Ontvoerder Malot teken appèl aan teen vonnis
Jacques Arthur Malot (40) is op 24 Junie in die Pretoria-Noord Streekshof tot ’n effektiewe vier jaar tronkstraf gevonnis vir aanranding, voertuigmisbruik, ontvoering en skade aan eiendom. Hy mag nie ’n vuurwapen besit nie, en al die vonnisse word gelyktydig uitgedien.
Jacques Arthur Malot (40) is op 24 Junie in die Pretoria-Noord streekshof tot ’n effektiewe vier jaar tronkstraf gevonnis, ná jare van beweerde ontduiking en verskeie klagtes teen sy naam.
Hy het appèl teen sy vonnis aangeteken.
Malot is vroeër vandeesmaand op 11 Junie, skuldig bevind op aanklagte van aanranding, opsigtelike beskadiging van eiendom, onregmatige gebruik van ’n motorvoertuig en ontvoering.
Die hof het Malot die volgende vonnisse opgelê:
– aanranding: ’n waarskuwing van die hof;
– beskadiging van eiendom: drie maande tronkstraf;
– onregmatige gebruik van ’n voertuig: vier maande tronkstraf;
– ontvoering: vier jaar direkte gevangenisstraf.
Daarbenewens is Malot ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die landdros het bepaal dat al die vonnisse gelyktydig uitgedien moet word.
Hierdie oortredings spruit uit ’n voorval in Pretoria-Noord in 2021.
Sedert sy arrestasie in 2024 in Kaapstad op ’n klag van winkeldiefstal, het Malot in aanhouding gebly.
Ten tyde van sy inhegtenisneming, is sy foto by die Sinoville-polisiekantoor vertoon as een van die mees gesoekte persone in die area, volgens kaptein Johan van Dyk.
Hennie Viljoen, senior spesialis ondersoeker van Specialised Security Services, sê hierdie vonnis is ’n belangrike mylpaal in die stryd teen geweld teen vroue.
“Jacques Malot is ’n bekende oortreder met verskeie sake van inbraak, voertuigdiefstal, huislike geweld en ontvoering wat oor die jare teen hom geopen is. Baie slagoffers het egter uit vrees of weens dreigemente nie hul sake voortgesit nie,” sê Viljoen.

Hy het bevestig dat hul ondersoekfirma 10 ondersoekprojekte namens kliënte rondom Malot hanteer het.
“’n Klomp van die sake wat ons hanteer het, was oor die tyd by die polisie reeds afgesluit of kliënte wou nie altyd aangaan nie. Veral die vrouens wat beweerde geslagsgeweldsake teen hom gehad het, het net eenvoudig nie kans gesien om deur die trauma te gaan om te getuig in die hof nie.”
Viljoen beklemtoon dat hul werk teen oortreders van geslagsgebaseerde geweld ver van klaar is: “Ons sal nie ophou totdat elke slagoffer geregtigheid kry nie. Die veiligheid van vroue in ons gemeenskappe bly ’n prioriteit, en ons sal voortgaan om verdagtes soos Malot op te spoor en voor die gereg te bring.”
Viljoen sê Candice Fourie, die klaagster in hierdie saak, het ook op 24 Junie weer in die hof getuig.
Sy het van haar trauma, inkomsteverlies en die psigologiese impak van die gebeure getuig.
Malot se regsverteenwoordiger het haar egter onder kruisverhoor geplaas en beweer sy het sogenaamde valse klagtes teen hom gelê, ’n bewering wat Fourie ten sterkste ontken het.
Hoewel Malot se prokureur appèl aangeteken het teen die vonnis, sal hy steeds in aanhouding bly totdat ’n datum vir die appèlsaak in die Hooggeregshof vasgestel is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
