News

Musieklegende se gedenkwaardighede aan FAK geskenk

'n Koormusieklegende se bydrae tot die bewaring van Afrikaanse musiekerfenis strek verder as die FAK-Sangbundel. Hy het meer as 800 volksmelodieë uit Suid–Afrika en Namibië versamel.

Die geliefde komponis George Chris Lamprecht (97) se waardevolle versameling musiekstukke, persoonlike publikasies en gedenkwaardighede is onlangs deur sy seun, Charl, van Pretoria, aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) geskenk.

Dié skenking, wat nou deel vorm van die FAK-versameling in die argief van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument, is ’n kulturele skatkis wat van Lamprecht se lewenslange toewyding aan Afrikaanse kerkmusiek en kultuur getuig.

Die versameling bevat hoofsaaklik bladmusiek, insluitend oorspronklike werke in Lamprecht se eie handskrif, asook publikasies oor sy werk, foto’s en CD’s.

“Om ’n versameling soos dié in die ES-argief te huisves, is ’n reusevoorreg. Dit is nie net ’n skatkis van musiek nie, dit is ’n lewende getuienis van ’n man wat die Afrikaanse siel oor etlike dekades met toon en tempo aangeraak het,” vertel Petra Luus, argivaris van die Stigting.

Een van die betekenisvolste items in die skenking is die oorspronklike FAK-Prestigetoekenning wat Lamprecht in 1989 vir sy bydrae tot musiek ontvang het.

Lamprecht se indrukwekkende nalatenskap is reeds op verskeie geleenthede deur die FAK vereer.

Op 16 Maart het die FAK hulde gebring aan die 97-jarige talentvolle komponis en musikant en aan hom die FAK-Prestigetoekenning vir sy lewensbydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek oorhandig. Danie Langner en Chris Lamprecht tydens die oorhandiging. Foto: FAK
Van die Chris Lamprecht-gedenkwaardighede wat aan die Erfenisstigting oorhandig is. Foto: FAK

In 2016 het hy die Andrew Murray-toekenning vir gewyde musiek ontvang vir sy uitstaande bydrae tot die bevordering van Afrikaanse kerkmusiek.

Dit was die eerste keer dat dié gesogte eerbewys oorhandig is. Op 16 Maart vanjaar het die FAK weereens sy diepe waardering vir sy lewenswerk betoon deur nog ’n toekenning aan Lamprecht te oorhandig.

Lamprecht se indrukwekkende loopbaan in koor- en kerkmusiek strek oor dekades. Hy spog ook met verskeie ander toekennings en gesogte pryse wat hy al vir sy werk ontvang het.

In die FAK-Sangbundel van 1979 is 52 van sy verwerkings van volksliedjies opgeneem, asook twee splinternuwe komposisies.

Ter viering van die 50ste herdenking van die Afrikaanse Bybel in 1983, het die FAK versoek dat hy Psalm 8 as ’n koorstuk verwerk.

Volgens Barry Müller van die FAK, is Lamprecht se musiek diep gewortel in die Afrikaanse kultuur.

Müller is die nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte by die FAK.

“Sy komposisies leef in die harte van miljoene mense wêreldwyd en word daagliks geneurie, dikwels sonder dat die oorsprong daarvan besef word.

“Met hierdie skenking vier ons nie net ’n musikale nalatenskap nie, maar ook die lewe van ’n man wie se werk vandag nog mense nader aan hul Skepper bring. Chris Lamprecht is, en bly, ware volksbesit,” sê Müller.

LEES: Kabeldiefstal, misdaad en verval teister wyk

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button