News

Hou jou kinders veilig tydens die skoolvakansie

Veiligheid is van kardinale belang vir ouers en voogde van kinders wat meer tyd tuis, op straat en in openbare plekke gedurende die skoolvakansie bestee.

Die skoolvakansie bied kinders ’n blaaskans weg van hul daaglikse roetine en om tyd met families en vriende deur te bring.

Dit is ook wanneer adolessente begin om hul onafhanklikheid en vryheid vrye teuels te gee.

Terwyl duisende Suid-Afrikaanse kinders hul winterskoolvakansie geniet tot 22 Julie, word ouers en voogde gemaan om hul veiligheid te prioritiseer.

Polisiewoordvoerder kaptein Johan van Dyk waarsku ouers dat daar dikwels meer misdaad gedurende die vakansies plaasvind wat kinders insluit, veral wanneer hul alleen gelaat word.

“Ouers moet seker maak dat ’n volwassene ten alle tye teenwoordig is of dat kinders onder betroubare toesig gelaat word,” sê hy.

Van Dyk het ook kommer uitgespreek dat kinders maklike teikens vir diewe is.

“Kinders loop met hul selfone en elektroniese toestelle in die openbaar, wat die moontlikheid van diefstal verhoog.

“Hulle word ook deur misdadigers om die bos gelei wanneer hulle hulp met hul selfone vra, net om te vind dat hul fone gesteel word.

“Sosiale media platforms hou ook ’n bedreiging in met vreemdelinge wat hul vriende word en vra om êrens te ontmoet en hul dan ontvoer of verkrag,” sê Van Dyk.

Om sulke voorvalle te voorkom, lig hy uit dat daar misdaadvoorkomingsprosesse en daaglikse patrollies in alle polisiëringsgebiede van Tshwane is.

“Daar is voortgesette bewustmakingsveldtogte wat op ’n weeklikse basies by skole uitgevoer word waar polisie met kinders praat oor dwelms, bende-verwante aangeleenthede, persoonlike veiligheidswenke, boeliegedrag, sosiale media-bewustheid en veiligheidsmaatreëls.”

Hy sê dat GPFs ’n sleutelrol binne gemeenskappe speel deur middel van patrollies en verkryging van inligting om kinders gedurende die vakansies veilig te hou.

Van Dyk raai ouers aan om ten alle tye te weet waar hul kinders is en waarheen hul op pad is.

“Maak seker jy weet wie hul vriende is en watter sosiale media platforms hulle gebruik. In geval van enige onsekerheid, gaan na jou naaste polisiestasie vir hulp, rapporteer dit op 0800 10111 of laai the SAPS-app af en deel die informasie daarop,” sê hy.

Die Departement van Basiese Onderwys raai ouers aan om hul kinders se veiligheid te prioritiseer deur die volgende riglyne te volg:

– Kinders moet dit vermy om met vreemdelinge te praat, veral wanneer jy nie daar is nie.

– Leer jou kinders om jou altyd te sê as hulle deur ’n vreemdeling genader is, en om nooit geheime te hou nie.

– As jou kind êrens moet gaan, raai hulle aan om slegs ’n geleentheid met vriende te kry, en om uit die voertuig te klim indien hulle ongemaklik voel.

– As jou kinders verdwaal, moet hy/sy ’n polisiebeampte, ’n volwassene met kinders of iemand wat by ’n winkel werk om hulp vra.

– Maak seker dat jou kinders hul adres en telefoonnommer uit hul koppe ken.

– Maak seker jy kan jou kinders sien of binne die toesig van ’n ander volwassene wat jy vertrou.

– Wanneer jy ander plekke besoek, reël altyd dat daar ’n ontmoetingspunt vir jou en jou kind is in geval een van julle wegdwaal en verdwaal.

– Maak seker dat julle almal op die bus of taxi naby mekaar sit.

– Maak seker jy vergesel jou kind altyd na openbare geriewe/toilette.

– Hou by besige, goedverligte paaie en vermy kortpaaie deur die agterstrate.

– As jou kind vermoed dat hy of sy gevolg word, behoort hul die pad oor te steek of te gaan waar daar baie mense is, soos ’n busstop of winkel.

– Moedig jou kind aan om te sê as hulle geboelie word of voel dat hulle dalk in gevaar verkeer.

LEES: Dr. Justin Nel: 100 jaar van toewyding en diens

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button