Vuurkosmeesters gaan vonke laat spat
Afrika se vuurkosgeheime gaan eersdaags gedeel word wanneer spanne vanoor die kontinent aan die Flames of Africa-kompetisie gaan deelneem.
Wanneer laas het jy oor ’n oop vuur kos gemaak oftewel vuurkos?
Nie gebraai nie, want ’n braai is nog lank nie die maak van vuurkos nie.
Hierdie koskookkuns laat eersdaags die vonke spat in Pretoria wanneer 20 spanne, insluitend internasionale spanne, rondom oop vure bymekaar gaan kom om met die groot prys van R10 000 vir die beste vuurkosmeesters weg te stap.
’n Titaniese stryd kan tussen die grotes van vuurkosmaak verwag word.
“Ons wil hiermee die maak van vuurkos groei tot op die vlak wat die koskuns in Amerika en Australië is.”
So sê bobaas vuurkosmaker en vleisberoker, Jacques Engelbrecht, van die internasionale Flames for Africa-kompetisie wat eersdaags aangebied word deur die South African Fire, Smoke and Meat Association en Lifespace.
Die verskil tussen braai en die maak van vuurkos (BBQ), is dat braai die vinnige gaarmaak van vleis oor kole of ’n vuur behels terwyl die maak van vuurkos, alle vorme van kosmaak op ’n oop vuur behels.
Ander vorme van vuurkos sluit in vleisberoking sowel as die voorbereiding van individuele snitte vleis, soos groot stukke beesvleis, varkvleis, skaapvleis of pluimvee, met houtgegeurde rook oor baie ure teen ’n baie lae temperatuur.
“Die verskil behels wat op die rooster geplaas word en die temperatuur waarteen dit gaar word.”
Spanne gaan meeding in vier kategorieë: vark-, hoender-, bees- en wildsvleis. Daar is geen beperkings op hoe die spanne hul geregte mag voorberei en aanbied nie.
Vir Engelbrecht is kos en sulke kompetisies die spys van die lewe.
“Kos is universiëel want dit lok emosie uit, bring mense bymekaar en breek grense af. Ons doel is om mense bymekaar te bring en die vreugde en samesyn rondom kos te vier.”
Engelbrecht meen Suid-Afrikaners het ’n voordeel wanneer dit by die maak van vuurkos kom.
“Suid-Afrikaners doen dit nou maar net eenvoudig anders, met oop-vure, in unieke houers, verskeie snitte, die gebruik van hout en goeie houtskool. Ons doen braai en beroking ook meer gereeld. Ons doen dit met meer unieke en voller geure sowel as met groot stukke vleis. Die smake, kultuur en die samesyn daarrondom is eiesoortig. ’n Gewone Suid-Afrikaanse braai en ook ’n vuurkosbraai het baie passie, geskiedenis en emosie.”

Hy glo omdat spanne van regoor Afrika ingeskryf is, kan so ’n kompetisie ook as ’n kontinentale kulinêre erfenisviering gesien word.
“Dit bring mense bymekaar, breek grense af en deel smake, geure en verleen ’n blik op ander tradisies,” sê Engelbrecht.
Vir hom is deel van die lekkerte dat daar allerlei unieke disse gaan wees “met nuwe smake en op verbeeldingryke metodes gemaak”.
Hy glo spesifieke Suid-Afrikaanse geure of bestanddele sal op die kompetisiedag die deurslag vir sommige mededingers by die beoordeling gee.
“Ek glo koljander en verskeie kruie sal ’n groot rol speel. Die Afrika-spanne het ook hulle eie geure en smake. Ons sien uit na nuwe smaakondervindinge.”
Volgens hom kyk die beoordelaars op ’n tegniese vlak na die disse.
“Smaak en tegniek wys tegniese vaardighede, alhoewel oorspronklikheid ’n groot rol speel. Die puntestelsel het verskillende gewigte agter elke area van beoordeling.”
Vir hom en die mede-organiseerders is die kompetisie ’n geleentheid om mense bymekaar te bring, om nuwe vaardighede aan te leer.
“Dit is ’n plek waar ons mense ontmoet en almal van die vleisboere tot die plaaslike gemeenskap betrek.”
Hul visie is om die kompetisiewenner-toekenning die mees gesogte toekenning in die braai-gemeenskap te maak.
“Dit gaan ’n jaarlikse kompetisie wees wat ons hoop met mening sal groei en een van SA se grootste oopvuur braaigeleenthede word. Ons werk reeds daaraan om die internasionale organisasie meer betrokke te kry en die kompetisie deur netwerke oop te maak vir internasionale deelname.”
As iemand wat self aan sulke kompetisies deelneem, staan die uniekheid van wildsvleis as ’n kompetisie-inskrywing vir hom uit.
“Daar gaan vele unieke wildsdisse beskikbaar wees, maar soos altyd is dit ook die geheime resepte vir marinades wat die skaal in die guns van ’n span kan laat swaai.”

Engelbrecht het sy vuurkosgeheim met Rekord gedeel en dit sluit sy wenmarinade in:
Pittige volstruis rissiemarinade met ’n gemmer- en lemoensous.
Bestandele vir die marinade
2 teelpels Tobasco-sous
3 eetlepels Worcestershire-sous
2 eetlepels olyfolie
2 eetlepels suurlemoensap
een roosmaryntakkie se blare
So maak mens:
1. Meng als saam.
2. Bedek volstruis-kruisskywe hiermee vir drie ure.
3. Braai volstruiskruisskywe daarna tot medium-gaar.
Sous om mee te bedien: Bestanddele
4 eetlepels lemoensap
2 eetlepels heuning
2 eetlepels gerasperde gemmer
2 knoffelhuisies, baie fyn gekap
1/2 teelepels neutmuskaat
2 teelepels growwe sout
1 teelepel fyn swartpeper
2 eetlepels botter
So maak mens:
1. Meng als saam (behalwe botter).
2. Verhit in ’n pan.
3. Laat borrel vir 2–3 minute en roer voortdurend.
4. Haal pan van hitte af en roer botter by tot ingesmelt.
5. Druip oor die gaar volstruisskywe en geniet.
– Die eerste “Lifespace Flames of Africa” vuurkos-kompetisie word op 2 en 3 Augustus by die Lavender Kontrei Mark (LKM) in Pretoria gehou.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
