Dr. Justin Nel: 100 jaar van toewyding en diens
'n Honderdjarige inwoner van Huis Herfsblaar is steeds lief vir 'n stukkie melktert, klim eerder die trappe as om die hyser te gebruik en dink nostalgies terug aan goue oomblikke as 'n geneesheer.
Teen die einde van Junie vanjaar het dr. Justin Nel, voorheen ’n geliefde mediese dokter van Queenswood, 100 jaar oud geword.
Dis ’n merkwaardige prestasie wat nie net ’n bewys van sy uithouvermoë is nie, maar ook van sy lewenslange toewyding om ander te dien.
Nel se lewensverhaal is ryk aan uitdagings, oorwinnings, en ’n onwrikbare passie vir die genesing van ander.
Hy is in die rustige dorp Ladismith in die Wes-Kaap op 25 Junie 1925 gebore. Twee jaar later het sy gesin na Kaapstad verhuis, waar hulle in Observatory en later in Vredehoek gewoon het.
Kaapstad was vir die jong Nel ’n dinamiese plek om in groot te word en sy skooljare het hy onder meer in die bekende Hoërskool Jan van Riebeeck spandeer.
Hy het in 1942 gematrikuleer. Die Tweede Wêreldoorlog en terugkerende soldate het die jare na matriek beïnvloed en Nel het nie onmiddellik universiteit toe gegaan nie.
Hy het besluit om eers in die staatsdiens vir 18 maande by die Departement van Justisie se Meesterskantoor met boedels te werk. Hierdie vroeë werkservaring het hom ’n vaste grondslag gegee.
Na die 18 maande het hy besluit om sy droom na te jaag en geneeskunde aan die Universiteit van Pretoria te begin studeer.
Hy onthou die beginjare as uitdagend, maar Nel het hom nie laat ontmoedig nie.
“Ek het geleer dat jy alles kan oorkom as jy net jou bes probeer,” sê hy. “My pa het gesê ek kry nie ’n tweede kans nie. Ek moet goed leer. Gelukkig het ek geleer dat ek bars en onderskeidings gekry, en na ses jaar het ek gekwalifiseer,” onthou Nel.
Na sy kwalifikasie het hy sy loopbaan as jong dokter begin. Sy eerste werk was in Vereeniging en daarna in Lydenburg. Hy het ook as distriksgeneesheer in Kimberley gewerk.
“Dit was ’n ware uitdaging om net eers my voete te vind,” sê hy.
Dit het egter ook ’n bewys geword van sy onwankelbare toewyding aan die genesing van ander, veral in areas waar daar ’n groot tekort aan mediese sorg was, sowel as met die gesondheid van terugkerende soldate.
Na ’n paar jaar het hy by die Yskor Mediese Fonds in Thabazimbi as geneesheer aangesluit en later na Pretoria se Yskor-hoofkantoor verhuis in dieselfde hoedanigheid.
Hiermee is sy praktiese ervaring verder uitgebou en hy kon ’n positiewe impak maak op die gesondheid van die Pretoria-gemeenskap totdat hy op 72-jarige ouderdom afgetree het.
Nel het ’n groot deel van sy lewe gewy aan mense wat nie mediese sorg kon bekostig nie.
“Ek het altyd geglo in die belangrikheid van diens aan mense wat nie die geleentheid gehad het om doktersdienste te bekom nie,” sê hy met ’n glimlag.
In daardie dae het huisbesoeke nog dikwels deel van die werk van dokters uitgemaak. Hy het in daardie tyd ook gewonder oor ’n loopbaan in radiologie, maar het gekies om op sy huidige mediese roete te fokus.
Hy het ook deur die jare sy eie gesondheid in ag geneem. Hy glo aan gematigde oefening.
“Ek klim altyd eerder trappe en sal altyd die hysbak vermy al wil almal nou op my gevorderde ouderdom my eerder in die hysbak sien!”
Hy het nooit alkohol of sigarette gebruik nie en het ’n hartomleiding 30 jaar gelede ondergaan. Hy dra nie ’n gehoorapparaat nie.
Nel het sy eggenote, Felicity, in die sestigerjare ontmoet en hulle het saam hul tuiste in 1963 in Queenswood gevestig. Sy is 11 jaar gelede aan ’n beroerte oorlede, ’n groot verlies vir hom.
“Ons het alles saamgedoen. Sy was vir my ’n ware vennoot,” sê hy met ’n glimlag.
Hy het meer as 20 jaar gelede ’n inwoner van Huis Herfsblaar in Queenswood geword en is die aftreeoord se eerste manlike inwoner wat ’n 100 jaar oud is.
Gelukkig het die lewe ’n tweede kans op vriendskap vir hom gebring.
Nel en sy 86-jarige voormalige buurvrou, Elsie Niemandt, gaan saam kerk toe, en geniet Woensdae ’n ete saam.
“Ek het nou weer ’n maatjie gevind en ons het ’n oulike vriendskap.”
Hy is ook trots op sy twee seuns, vier kleinkinders en twee agterkleinkinders. Hy sê sy familie is die hoeksteen van sy lewe en het hom deur sy moeilike tye gedra.
“Ek leef om ander mense gelukkig te maak,” verduidelik hy met ’n deernisvolle glimlag.
Twee dinge wat hom gelukkig maak is “’n lekker stukkie melktert” en herinneringe aan dansklasse wat hy by die bekende Arthur Murray-dansstudio geloop het.
“Ek hou van dans, maar nou is dit stap wat my gesond hou.”
Vir Nel is om sy 100-jarige mylpaal te bereik ’n gawe van Bo.
“Ek het geen geheim nie. Ek dink dis net genade,” sê hy. “Dit is nie die jare wat ons maak wie ons is nie, maar die mense wat ons dien en die liefde wat ons deel.”
Lees: DA se mosie van wantroue misluk teen Speaker
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
