nuwe riool- en waterafvoerstelsels in plek te kry om die rou riool wat in die Boepensspruit gestort word en afgevoer word na die Bon Accord-dam, te beveg. Foto: Verskaf

Marx is ook uitgesproke oor hierdie gebrek aan optrede.

“Hierdie stortings is al voorheen aangemeld, maar niks gebeur nie. Die spruit vloei deur woongebiede, verby hoewes, ’n skool en ’n gholfbaan. En tog daar is geen reaksie nie.”

Sy bevraagteken die tempo van die ondersoek. “Hoe lank neem dit om ’n ernstige saak soos hierdie te ondersoek? Ons het onmiddellike aksie nodig. Nie net nog ’n verslag nie.”

Sy wys daarop dat selfs plekke soos die Akasia-gholfbaan die gevolge begin voel.

“Die infrastruktuur is oud en onvoldoende. Met die voortdurende ontwikkeling in die noorde, kan die stelsel eenvoudig nie byhou nie.”

Mashigo sê die metro het wel langtermynplanne.

“Voorkomende instandhouding en die vervanging van verouderde infrastruktuur word tans beplan, maar begrotingsbeperkings bly ’n uitdaging.”

Die ironie, sê Marx, is dat ontwikkeling in die area steeds goedgekeur word.

“Hoe keur jy meer woonbuurte met meer huise en meer inwoners goed as jy weet jou infrastruktuur vir riool- en afvalwater is reeds oorlaai?”

Sy stel voor dat gereelde inspeksies en onafhanklike evaluasies gedoen word.

“Ons moet seker maak die werk wat gedoen word, is nie net simbolies of korrup nie. Anders gaan ons net die probleem heeltyd rondskuif en nie oplos nie,” sluit sy af.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button