News

DA se mosie van wantroue misluk teen Speaker

Mncedi Ndzwanana bly aan die stuur as Speaker van die Tshwane-stadsraad nadat ’n DA-geleide mosie van wantroue misluk het. Die debat het sterk beskuldigings van partydigheid, politieke opportunisme en onreëlmatighede in raadsvergaderings ontketen.

Die Speaker van die raad, Mncedi Ndzwanana, het Donderdag ’n mosie van wantroue oorleef.

Met die mosie wat deur die DA ter tafel gelê is, was slegs 82 stemme ten gunste daarvan om die Speaker te verwyder. ’n Meerderheid van 114 raadslede van die regerende veelpartykoalisie het teen die mosie gestem, terwyl een raadslid buite stemming gebly het.

Die DA het Ndzwanana beskuldig van partydigheid en dat hy sy rol as voorsitter van die raad oortree.

Volgens die DA Hoofsweep Ofentse Madzebatela, sê die party die Speaker het deurgaans versuim om die reëls en billikheid wat in die raad verwag word, te handhaaf.

“Die Speaker baseer sy beslissings op emosies, nie logika of raadsreëls nie,” beweer Madzebatela.

“Hierdie gedrag ondermyn die vermoë van raadslede om op gelyke voet aan vergaderings deel te neem.”

Hy beweer ook dat Ndzwanana konsekwent vooroordeel teen die DA getoon het en hul voorstelle geïgnoreer het ongeag wettige of redelike meriete.

“Sy diskriminerende gedrag het ’n punt bereik waar partye buite die regerende koalisie nie meer ’n regverdige verhoor in raadsvergaderings gegun is nie,” voeg Madzebatela by.

Hy sê die Speaker was aan die stuur van ’n nuwe administrasie wat oorsig teen einde 2024 heeltemal tot ’n stilstand gebring het.

“Vir ’n tydperk van amper vier maande, kon komiteevergaderings van die raad nie plaasvind nie, omdat dit of uitgestel of gekanselleer is. Eers nadat die DA ’n beroep in die openbaar gemaak het, het ’n soort stabiliteit die oorhand gekry het en is komiteevergaderings hervat in Februarie.”

Ten spyte van die mislukte mosie, sê die DA hulle sal voortgaan om die Speaker aanspreeklik te hou vir wat dit beskou as ’n misbruik van sy posisie.

Burgemeesterskomiteelid vir Behuising en Menslike nedersettings, Aaron Maluleka, beskryf die DA se mosie as ongegrond.

Maluleka het verder teen die DA uitgevaar. “Hulle is huigelaars van die hoogste orde wat jy kan kry.”

“Die DA verstaan nie demokrasie nie; vir hulle gaan dit alles oor geskiktheid en die mosie het niks te doen met Ndzwanana nie, maar handel oor die DA se ego,” sê Maluleka.

Hy het die Speaker verder geloof, en voer aan dat hy hom baie goed van sy taak gekwyt het en moeilike raadsvergaderings binne die reëls en wet gehandhaaf het.

ActionSA Gauteng se provinsiale voorsitter Funzi Ngobeni sê die mosie van wantroue is niks minder nie as ’n desperate en deursigtige poging deur die DA om ’n ander koalisieregering te destabiliseer wat werklike tekens van voortuitgang en stabiliteit na jare van wanfunksie begin wys het.

“Die ironie van die situasie is opvallend. Die huidige Speaker is verkies met DA-ondersteuning in direkte stryd van die koalisie-ooreenkoms wat destyds in plek was,” sê Ngobeni.

Hy voeg by dat die DA elke geleentheid gehad het om dit reg te stel en dit nie gedoen het nie. Voormalige burgemeester Cilliers Brink het saam met die Speaker regeer sonder enige probleem.

“Dis net nou, aangesien die stad werklike vordering onder ’n hernieude koalisiemandaat toon, het die DA besware, wat die opportunisme openbaar wat hul optrede definieer. ”

Ndzwanana het die eise deur die DA verwerp.

“Die beslissings wat ek al die raadsvergaderings maak is nie gebaseer op emosies nie. Die beskuldigings is ongegrond. As die kampioen van oorsig en die uitvoerende beampte aanspreeklik hou, handhaaf ek die vergaderings volgens die Reëls van die Bevelverordering.”

Ndzwanana sê hy ontken dat opposisiepartye in raadsvergaderings se monde gesnoer word.

“Trouens, daar is geen politieke partye in die raad wat stilgemaak word nie. Dit is my plig om regverdig en onpartydig te wees wanneer debatte gevoer word.”

Met betrekking tot die mislukte mosie van wantroue teen hom: “Soos ek gesê het, die waarheid sal die oorhand kry en dit het inderdaad gebeur. Ten slotte, ek is gereed om voort te gaan met die taak as Speaker om die raad op ’n regverdige en konsekwente wyse voort te sit. Om alle lede van die raad, binne die heerskappy van die raad in staat te stel om aan ’n debat deel te neem en nie enige lid wat wil beraadslaag te onderdruk nie. Ek herhaal dat ek die raad nie op politieke lyne sal bestuur nie,” verduidelik hy.

EFF-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gesondheid Tshegofatso Mashabela het die DA se mosie as ongegrond en as ’n aanval op die Speaker afgemaak.

Sy beskuldig die DA daarvan dat dit sy invloed herhaaldelik gebruik om die demokratiese wil van die mense binne die raad te ondermyn.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button