News

Pretoria-digters skitter tydens bekendstelling

’n Nuwe Afrikaanse digbundel bied ’n vars blik op Afrikaanse poësie. By die bekendstelling in Pretoria-oos is bekroonde digters en plaaslike talent gehuldig.

In ’n tyd waar Afrikaanse letterkunde dikwels vasval in óf akademiese kringe óf nostalgiese herverpakkings van ou stemme, kom die nuwe bundel Merang uitgegee deur Naledi as ’n vars toevoeging tot saamgestelde bundels in Afrikaans.

Hierdie splinternuwe digbundel, saamgestel deur Neil Cochrane en Alwyn Roux en uitgegee in die jaar wat Afrikaans sy 100-jarige bestaan as ’n amptelike landstaal vier, is veel meer as net nog ’n saamgestelde bundel. Dis ’n viering van Afrikaans.

Die titel, wat juis ‘fees’ beteken in Kaapse Afrikaans, is by uitstek gepas. Merang ís ’n fees van digters, een wat jou as leser nooi om deel te wees van die klanke, woorde, en emosies van digters van alle ouderdomme, plekke en taalvariante.

Die bekendstelling van die bundel is by Boekeplek & Kuierstoep in Garsfontein en die bespreking onder leiding van Ihette Senekal gehou.
Roux verduidelik daar was ’n oop uitnodiging aan digters om saam te werk aan die bundel. Sommige gevestigde digters soos Daniel Hugo en Antjie Krog het egter aangedui hulle sou nie deelneem nie.

Daar is wel van Hertzogpryswenners tot splinternuwe stemme in Afrikaans opgeneem, het Roux uitgewys. Al die gedigte in die bundel is vir die eerste keer gepubliseer.

“Inderwaarheid is dit ’n bestekopname van Afrikaanse digkuns post-Covid-19 en in ’n tyd van tegnologiese vooruitgang en klimaatkwessies,” beklemtoon Roux.

Wat Merang onderskei van vele ander bundels is juis die demokratiese aard van die samestelling. Die resultaat is ’n ryk tekstuur van meer as 300 bladsye, gevul met poësie wat eg voel.

Cochrane het tydens die bekendstelling gesê die samestelling was ‘’n kreatiewe proses wat organies plaasgevind het’.

Tematies is die bundel ’n saamgeweefde tapisserie van meer as 180 gedigte oor identiteit, politiek, liefde, verlies en die innigheid van verhoudings.

“Ek wou hê die leser moet speurder speel,” sê Cochrane.

Van die taalgebruik is Standaardafrikaans, terwyl ander gedigte Kaaps, Namakwalandse variëteite, en selfs mengvorme van Afrikaans en Engels gebruik. Dis juis dié meertalige inslag wat Merang relevant maak en bevestig Afrikaans is nie die domein van die elite nie.

Digter Gerda Taljaard-Gilson

Daar is veel stilistiese diversiteit in die bundel wat met gedigte oor taal open en met gedigte oor kunstenaarskap afsluit.

Roux erken dat hy en Cochrane af en toe gestry het oor watter gedigte wel hul weg tot die bundel moes vind, maar mekaar altyd weer halfpad kon ontmoet.

“Dit blyk die samestelling van ’n bundel, soos die skryf van ’n gedig, gaan oor die maak van keuses,” sê Roux.

Die bundel se grootste sukses lê in sy toeganklikheid én sy literêre diepte.

Die samestellers het duidelik ’n oog vir balans: styl, streek en stemme word sorgvuldig verweef. Die gedigte is vars. Hierdie varsheid kom deels van die feit dat die werk nog nie voorheen gepubliseer was nie.

Ook merkwaardig is die samestelling se sensitiwiteit rondom temas van verlies, en veral dan ook liefdesverlies.

Cochrane het ’n huldigingsgedig voorgelees vir die ontslape digters wie se werk in die bundel opgeneem is waaronder Joha van Dyk, oud-Pretoria inwoner Mellet Moll, Johann de Lange, Christiaan Diedericks en Pirow Bekker.

Onderwyser en digter Yolanda van der Mescht

Hierdie oomblikke van erkenning het bygedra tot die gevoel dat Merang nie net ’n publikasie is nie, maar ook ’n eerbetoon aan die verlede.

Met voorlesings deur gevestigde en opkomende digters soos Cobus Kruger, Johann Oppermann en Gerda Taljaard-Gilson, het gedigte tydens die bekendstelling nuwe lewe gekry.

Digters van Pretoria se voorlesings soos Mariette van Graan, Renee Marais en Maritha Broschk het veral aanklank by die gehoor gevind. ’n Oud-inwoner van Pretoria, nou woonagtig in Hong Kong en kleindogter van skrywer Ella van der Mescht, Yolanda van der Mescht, se voorlesing is ook goed ontvang.

Tydens die bekendstelling het Cochrane die unieke aard van die bundel uitgelig soos die vier ‘dokterdigters’ wat gedigte van ’n mediese aard bygedra het en dat die bundel wys dat daar ’n opbloei van vertelverse is.

LEES: ‘Vergete’ buurte ly al hoe meer onder metro-verwaarlosing

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button