News

Foutiewe munisipale rekeninge toon R0-heffing

Meer as 15 000 Tshwane-inwoners het munisipale rekeninge ontvang wat ’n R0-heffing vir tariewe en belasting toon as gevolg van ’n stelselfout. Die stad sê dat dit besig is met regstelling en maan inwoners om hul gewone bedrae te betaal.

Tshwane-inwoners is verward en bekommerd na die ontvangs van hul mees onlangse munisipale rekening wat ’n R0-tariefheffing reflekteer.

Inwoners wonder nou of hul moet betaal, die rekenings ignoreer of moet wag vir verdere verduideliking.

Die metro bevestig dat ’n tegniese fout met die faktuurstelsel die probleem veroorsaak het.

Volgens metrowoordvoerder Lindela Mashigo, is die probleem veroorsaak deur ’n onverwagte verwerkingsfout tydens die eiendomsbelasting-heffingsiklus en dat meer as 15 410 eiendomsbelastingbetalers geaffekteer is.

Hy verseker inwoners dat die metro besig is om die foutiewe rekeninge reg te stel en die korrekte heffings te herfaktureer, en beklemtoon dat dié proses nie in oorbelasting sal ontaard nie.

“Die metro sê egter dat inwoners met outomatiese bankbetalingsreëlings of aktiewe paaiemente dalk nie bygewerkte rekenings vir Junie 2025 sal ontvang nie,” sê Mashigo.

Dié inwoners sal die ontbrekende eiendomsbelastingheffing op hul Julie-rekening as dubbele faktuur vir daardie maand sien. Hy het bevestig dat geen rente nou na die R0-rekeninge gehef sal word nie.

Hy moedig inwoners aan om aan te hou om hul gewone maandelikse eiendomsbelasting te betaal afgesien van die R0-heffing wat op die Junie-rekeninge gereflekteer word.

“Meeste van diegene wat geaffekteer is sou te min betaal het, aangesien die fakture slegs diensheffings toon en nie eiendomsbelastingheffing nie. Kredietaanpassings sal in Julie gemaak word vir vrygestelde eiendomseienaars wat verkeerd gefaktureer is,” verduidelik Mashigo.

Hy sê die eiendomsbelastingheffing is ’n vasgestelde maandelikse bedrag en word nie op verbruik gebaseer nie, wat bevestiging van die gekorrigeerde heffings vereenvoudig.

“Bygewerkte fakture sal outomaties beskikbaar gestel word via die e-Tshwane aanlyn platform en deur die stad se e-pos-kommunikasiekanale.”

Hy sê geaffekteerde inwoners hoef nie die hersiene fakture fisies aan te vra nie.

Mashigo verseker inwoners dat die metro die kwessie prioritiseer en maan die publiek om hul rekeninge te monitor en uit te reik indien hul verdere hulp benodig.

LEES: Leerders toegerus om lewe na skool aan te pak

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button