News

Betalingsprobleme ontken, maar vrae bly oor brille

Duisende mense se sig verswak terwyl hulle maande moet wag weens ’n briltekort.

’n Ontstellende 21 000 pasiënte wag tans by gesondheidsfasiliteite in Gauteng vir ’n eenvoudige, maar lewensveranderende hulpmiddel: ’n bril.

In Pretoria en omliggende dele van die Tshwane-distrik alleenlik wag meer as 5 600 mense, sommige al tot nege maande lank, om hul sig te verbeter.

Volgens ’n antwoord van die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko in die Provinsiale Wetgewer is daar 20 hospitale, 28 gemeenskapsgesondheidsentrums (GGEs) en 62 klinieke wat brille voorsien.

DA-lid in die provinsiale wetgewer, dr. Jack Bloom, vind “hierdie agterstand verstommend”.

Hy is geskok en teleurgesteld oor hierdie versuim, wat lei tot verswakkende sig en gepaardgaande trauma vir pasiënte en hul families.

Die Tshwane Gesondheidsdistrik sluit van die hoogste aantal agterstande in die provinsie in.

Van die ergste agterstande sluit in:

– Mamelodi Hospitaal: 1 120 pasiënte

– Tshwane Distrikshospitaal: 1 072

– Odi Hospitaal (Mabopane): 714

– Kalafong Hospitaal: 607

– Jubilee Hospitaal (Hammanskraal): 525

– Pretoria-Wes Hospitaal: 392

– Laudium GGE: 271

– Olievenhoutbosch Uitbreiding 13 Kliniek: 218

– Jack Hindon Kliniek (Pretoria-Noord): 144

Bloom sê wat veral kommer wek, is die groot verskille in wagtye.

Terwyl pasiënte op die Wes Rand net een maand wag vir brille, moet mense by hospitale soos Charlotte Maxeke in Johannesburg tot 13 maande wag. Meer as 900 pasiënte wag vir brille by hierdie hospitaal.

Hy wys daarop selfs binne dieselfde metropolitaanse gebiede is daar ongelykhede: by Mofolo en Alexandra GGEs in Johannesburg wag onderskeidelik 898 en 571 mense al tien maande vir brille. In die Vaal wag 2 569 pasiënte by Johan Heyns- en Levi Mbatha-hospitaal en by Sharpeville GGEs vir 11 maande.

“Hoe is dit moontlik dat sommige klinieke binne ’n maand brille kan voorsien, maar ander plekke wag mense meer as ’n jaar?” vra Bloom.

Een ligpunt is dat kinders nie langer as drie weke hoef te wag nie. Die departement werk saam met skenkers en vennote om vinnige diens aan kinders te verseker.

Hy het navraag gedoen of die agterstand verband hou met onbetaalde kontrakte met bril- en lensverskaffers.

Die departement het egter aangedui dat sulke vrae aan finansies gerig moet word.

“Dis ’n moontlike aanduiding dat betalings wel ’n rol kan speel,” vermoed Bloom.

Volgens hom het die departement beweer daar is ’n proses aan die gang om die meeste bril-items op kontrak te verkry en dat hulle mik om die agterstand teen einde Oktober uit te wis.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button