News

Nuusman skryf nou ook politieke spanningsfiksie

Gert Coetzee se roman in die spanningsfiksie genre, Lens - op die nuusspoor, is ’n liefdesbrief aan die nuusbedryf, ’n eerbetoon aan die karakters wat in die bedryf werk, en ’n bittersoet herinnering van gebeure wat die wêreld verander het in die vorige eeu.

Oud-Bloemfonteiner en resensent Francois Bekker het op 25 Junie tydens die bekendstelling beklemtoon hoe Gert Coetzee se roman, Lens – op die nuusspoor, ’n eiesoortige mengsel is van prikkelende spanningsfiksie en aktuele insig.

Die bekendstelling het by Exclusive Books in die Menlyn-sentrum plaasgevind.

Coetzee se ervaring as joernalis, ook in Pretoria, sowel as internasionaal, word gou duidelik in die roman se geskiedenisboog en spanningslyn.

Hy het sy joernalistieke vaardighede gebruik om ’n verbeeldingswêreld te skep waar die grense tussen feite en fiksie vervaag.

Van sy tyd by Volksblad as redakteur asook sy ontmoetings met internasionale leiers in Washington en ander wêreldstede en nou as meningskrywer, wys Gert Coetzee hy is ’n invloedryke politieke waarnemer en verteller van sy tyd.
Bekker het in ’n resensie op Netwerk 24 so daaroor geskryf: “So lekker as wat die roman lees, is dit die aktuele aanbod wat verras.”

Geen wonder nie want Coetzee, oud-inwoner van Pretoria in die tagtigerjare en daarna weer ’n Bloemfonteiner in murg en been, het diep professionele spore getrap as joernalis en later as redakteur.

“Ek was lief om die voetwerk van ’n joernalis te doen en ook die storie agter die storie. Ek was selde op kantoor,” bely hy.

Sy roman speel af tydens die politieke oorgangstyd in Suid-Afrika (1988-1990) in Pretoria. Die hoofkarakter, Chris Meyer, is ’n jong joernalis by Oggendspieël. Op sy eie ondersoek hy die dood van die prominente egpaar dr. Albert en prof. Hillerie Strydom, wat ’n dekade tevore in ’n motorongeluk omgekom het. Albert was ’n polities-verligte raadgewer vir die regering. Chris probeer die raaiselagtige omstandighede van die ongeluk ontrafel, en ontdek dat daar ’n verband is met die dubbele moord op dr. Robert en Jeanne-Cora Smit van 1977. Die woorde “RAU TEM” wat teen die muur van hul moordhuis geskryf was, speel ’n sleutelrol in die verhaal.

Coetzee meng op ’n knap wyse spanningsfiksie met politieke insig en verken veral die wêreld van joernalistiek, etiek, en die soeke na waarheid, maar daar is darem ook ’n skeutjie romantiek.

Nadat hy ’n honneursgraad in Engels 1986 verwerf het, het hy by die Departement van Inligting in Pretoria begin verslag doen vir publikasies soos Panorama.

Die oudleerling van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, sou uiteindelik 35 jaar in die nuusloopgrawe spandeer. Sy loopbaan het sy hoogtepunt bereik as redakteur van Volksblad in 2022.

“En van die lekkerste tye hiervan was hoe mens ’n storie losgekry het na ’n nuuswenk ontvang is. Die jaag van nuus kom met sy eie porsie adrenalien.”

Coetzee het sy roman oor ’n periode van 12 jaar ontwikkel terwyl hy besig was met ’n meestersgraad in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het die manuskrip meer as tien keer herskryf.

Ondanks ’n paar wegwysings van uitgewers, het hy aangehou om ’n tuiste vir sy manuskrip se publikasie te soek, ’n bewys van hierdie deurwinterde nuusman se deursettingsvermoë en passie. Uiteindelik is die roman gepubliseer deur Marlene Malan van Turksvypublikasies.

Oor hoe outobiografies die boek is, antwoord Coetzee met ’n vonkel in die oog dat mense wat sy pad gekruis het, wel daarin opgeneem is. Die karakter “dr. B” is ’n verwysing na een van die voormalige grootbase in Suid-Afrika se spioenasienetwerke, Neil Barnard.

“Ek het net een karakter uit die nuuswêreld behou in sy ware hoedanigheid, ’n voormalige Volksblad-kollega, wyle Mike van Rooyen,” vertel Coetzee van die legendariese koerantman van die Vrystaat wat menige voorbladstorie geskryf het.

Coetzee beskryf sy styl as fiksieskrywer as direk en ondersoekend.

Sy mantra in die joernalistiek was altyd: “Maksimum inligting, minimum skade.”

Hy het aan die waarderende gehoor ’n paar staaltjies en anekdotes verduidelik wat die mantra illustreer van hoe mens met respek moet omgaan vir die detail rondom die mens waaroor jy skryf.

Francois Bekker, resensent en oud-raadslid

Die roman is gebou op ervaring, insluitend tyd in die buitelandse Media24-kantoor in Londen.

“Hier het ek gedoen wat ek altyd in buitekantore soos op Kimberley gedoen het: steeds oor mense geskryf, meesal oor Suid-Afrikaners in Groot Brittanje.”

Hy was mentor vir studente aan die Universiteit van Stellenbosch in 2008, waar hy met die ontwikkeling van ’n kurrikulum oor mediareg, verantwoordelikheid en etiek in joernalistiek menige toekomstige joernalis se voete op die regte pad gerig het.

Coetzee verduidelik die titel verwys na ’n kamera wat ’n joernalis in fokus moet kry, maar ook na die innerlike soeke na waarheid in elke artikel wat aangebied word.

“’n Joernalis moet voltyds in sy soektog namens sy leser streef na die onkreukbare waarheid.”

Daar is vir hom ’n sprankie ironie daaraan dat talle hoofstroomkoeranttitels in die maand wat sy boek verskyn het, gesluit is.

“Die roman is dan ook deur ’n kommentator as die laaste saluut aan die gedrukte koerant genoem,” merk Coetzee op.

Met soveel diepte en detail, veral oor wat in nuuskantore voor spertyd en saktyd gebeur, kan die boek ook as ’n noulettende en sorgsame optekening van ’n era in hierdie gesoute joernalis se lewe beskryf word.

Nie dat die nederige Coetzee hiermee sal saamstem nie.

“Ek is self ’n introvert en het as redakteur altyd die stil skrywers raakgesien. Diegene wat sonder ’n groot bohaai meer skryfwerk as praatwerk gedoen het in die tydvak wat ware kameraderie nog in die nuuskantore hoog geskat was en almal na saktyd as ’n Volksblad-familie saam oor nog ’n dag in die loopgrawe gesels het. Die byeenkoms van die ridders van die Orde van die Tikmasjien.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button