Kragdag: Stede moet by boere leer
Talle kundiges het op Kragdag 2025 uitstallings gehou van hoe huisbewoners, boere en gemeenskappe in die toekoms selfvoorsienend met elektrisiteit kan word, 'n kwessie waaraan die adjunk-minister van Elektrisiteit en Energie ook lede van die Pretoria Sakekamer tydens die ekspo oor toegespreek het.
Die oplossing vir die energiekrisis lê nie net in sentrale beleidsverandering nie, maar in die daadwerklike aksies van gemeenskappe wat hul eie krag begin opwek het.
So sê Samantha Graham-Maré, adjunk-minister van Elektrisiteit en Energie wat op Kragdag, 8 Augustus, by ’n Pretoria Sakekamer-vergadering gepraat het.
Volgens Graham-Maré bied dit ’n les vir stede wat steeds sukkel om veerkragtige en volhoubare kragoplossings toe te pas.
“Stede moet nou leer by wat op plase en in dorpe reeds gebeur: gedesentraliseerde, slim energie-modelle werk mits die regte stelsels in plek is.”
Die adjunkminister het aan lede van die Sakekamer uitgelig hoe landelike inwoners wat swaar getref is deur beurtkrag en tariefverhogings, begin het om hul eie oplossings te ontwikkel: sonpanele, boorgate, hibriede stelsels, en selfs mikronetwerke. Hierdie gemeenskappe het só van nood ’n ekonomiese geleentheid gemaak.
“Dis nie meer net selfvoorsiening nie. Dis nou medeverantwoordelikheid. Hulle is nie net verbruikers nie. Hulle is nou ook produsente.”
Hoewel metrogebiede soos Kaapstad, Tshwane en Ekurhuleni begin het om die verkoop van private krag oor die netwerk moontlik te maak, bly baie ander stedelike munisipaliteite agter.
Graham-Maré het ’n visie geskets van stede waar woonbuurte, sakeparke en instellings energie deel, balanseer en verkoop: almal binne ’n plaaslike netwerk.

Sy het ook gewaarsku dat markte al hoe meer aandag gee aan die koolstofvoetspoor van produksie, selfs in stedelike nywerhede.
“Kragoplossings gaan nie net meer oor ligte aanhou nie. Dis nou ’n mededingende voordeel in globale handel.”
Die kragverandering wat aan die gang is, is volgens Graham-Maré, nie net ’n regeringsprojek nie, maar ’n grondvlakbeweging. “Dis nie abstrakte planne op papier nie. Dis ’n pakhuis vol batterye, ’n sonpaneel op ’n dak, ’n sakeman wat nie wou wag vir Eskom nie. Stede het nou die kans om aan te sluit of om agter te raak.”
Kragdag is vanjaar deur ’n rekordgetal van 32 000 besoekers bygewoon.
Die meer as 620 uitstallers op die ekspoterrein by Diamantvallei net buite Pretoria het van die jongste tegnologie tot praktiese landbou-oplossings en handgemaakte produkte uitgestal.
Op die Aquafer ATTSA-verhoog het musiek en vermaak die atmosfeer lewendig gehou, met kunstenaars wat oud en jonk vermaak het.
“Hier kom doeners bymekaar,” sê HP Steyn, besturende direkteur. “Kragdag is nie net ’n ekspo nie. Dit is ’n selfstandigheidsbeweging.”
LEES: Pretoria-skole blink uit by ATKV-Applous
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
