News

Pretoria-oos skoonheid verower harte in VSA

Ilané Liebenberg, Mej. Royal International Teen 2025 , is ’n inspirerende jong vrou wat haar geloof, harde werk en passie gebruik om gemeenskappe te help en jongmense te motiveer om hul drome na te jaag.

“Dit voel soos ’n droom,” sê Ilané Liebenberg van Pretoria-oos, gekroon as Mej. Royal International Teen 2025 op 12 Julie in Orlando, VSA.

“Ek onthou die oomblik toe ek die kroon ontvang het, en toe eers weer toe ons die volgende oggend wakker geword het vir ’n fotosessie. Ek was so oorweldig. Die 24 uur is iets wat ek nooit sal vergeet nie!”

Met dié wêreldtitel het Ilané geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaner te wees wat die Teen Divisional-afdeling van die kompetisie gewen het.

Die 20-jarige Stellenbosch-student se prestasie is die gevolg van jare se harde werk, toewyding en geloof.

Sy straal van opgewondenheid wanneer sy oor haar ervaring vertel: “Ek is ongelooflik dankbaar teenoor die Here. Ek weet ek het hierdie titel gewen in Sy tyd en op presies die regte tyd in my lewe.”

Haar verhaal is een van vasberadenheid, gebed en ’n duidelike doelwit.

Sy het van jongs af geweet sy wil ’n impak maak, en met die Mej. Teen International-titel as platform, is sy nou gereed om haar droom uit te leef: “Ek is gereed om ander mense te inspireer. Hierdie titel is nie net vir my nie. Dis ’n manier om hoop te bring en verandering te maak.”

Sy is veral opgewonde oor haar planne om in gemeenskappe betrokke te raak, onder andere deur opvoedkundige ondersteuning aan kinders in minderbevoorregte omgewings te verleen met hul opvoeding.

“Ek wil kinders help met huiswerk en ekstra klasse gee, veral in gemeenskappe waar toegang tot kwaliteitonderrig beperk is,” vertel sy.

Sy is ook passievol oor haar betrokkenheid by ’n liefdadigheidsorganisasie in die Laeveld se Genesis Nutrition-program: “Dis ’n volledige maaltyd in een pakkie en is ideaal vir ondervoede kinders se aanvulling. Voeding is die eerste stap na suksesvolle leer.”

Die pad na die internasionale verhoog was nie maklik nie. Sy het jare lank voorberei, insluitend opleiding by ’n modelskool in Pretoria.

“Ek het baie geoefen en voorberei vir onderhoude en baie loopopleiding gedoen. Ek het selfs gehelp met die ontwerp van my uitrustings!” sê sy trots.

Tog was daar uitdagings: “Een van my uitrustings het losgekom. Gelukkig het ons genoeg speldjies saamgeneem. My ma het altyd ’n plan. Jy druk deur. Ons almal het. Dis wat mededinging jou leer: uithouvermoë.”

lané Liebenberg van Pretoria-oos, is gekroon as Mej. Royal International Teen 2025 op 12 Julie in Orlando, VSA. foto: Verskaf

Sy onthou die oefensessies, die daaglikse repetisies, en natuurlik die kleurvolle openingstoneel se dans.

“Ons moes ook ’n uitrusting dra gebaseer op die jaar waarin ons gebore is. Dit was só spesiaal. En met die tema-uitrusting moes ek my karakter uitbeeld volgens ’n film. Dis iets wat ek vir altyd sal onthou.”

Liebenberg glo haar sukses is ook die resultaat van ’n liefdevolle familie wat elke tree saam met haar gestap het.

Haar pa is haar inspirasie wanneer dit kom by werksetiek: “Hy werk ongelooflik hard aan sy besigheid, maar maak altyd tyd vir ons. En hy het my ook finansieel ondersteun om aan die kompetisie deel te neem.”

Haar ma, Ilanza, was saam met haar in Amerika en het haar kalm gehou in stresvolle oomblikke.

“Ons moes baie dinge op die laaste minuut doen, maar sy het my altyd rustig gehou.”

Die Liebenberg-gesin: Morné, Ilanza, Ilané en Corné Liebenberg. Foto: Verskaf

Die feesvieringe toe sy terugkom in Suid-Afrika, was iets besonders: “My familie het my kom verras met blomme, ballonne, biltong en melktert!” lag sy.

Met haar B. Comm Internasionaal-studies in Stellenbosch in volle swang, en ’n semester wat iewers in die toekoms oorsee wag, het Ilané spesifieke planne vir haar toekoms.

“Ek wil graag my graad voltooi, dan werkservaring opdoen en uiteindelik my MBA doen. My groot droom is om my eie lugredery te begin en as hoof uitvoerende beampte daarvan diens te lewer aan mense oor die wêreld heen.”

Ilané se boodskap aan jong meisies is eenvoudig maar kragtig: “Moenie jouself vergelyk met ander nie. Fokus op jouself, en op jóú droom. Mense het al vir my gesê ek is te lank en kan net ’n loopplankmodel wees, maar ek het nie geluister nie. Ek het aangehou om in my droom te glo om aan skoonheidskompetisies deel te neem.”

Sy noem rolmodelle soos haar ouers, Ilanza en Corné Liebenberg, en ook vriende soos Juane van Rooyen en Bianca Edwards wat saam met haar deelgeneem het, as ’n stewige ondersteuningsbasis.

“Ek is omring deur mense wat regtig bly is vir my. En ek wil hierdie kroningsjaar gebruik om hulle en ander trots te maak. Ek wil graag impak maak. Nie net vir een jaar nie, maar vir die res van my lewe.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button